Lise Brink: ‘Ek gun my kinders die hemel’

danie-lise-brink1Ek vra om vir Lise Brink te sien. Die verpleegster huiwer. “Hulle laat nie eintlik mense by haar toe nie,” sê sy. “Laat ek net eers gaan hoor.”

Lise is steeds in afsondering toe ek by haar gaan kuier. Ek los my handsak, opnemer, selfoon, notaboek en pen in ʼn toesluitkassie in die gang. Ontsmet my hande, trek ʼn oorjas en voorskoot en handskoene aan. Ek pantser my vir een van die moeilikste onderhoude van my lewe. Dié onderhoud gaan ek met my hart moet doen. Ek gaan haar in die oë moet kyk. Niks om mee te vroetel nie.

Dis duidelik dat die span dokters wat by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion waar Lise versorg word, geen kanse neem met haar gesondheid nie. Daarvoor was sy te siek en is haar liggaam nog te broos ná al die skokke van die afgelope ses weke: die trauma van ʼn motorongeluk waarin sy twee van haar kinders verloor het; die amputasie van haar been; ernstige longontsteking; die verwydering van haar galblaas en ʼn kaak-operasie.

Danie waak beskermend langs haar bed toe ek instap. Hy is die besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, ʼn organisasie wat al duisende lewens aangeraak het. Maar hier is hy net ʼn pappa, nou van drie kinders, en Lise se man.

Die vrou in die bed is klein en maer. Net aan die helderblou oë herken ek vir Lise.

“Ai, verskoon hoe ek lyk,” sê sy. “Hulle het my hare in ICU afgesny – ek weet nie eens wie nie.” Sy vat selfbewus aan die letsel op haar voorkop; vryf oor die geel swelling oor haar kakebeen. Haar hare stomp afgesny deur iemand wat lewensnoodsaaklike mediese sorg belangriker geag het as ʼn byderwetse haarstyl.

Hoe gaan dit, vra ek. Ek is dadelik spyt oor my vraag. Sy antwoord ook nie, sê eerder dankie vir die rose.

Wat vra ʼn mens?

Dan praat sy self.

“Die Here het twee van my kinders gevat,” sê sy. Haar gesig vertrek. “Hy het hulle weggevat. Dit was sy wil. Ek het nie meer vyf kinders nie, ek het nou net drie.”

Sy trek die boks snesies nader.

“Ekskuus dat ek huil,” sê sy en kyk pleitend na Danie se kant toe. Hy glimlag bemoedigend. “Ek het my voorgeneem om professioneel wees.” Sy sit die boks snesies op haar maag neer en bedink haar dan, skuif dit oor na my kant toe. “Kry vir jou,” bied sy aan.

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Oor die hemel

ʼn Week voor André se dood het hy en sy nefie saam deur die boek Heaven is for Real geblaai.

“Ek wil hemel toe gaan,” het André beslis verklaar.

ʼn Week later het sy wens waar geword.

“As ons terug is by die huis, gaan ons ʼn studie maak van die hemel,” sê Lise. “Ek wil weet presies hoe lyk die hemel en wat gebeur daar. Ek wil alles lees wat die Woord oor die hemel sê. Ek wil weet wat doen my kinders nou.”

Is sy kwaad vir God?

Sy dink ʼn bietjie.

“Nee wat. Waaroor sal ek vir Hom kwaad wees?” Haar stem is vol berusting. “Ek is hartseer omdat ek hulle verskriklik mis en na hulle verlang. Maar hulle is in die hemel. Hoe kan ek hulle dit nie gun nie?” Die trane loop weer. “Die Here wéét wat Hy doen. Hy wéét, en ek bevraagteken Hom nie.”

Sy dink eers weer.

“Eintlik was Hy hulle baie genadig,” sê sy dan. “Hy het hulle gespaar van die tienerjare wat voorgelê het.” Dit klink na ʼn grappie, maar sy is doodernstig. “Ek het geweet dit kom; dis moeilik vir ʼn kind. Nou hoef hulle nooit daardeur te gaan nie. Is dit nie eintlik wonderlik nie? Kyk hoe goed is die Here vir ons.”

Sy blaas haar neus.

