Limpopo slaan toe op jaagduiwels

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die verkeerspolisie in Limpopo het Dinsdag twee jaagduiwels op die N1 vasgetrek nadat een van hulle byna 200 km/h op die snelweg gery het.

Matome Taueatsoala, woordvoerder van die departement van vervoer in die provinsie, sê die twee bestuurders is in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur nadat hulle die spoedgrens liederlik oorskry het.

Een van die bestuurders, ʼn 29-jarige man, het in sy grys Volkswagen Golf R teen ʼn spoed van 172 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery.

ʼn Ander man (42) het in ʼn blou Mazda ʼn spoed van 190 km/h bereik.

Die verkeerspolisie het die motoriste in hegtenis geneem en hulle sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Die inhegtenisnemings volg kort nadat die Gautengse verkeerspolisie ook ʼn aantal spoedvrate aangekeer het. Een van dié motoriste het teen 207 km/h in ʼn 120 km/h-sone gejaag.

“Die departement doen opnuut ʼn beroep op motoriste om die padreëls na te kom,” sê Taueatsoala.

“Dit is broodnodig vir almal om by die spoedbeperkings te hou sodat die lewe van pendelaars en ander padgebruikers gespaar word.”

Limpopo het die afgelope paar dae reeds verskeie padsterftes aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.