Lindiwe Zulu se bedanking geëis

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling (Mei 2020) (Foto: Verskaf)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) meen Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, is onbevoeg om kleuterskole en sorgsentrums te ondersteun en dring daarop aan dat sy uit haar pos bedank.

Sarina Prinsloo, woordvoerder van die SOS, het gesê regter Fabricius het reeds meer as ʼn maand gelede in ʼn hofuitspraak op 6 Julie opdrag gegee dat kleuterskole onmiddellik moet heropen. “Daar is egter steeds talle kleuterskole wat nog nie kon heropen nie. Gebrek aan noodsaaklike befondsing, gebrek aan persoonlike beskermende toerusting en intimidasie deur die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) se amptenare kniehalter pogings om broodnodige sorg aan kleuters te voorsien,” het Prinsloo gesê.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se regspan het ná die hofbevel in Julie nogmaals ʼn dringende skrywe aan die DSD gerig om te eis dat kleuterskole toegelaat word om veilig te heropen. Die eis het in verskeie distrikte op dowe ore geval.

“Die SOS ondersteun dus SA Childcare se hofaansoek om intimidasie deur DSD-amptenare aan te spreek en onmiddellike uitbetaling te eis van subsidies wat reeds voor Covid-19 geallokeer is, sodat alle kleuterskole kan heropen. Die voorgenome uitbetaling van R1,3 miljard aan ‘jeugvoldoeningsmonitors’ terwyl vroeëkinderontwikkelingsentrums (VKO) nog geen subsidies van die regering ontvang het nie, word ten sterkste teengestaan.”

Prinsloo het gesê dit is duidelik dat die DSD en minister Lindiwe Zulu onbevoeg is om kleuterskole en sorgsentrums te ondersteun en geensins die welstand van kinders op die hart dra nie. “Die SOS dring daarop aan dat sy uit haar pos bedank, dat die DSD onder administrasie geplaas word en dat die proses om VKO na die departement van basiese onderwys te verskuif, bespoedig word.”

Kleuterskole verbonde aan die SOS se Kleutervereniging het tot ʼn groot mate suksesvol heropen, maar daar is talle kleuterskole wat moontlik finaal hulle deure sal moet sluit as gevolg van die onvermoë van die DSD om hulle behoorlik te ondersteun.

Die dringende hofaansoek deur SA Childcare word Vrydag aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Wys my 1 kader wat wel bevoeg is asb, want ek sien nie 1 nie…

Kobus ·

Absoluut. In enige organisasie word prestasie beoordeling gedoen en dit bepaal die werknemer se toekoms. Lyk my hoe meer pateties jou werk as minister gedoen word hoe beter is die kans dat jou pos verseker is. Ons agbare president is ruggraatloos. Wonder hoeveel in hulle poste sal aanbly as Trump ons president was

Persheks Adri ·

Hulle verwag dan nog verhogings ook nog nee genade tog! Hulle doen klaar niks nie en verwag verhogings eish…

Sarel ·

Net ‘n vraag moet die Dept. Van Onderwys nie na die skole kyk nie. Daar is Kinderhuise wat na die behoeftes van kinders moet omsien wat ,na my beskeie mening, belangriker is. Help ook.nie die Minister word elke keer vervang en onbevoegde amptenare bly agter nie.

My siening ·

Sy het baie tyd om te party maar haar werk die is sy glo so besig om niks te doen. Sy soek seker n tender.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.