Lindley-boer se seun vertel van woede, bitterheid na moord

Smith se roudiens is Saterdag gehou. Foto: Verskaf

Smith se roudiens is Saterdag gehou. Foto: Verskaf

Frans Smith, die seun van Hein Smith (77) wat op 18 Julie wreed op sy plaas buite Lindley in die Vrystaat vermoor is, sê hy is bitter en kwaad na sy pa se dood.

“Verlede week het almal gebel en SMS’e gestuur en heeltyd kos by die huis afgelewer. Nou is die begrafnis verby en jy staan verslae met die wete dat die lewe moet aangaan. Dit is bitter sleg,” het hy aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig Hein is die Sondagoggend sowat 800 meter van sy huis af in die veld gekry nadat hy die vorige nag aangeval is. Hy was slegs in ʼn frokkie en denimbroek geklee en was yskoud nadat hy die hele nag buite in die veld gelê het. Hy was erg bebloed van die ernstige wonde wat hy tydens die aanranding opgedoen het en is ook vermoedelik deur die aanvallers gebrand.

“Mense praat altyd van die brutaliteit en die wreedheid van plaasmoorde, maar glo my, jy weet nie wat brutaliteit is tot jy self jou pa in daardie toestand moes optel nie. As jy eers daai prentjie gesien het, as jy gesien het hoe daardie mens lyk, dan het jy wreedheid gesien,” het Frans gesê. “Ek weet hy is nie die eerste boer wat vermoor word nie en hy sal ook nie die laaste wees nie. Daar is ʼn absolute wetteloosheid wat in hierdie land heers en ons sit met ʼn regering wat te onbevoeg is om sy mense veilig te hou.”

Smith se roudiens is Saterdag gehou. Foto: Verskaf

Smith se roudiens is Saterdag gehou. Foto: Verskaf

Frans het gesê hy en sy gesin het voorheen oorweeg om te emigreer en daar was reeds planne in plek om moontlik na Australië te verhuis. Hy het egter besluit om te bly, omdat hy nie kans gesien het om sy pa alleen te laat nie. “Ek het gebly ter wille van my pa. Ek is sy enigste kind. My ma is sewe of agt jaar gelede oorlede. Wie sou hy bel as hy moeilikheid gehad het? Hy het ook ouer geraak en ek is al wat hy gehad het. Daar is nie ander familie nie,” het hy gesê.

Hy glo egter dat Suid-Afrika naby aan totale anargie is. “Ons het ʼn president wat bo die wet is. Hy maak soos hy wil en die regering maak soos hulle wil. Hoeveel te meer sal die gepeupel dan nou nie maak soos hulle wil nie?,” het hy gesê.

“Almal praat van die boere wat so vermoor word, maar dit geld vir alle gemeenskappe. Dit is nie reg dat boere vermoor word nie, net soos dit nie reg is dat ʼn ou in ʼn plakkershut vermoor word of iemand in ʼn veiligheidskompleks vermoor word nie. Almal moet veilig wees! Maar die regering faal in sy taak om die mense te beskerm, net soos die regering in absoluut alles faal wat hy moet doen. Hier gaan f*kk*l van hierdie land oorbly.”

Frans het gesê hy sal graag sy pa se moordenaar in die oë wil kyk indien hy in hegtenis geneem word, maar hy twyfel of hy kans sien om die hele hofsaak by te woon. “Dit is bitter moeilik, want ek weet ek moet aangaan. Ek moet my hart bewaar anders gaan hy [die moordenaar] my lewendig doodmaak,” het hy gesê.

“God sal my help. Hy is die enigste wat my hierdeur kan kry. En Hy is die enigste een wat hierdie land sal kan red, maar ons sal moet terugdraai na God.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor Hein Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Se Maar Net ·

Frans, ek stem saam met jou. En ek kan myself net indink waardeur jy en jou gesin gaan. Hierdie woorde het jy die afgelope tyd uit meer as een persoon gehoor. Maar ek bid vir jou en ook so ons almal in hierdie land. Baie sterkte vir julle. En soos jy se in die land word sy burgers nie belangrik geag om veilig gehou te word nie. Boere is teikens en ook so ons in die stede.
Vrae word gevra, mense word daagliks wreed vermoor, hulle word geroof. En soos jy vra , wanneer gaan dit end kry? Die probleem le in hierdie land by die toepassing van die wette. Want ‘n wet is net soveel werd soos die toepassing daarvan. En ons almal weet wat daagliks in die land aangaan……

Kathleen ·

Frans ek stem saam met jou. Hierdie land is in sy maai in. Maar soos jy se ons moet vertrou op God, hy sal jou en jou gesin deur hierdie hartseer dra. Ons moet net glo en vertrou. Sterkte aan jou en jou gesin.

