Lindley-plaasmoord: ‘Hy sou nooit iemand kwaad aandoen nie’

Dr. Hein Smith. Foto: Verskaf

Dr. Hein Smith. Foto: Verskaf

Hein Smith (77), die boer wat dood is nadat hy op sy plaas buite Lindley in die Vrystaat aangerand is, was ʼn intelligente, opgewekte mens wat niemand ooit kwaad aangedoen het nie.

Só het Abrie Beukes, Smith se buurman en jare lange vriend, die boer en voormalige mediese dokter beskryf. Maroela Media het vroeër berig Smith is Sondagoggend buite sy huis gekry nadat hy Saterdagaand deur gewapende rowers in sy huis oorval is. Hy was ernstig beseer en is met sy aankoms by die Bethlehem Mediclinic dood.

Beukes het Maandag aan Maroela Media gesê die gemeenskap het onraad gemerk toe Smith se bakkie sowat 10 km van sy huis af verlate en sonder die sleutel gevind is. Beukes is omstreeks 07:00 na Smith se huis om ondersoek in te stel.

“Toe ek by die huis inloop, was alles omgekrap en deurmekaar. Dit was chaos,” het Beukes gesê. “Ek het my vrou gebel om Hein se seun, Frans, te bel en te sê hulle moet kom. Daarna het ek die polisie gebel en vir hulle gesê hier is groot fout.”

Ander inwoners van die omgewing het na die huis toe gekom om te help met die soektog en hulle het by die bakkie begin soek wat buite die plaas gevind is. “Ons het die fout gemaak om te dink dat hulle hom êrens langs die pad by die bakkie uit gegooi het. Ons het hom uiteindelik so 800 meter van die huis af in die veld gekry.”

Volgens Beukes was Smith bebloed met erge wonde aan sy hande, arms en voete. “Die polisie het later gesê dit lyk asof die rowers hom gebrand het, maar daar was te veel bloed vir my om regtig te kan sien,” het hy gesê. “Hy het net ʼn frokkie en ʼn denimbroek aangehad en hy was yskoud nadat hy die hele nag in die veld gelê het. Hy het nog gelewe, maar kon net sulke kreungeluide maak. Ek dink hy was reeds op daardie oomblik naby sy einde.”

Beukes het gesê hy het Smith se een foksterriër gekry waar hy agter ʼn toilet weggekruip het, terwyl sy ander foksterriër en skaaphond in die veld opgespoor is. “Die honde was heeltemal verward en getraumatiseerd. Jy kon sien daar het iets met hulle gebeur,” het hy gesê.

Hy vertel dat hy Vrydagaand die laaste keer met Smith gepraat het toe hy by hom en sy vrou, Rita, kom eet het. “Hy het elke Vrydagaand by ons kom eet, dan het ons Koöperasiestories gekyk en ʼn rooiwyntjie gedrink. Hy was ʼn liewe mens wat nooit enigiemand kwaad sou aandoen nie. Sy vrou is sowat vyf jaar gelede oorlede en sedert haar dood het hy alleen gebly. Sy seun en skoondogter woon op Ficksburg.”

Smith was voorheen ʼn mediese dokter, maar het die afgelope paar jaar voltyds met Drakensberger-koeie geboer. ʼn Gedenkdiens sal moontlik Vrydag vir hom gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

susan meintjes ·

Die hoekoms + waaroms in die lewe deesdae in ons SUID-AFRIKA!! Hoekom die kriminele altyd sulke goedhartige mense in die kollig plaas,martel + vermoor sal ons as blanke nasie seker nooit ooit verstaan nie!!!MAG GOD HOM MET OOP ARMS ONTVANG HET NADAT HY NET GOED WAS VIR SY MEDE-MENS OP AARDE!!!

Gesie ·

Om hierdie geweldenaars varke te noem, is ‘n belediging vir hierdie diere!

sureta loggenberg ·

Ai my hart gaan uit na al die familie en vriende wat mense op so tragiese manier moet verloor! Al wat ek kan se en WEET! Die boere raak nou moeg vir al die aanvalle op hulle mense. As daar ‘n geval is waar mense die gereg in hulle eie hande neem om hulle geliefdes en dierbares te beskerm…………ek blameer julle glad nie!

Johan 2 ·

Christa, klink goed maar op Fouriesburg is mense al gearesteer vir “rig van vuurwapen” omdat hul met n wapen op hul plaas geloop het, n ander is van poging tot moord aangekla oor n skoot inie grond, die lys gaan aan…die vyhand het ons van alle kante sister, ek weet nie meer nie. Ja die boeregemeenskap is sat daarvoor maar die regering sê niks, waar laat dit ons!

Frik Lotz ·

Plaasaanvalle en plaasmoorde raak al hoe meer en het lankal handuit geruk. Dis tyd dat ons opstaan en iets begin doen, want so kan dit nie aangaan nie. Genoeg is nou genoeg!

Winston ·

Ja. Nog n treurenswaardige plaasmoord op n mens wat iets werd was vir die land en samelewing. Dis tragies. Soos reeds gesê, as jy net beweeg om jouself te beskerm, word jy die beskuldigde. Hierdie is maar net misdaad? NEE Dis direkte beplande moorde op wit bejaardes wat hulleself nie kan verdedig nie, deur staats ondersteunde lafaards. Dit kan eenvoudig nie so aangaan nie. Is ons dan net so lafhartig om net te sien en niks te doen nie?

Jelly Bean ·

Ai nog ‘n hartseer baie hartseer plaasmoord! Asb moenie dat daar meer oumensies so op plase alleen bly nie, verkoop die plaas of kry ‘n jong dapper plaasbestuurder, dra julle vuurwapens 24/7 by julle kry honde wat opgelei is vir sulke aanvale, dra ‘n panic remote by julle!!!! En wees altyd op en wakker ek weet dis die boere se grond maar met die nuwe SA moet ons almal elke oomblik wakker wees!!! Sterkte aan daai Familie en Vriende en Oompies RIV

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.