Limpopo veiligste provinsie landswyd, wys indeks

Limpopo

Limpopo is die veiligste provinsie in Suid-Afrika wanneer ʼn mens die lae moord-, roof met verswarende omstandighede- en kwaadwillige saakbeskadigingsyfers in ag neem.

Dit is ook die provinsie met die laagste persentasie van huishoudings wat deur misdaad geaffekteer word. Volgens IQBusiness se jongste Indeks vir Maatskaplike Vooruitgang (IMV), staan dié persentasie in die provinsie op sowat 4,8%. Daarteenoor het die indeks die stand van persoonlike veiligheid en regte in die Wes-Kaap en Gauteng die laagste geag.

Die IMV is saamgestel in samewerking met Social Progress Imperative, ʼn nie-winsgewende organisasie wat deur die Harvard-universiteit op die been gebring is.

“Veiligheid is ʼn kritieke faktor om gesondheid, vrede, regverdigheid en welstand te verseker. As mense onveilig voel, affekteer dit hulle vryheid om hul huis te verlaat, alleen te loop en vir hulself en hul families sonder vrees te sorg. Hierdie komponent is dus krities om sosiale vooruitgang in Suid-Afrika te bewerkstellig, wat tans deur die hoë vlakke van gewelddadige misdaad ondermyn word,” lui die verslag.

“Die statistieke wat verband hou met persoonlike veiligheid in die Wes-Kaap, waar die moordsyfer tans op 74,15 per 100 000 mense staan, is kommerwekkend” aldus die verslag. In die Oos-Kaap is die syfer egter nóg hoër – 80,67 moorde per 100 000 mense. Wanneer ander veiligheidsmaatstawwe in ag geneem word, is die Wes-Kaap die onveiligste provinsie in die land, lui die verslag.

Die Wes-Kaap het ook die hoogste syfers vir roof met verswarende omstandighede en kwaadwillige saakbeskadiging getoon. Vroeër die jaar is die weermag as deel van Operasie Lockdown in dié provinsie ontplooi om misdaad hier hok te slaan.

Wanneer die algehele maatstawwe van die IMV in ag geneem word – insluitend dienslewering, basiese gesondheidsorg en welstand, water en sanitasie, voeding, behuising, omgewingsorg en basiese opvoedkunde – is Gauteng en die Wes Kaap die enigste provinsies wat bo-gemiddelde lewensstandaard vir inwoners bied. Dié provinsies het onderskeidelik 68,01 en 66,70 punte uit 100 indekspunte verwerf.

Limpopo het derde beste gevaar, met 48,18 indekspunte. Dit het ook die beste gevaar in terme van behuising, met 74,1 indekspunte en 92% van die provinsie se bevolking wat in formele behuising woon.

Inwoners in die Noord-Kaap het volgens die indeks die swakste lewensgehalte, met 41,86 punte. Die provinsie het ook die laagste telling gekry wat sy basiese gesondheids- en welstanddienste betref. Die Vrystaat en Noordwes het ook baie swak volgens dié maatstaf presteer.

Met betrekking tot dienslewering van die regering trek die Oos-Kaap aan die kortste ent en het ʼn swak telling in gesondheidsorg, water en sanitasie, behuising en basiese opvoeding behaal.

Mpumalanga is as die provinsie uitgewys wat die swakste omgewingsgehalte het. Dié provinsie het slegs 8,61 punte uit die moontlike 100 gekry, wat ook die laagste telling is wat in enige van die maatstawe behaal is. Daarteenoor het die Wes-Kaap met ʼn telling van 93,69 vir omgewingsgehalte gespog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

????????????????????????????????????????????????????Ek bly in Limpopo, shame is dit iemand wat lees en oog gestrem is wat dit opgestel het

Spook op thaba ·

In 6 jr het ek net een inbraak by my huis gehad. So, ja , ek stem Limpopo redelik veilig

Lou ·

Dit het baie te doen met die oortuigings en kultuur van die plaaslike bevolking van die provinsie. Ook het Limpopo nie baie groot stede soos in die Weskaap en Gauteng nie.

m ·

Lyk my om met staistieke te kan werk hoef ‘n mens nie te kan tel nie, net kan lieg met ‘n “poker face”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.