Limpopo-veediewe kry byna 100 jaar tronkstraf

Argieffoto

Argieffoto

Puik ondersoekwerk deur beamptes van die Tzaneen-polisiëringsgebied se veediefstaleenheid in Limpopo het daartoe gelei dat drie veediewe gesamentlik tot 96 jaar tronkstraf gevonnis is, sonder die opsie om boetes te betaal.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die veediewe is onlangs in die Tzaneen-streekshof skuldig bevind en gevonnis nadat hulle ʼn geruime tyd gemeenskapslede op plase en nedersettings in die streek geteister het. Hulle is in hegtenis geneem nadat hulle tussen Junie 2013 en September 2013 onder meer talle beeste, hoenders en bokke gesteel het.

Lesley Leshabane (35) is gesamentlik tot 7 jaar tronkstraf gevonnis vir veediefstalsake in Hoedspruit.

Andries Chauke (39) is gesamentlik tot 42 jaar tronkstraf gevonnis vir veediefstalsake in die omgewing van Maake, Modjadjiskloof, Haenertsburg en Tzaneen.

Rakubu David Mathabatha (46) is gesamentlik tot 47 jaar tronkstraf gevonnis vir veediefstalsake in die omgewing van Maake, Haenertsburg en Tzaneen.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die swaar vonnisse verwelkom en die beamptes geloof vir hul goeie werk. Hy het ook alle boere gewaarsku om veral oor die feestyd paraat te wees en na hul vee om te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

GES ·

Dit mag na swaar vonnisse klink maar hoeveel van die vonnisse is gelyklopend? Ek wil raai die veediewe gaan nie langer as 5 jaar sit nie met parool in ag geneem.

Thyskotze ·

Na paar jaar is daar nie meer plek in tronk dan gaan hulle uit op parool

John ·

Maar goed dit was nie wit veediewe wat die diere in ‘n lykswa weggery het nie… dan was die brandstapel (of steniging) sekerlik hul voorland…

JP ·

Mooiso, dit straal ‘n baie sterk boodskap uit. Sluit hulle toe!~ Hoop net hulle sit die tyd, en kom nie weer oor 4 jaar uit nie.

Ancara ·

Ek stem saam die tronke is oorvol en wat gebeur dan,dan kom dieselfde lotte maar weer los.Veral as mens daaraan dink dat die hele Afrika se mense hier in tronke sit.

Bronwyn ·

Vir veediefstal amper 50 jaar… en vir moord? 6 tot 25 jaar. Die land is een groot grap!

Pietser ·

Nie eintlik nie, dis net dat jy nie lekker weet hoe dinge werk nie.

Justice ·

Bronwyn se logiese redenasie verskil nie van myne nie – sal graag wil weet hoe dinge dan moet werk dat ons ook lekker kan weet..

Vertel ons ·

Pietser dink net hys slim, seker ook ‘n regsmannetjie under cover. As ons nie weet hoe dit werk nie, verduidelik dan vir ons hoe kry Oscar (veroordeelde moordenaar) ‘n paar jaar, en die een veedief kry 42 jaar. Ek dink ons verstaan 100% reg .. lyk my jy probeer ‘n kruppel stelsel verdedig.

Alida ·

Ai mense moenie dat julle onkunde julle mislei nie. ELKE saak maak nie saak wat dit is nie word op meriete gevonnis. Wanneer gaan julle dit verstaan. Asb kom by.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.