Hannelie ·

Frans my hart gaan uit na jou. As dit met my moes gebeur het….ek sou soveel haat in my gehad het! Dis hoekom ons land soveel haat het ons kan nie teen dit stry nie Ons land sal NOOIT ooit regkom. Want ons kamstige regering en sy anargie beskerm elke moordenaar in hierdie land. Ek kan my nie indink waardeer jy gaan nie, ek kan vir jou bid dat God jou sal dra in hierdie seer tyd. Vir ons land kan ons bid maar die fout le by die president en sy kabinet. Solank hulle veilig is….wie gee om. Sterkte Frans

Theresa ·

Frans, mag die Skepper jou dra in hierdie tyd – dit moet baie, baie moeilik wees.
Die onregverdighede en ongeregtighede wat in hierdie land van ons toegelaat word, SAL nog gestraf word. Die Here sal dit nooit ongestraf laat nie. Weet egter dat daar duisende mense is wat vir jou bid en regtig hoop my krag en seen van God sal ontvang wat jou kan versterk.

Saar ·

Hein, ek glo dit is nie mooi om jou ouer so te sien nie, ek glo ‘n mens sal ‘n dier nie eers so wil sien nie.
Baie jammer vir julle verlies, God sal hulle almal knak…

david ras ·

Frans ek weet presies waardeur jy gaan. Ek het self ook daardie paadjie geloop.
Geen mens wat nog nie daardeur is nie weet wat se emosies by mens opkom nie.
Ek het my pa se moodenaar in die oe gekyk, ek was minder as ‘n meter van hom af in die hof.
Verder se ek liewer niks nie……..
Sterkte vir jou, ek glo die allerhoogste sal jou hierdeur dra

Johann Marx ·

Teveel kommentare stel dit dat God of die Here hierdie gemors sal uitsorteer….Niemand gaan dit uitsorteer nie. Ons het dit self gemaak, en ons sal dit self moet oplos, of daarmee saamleef. Baie mense voel die doodstraf moet terug….en dit kan, maar nie op die manier waarop ons tans dink nie. Ons moet fokus op wat ons het om mee te werk, naamlik die konstitusie. Elke “reg” in ons konstitusie word gebalanseer met ‘n “verpligting” vir die individu wat daardie reg wil op-eis. Elke reg word so gebalanseer behalwe die “reg tot lewe”. Dit behoort in ‘n ware demokratiese bestel gebalanseer te word met die “reg om nie te lewe nie”, en jou gedrag teenoor jou medemens behoort jou keuse in hierdie verband uit te wys. As jy “kies” om ‘n moord te pleeg, behoort dit ‘n duidelike teken vir die konstitusionele hof te wees dat jy deur jou dade die “reg om nie te lewe nie” ook kies….en jy behoort dan op eg demokratiese wyse nog VYF keuses te kry, nl. galg, gaskamer, elektriese stoel, vuurpeleton of dodelike inspuiting. ‘n Onafhanklike kontrakteur behoort jou by te staan in die uitvoering van jou keuse, en die koste daarvan is vir jou boedel. Ek het ‘n voorlegging geskryf wat, deur die “reg om NIE te lewe NIE” aan elke Suid Afrikaner beskikbaar te stel, AL die argumente van die regering waarom die “doodstraf” nie toegepas behoort te word nie, suksesvol antwoord. Met die “reg om NIE te lewe NIE” hoef niemand jou te “veroordeel” of te “straf” nie, jy KIES die uitkoms van jou eie lewe soos bepaal deur jou dade. Niemand sal “per ongeluk” tereggestel word as daar enigsens twyfel is oor sy of haar aksies nie. My voorstel gee selfs vir die naasbestaandes die geleentheid om “vergifnis” uit te leef, op voorwaarde dat hulle dan die koste dra van lewenslange tronkstraf as alternatief vir die “oortreder” se keuses. Nou moet ons net genoeg Suid Afrikaners by mekaar kry om hierdie inisiatief op ‘n eg demokratiese manier tot uiting te bring….As jy aan hierdie proses wil deelneem, of ‘n inset wil lewer, ek is by [email protected]. Deur saam te staan, sal ons verandering teweeg bring. Ons kan nie langer vir die regering of die Here wag nie….God het ons die wysheid en insig gegee om hierdie gemors op te ruim. Hoe gouer ons aan hierdie opdrag gehoor gegee en ‘n begin maak, hoe gouer sal dit beter gaan met hierdie nasie.

