Limpopo-vloede: “Van droogte tot oorstromings in twee weke”

Foto: Verskaf deur die Makoppa GPF

Foto: Verskaf deur die Makoppa GPF

Terwyl sommige vloedslagoffers in Limpopo begin terugkeer na hul huise nadat hulle verlede week moes ontruim, gaan boere verder oos in die provinsie steeds gebuk onder erge vloede van die Krokodilrivier.

Louis Bezuidenhout, die woordvoerder van die boerevereniging van die Makoppa-omgewing, het Maandag aan Maroela Media gesê duisende hektaar grond is al die afgelope week en ʼn half onder water. Die Makoppa-omgewing is stroomop tussen Thabazimbi en Botswana se grens geleë.

“Die hoogtepunt is tans hier by Makkopa waar die Krokodilrivier plek-plek sy walle tussen 1.5km en 2km oorstroom,” het Bezuidenhout gesê. “Dit is baie ironies, twee weke gelede het ons swaar onder droogte gebuk gegaan, nou beleef ons vloede.”

Volgens Bezuidenhout sal hulle eers oor die volgende twee weke die omvang van skade kan bepaal, wanneer die water dreineer het. “Sowat 15 boere in die Makoppa-gebied word deur die vloede geraak. Ons boer hoofsaaklik met sojabone, mielies en sonneblomme. Ons sal dan eers kan sien of die gewasse verdrink het,” het hy verduidelik.

Koos Schutte, ʼn boer van Koedoeskop wat stroomop vanaf Makoppa geleë is en die vloed se watervlakke dopgehou het, het aan Maroela Media gesê die ergste water is verby en dat alles onder beheer is. Hulle verwag dus nie dat meer water Makoppa gaan tref nie.

Bezuidenhout het gesê boere van die omgewing asook Koedoeskop en Rooibokkraal beplan om ʼn besproeiingsraad te stig wat die Krokodilrivier dophou en noukeurig met die departement van waterwese saamwerk om waterbeheer beter toe te pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.