annette ·

Johann, beter as dit kan niemand dit stel nie behalwe net dit, ons sal moet God vertrou om ons deur hierdie drif te trek en die Antichrist beveg met ons God aan ons kant.

SNEL ·

Dis vreeslik om die berig te lees, ek sou presies ook so gevoel het, die haat in mens oor dit wat hulle jou geliefde ouer aangedoen het. Baie sterkte, mag die Here jou (julle) dra en krag gee om hierdeur te kom.

Frans, ek wil net iets noem, ek weet verseker dit gaan nie nou gebeur nie, maar vra God om jou te help. Moet nie dat die skurk jou van die Ewigheid beroof nie, die Bybel sê; as ons nie vergewe nie, kan God ons sondes ook nie vergewe nie. Dis woorde wat sny soos n mens in n tyd soos nou, maar bid en laat tyd sy werk doen. Hou dit net in jou agterkop. Ek het nou die dag n berig gelees van n vrou wat haar aanvaller vergewe het, en ek weet ook nie hoe mens dit doen nie, maar met gebed is alles moontlik en die Ewigheid is n kosbare prys wat ons kan kry. Hardloop die wedloop met volharding, ons almal val en lê soms vir lang tye, maar solank ons net weer opstaan. Baie sterkte.

Riana ·

Frans, ek stap DIE pad sedert einde Maart 2014, toe my ma in haar huis vermoor is. As Jy nog nie die pad gekoop het nie, verstaan Jy GEEN van die emosies, haat, verbittering en pyn nie. Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, aanvaar dit! As Jy nog die kans het om na Australie te gaan…. Doen dit! Ek kan vir jou geen slim rad of verdere bemoediging gee nie…. Net dit….. Hou VAS aan God vir vertroosting. Daar is twee home in jou lewe….een van haat en verbittering, dan een van jou geloof…… Besluit self watter een Jy op die langtermyn gaan water gee? Baie Baie Sterkte met die seer pad wat Jy en jou gesin nou stap. Groete uit South Oxfordshire, UK

Nandi ·

Ek kan myself nie indink hoe jy moet voel nie Frans en jy is reg, ons regering het hierdie land gefaal. Ek warrie oor ons kinders wat nog moet groot word. Wat gaan van ons word! Ek glo Ons Vader stap saam met jou hierdie hartseer pad net soos met elke een wat hierdie pad elke dag moet stap. Die Here slaap nie!! Hy sien ons leiding en vrese. Hy sien ons pyn en seer kry. Bly sterk staan!! Ons het n Groter Hand agter ons as enige regering wat ons land wil vernietig. Sterkte aan jou en jou gesin!!

Sandra ·

Sjoe my hart wil breuk. Die feite is op die tafel en ja, die mense aan bewind is ongbevoeg om te doen wat gedoen moet word. Hulle is te besig om hulle self te verrryk en hulle aanhangers is te onnosel om te sien hulle lei honger.

Belinda Schoeman ·

Die Regering is onbevoeg om sy Ras, ouderdom, klas en Nasionaliteit te beskerm. Hartseer nog is dat van die mense omstandighede aanvaar omdat hul in n “comfort zone” leef en hulself oortuig dat omstandighede in SA onveranderd is, desnieteenstaande ken hulle nie hartseer en brutalititeit nie. Maak oop julle oe en kyk hoe lyk dit as Ras, klas, ouderdom en verskeie Nasionaliteite in harmonie saamleef! Ek glo dat ons Hemelse Vader elke tree met jou deur die seer sal stap. Groete uit Oz.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.