“Jy is mos ook ʼn mamma?” vra sy. Haar blou oë wys sy stel regtig belang.

“Ja, ons het tweetjies,” sê ek. “Ons dogtertjie is tien en ons seuntjie word vanjaar agt.”

“Ons het nou vir Mieke; sy is vyftien. André was twaalf, maar hy is dood. En dan Johan; en Rachel was ook agt. En Daniël. Nou is daar agt jaar verskil tussen die jongste tweetjies.”

Ek hou haar hand vas. Sy druk my hand. Met die ander hand vryf en vryf sy oor myne, asof sy haarself só kan troos.

“Ek probeer onthou wanneer was die laaste keer wat ek vir André en Rachel gesê het ek is lief vir hulle,” sê sy. “Was dit die laaste dag? Of ʼn paar dae of ʼn week voor die ongeluk? Ek kan nie onthou nie. Ek wonder heeltyd of hulle weet ek is lief vir hulle.”

Danie en Lise Brink.

Danie en Lise Brink.

Die eerste ses weke

Sy kan niks onthou van die eerste maand toe sy in ʼn koma, en daarna in ʼn geïnduseerde koma was nie, vertel sy. “Ek is nou eers ʼn week en ʼn half wakker. Van wat gebeur het van die ongeluk tot die dag wat ek wakker geword het, kan ek niks onthou nie. Danie lees vir my so stuk-stuk die boodskappe wat hy ná die ongeluk vir ander mense gestuur het, sodat ek die hele prentjie kan kry. Ek het nie eens geweet toe hulle my been amputeer nie. Al die wonderwerke waarvoor mense gebid het, het met my liggaam gebeur terwyl ek in ʼn koma was.”

Terwyl sy in ʼn koma was, het haar rug sodanig herstel dat die rugfusie wat aanvanklik onvermydelik gelyk het, nie meer nodig was nie. Ook haar gebreekte arm het wonderbaarlik herstel.

“Ek gaan weer loop,” sê sy, saaklik. “Ek wil terug wees by die huis en aangaan met my kinders se skoolwerk. Ek wil vir my man kosmaak. Ek wil opstaan en lóóp. My kinders het ʼn boetie en ʼn sussie verloor. Kan jy dink hoe seer is hulle harte? Ek wil hulle troos. Ek wil my man troos.”

Die kinders se hospitaalbesoeke, wat maar van onlangs af eers toegelaat is, is vir haar ʼn hoogtepunt,  “vitamiene B(rink)” soos Danie dit noem.

“Ek is so bly elke keer as hulle kom kuier,” sê sy. “Daniël [2] was aanvanklik vreemd vir my. Vir vier en ʼn half weke ná die ongeluk was ander mense skielik sy primêre versorgers. Toe hy my die eerste keer sien, was my hare afgeskeer en my gesig vol merke. Boonop was die hospitaal ʼn vreemde omgewing. Hy begin die afgelope paar dae eers weer tuis raak met my. So twee dae gelede het hy agtergekom ek het net een been. Toe is ek van voor af vir hom vreemd. Hy moet nou weer gewoond raak aan hierdie nuwe mamma met die een been wat nie meer alles kan doen wat sy altyd gedoen het nie.”

Daar is geen “as ek maar’s” wanneer sy aan André en Rachel dink nie.

“Hulle was twee sonstraaltjies op aarde. Hulle het die Here liefgehad en geken, en dis die belangrikste; die grootste geskenk wat ek vir hulle kon gee,” sê sy. “Ek het hulle vertel dat ek lief is vir hulle, soveel as wat ek kon. Maar ek het hulle ook gedissiplineer, want dis ook liefde.”

En dis wat hulle gaan aanhou doen met Mieke, Johan en Daniël. “Ons doen nie die ander drietjies ʼn guns deur hulle in watte toe te draai en op te hou om grense te stel nie.”

“Daar is dalk waarskynlik baie kinders reg oor die land wat die afgelope vakansie ʼn bietjie te sag behandel is omdat dit wat met ons gebeur het, hul ouers se harte geraak het,” sê Danie. “Almal vertel dat hulle skielik geduldiger en meer verdraagsaam met hulle kinders is. Dis goed, maar dissipline is ook nodig as jy lief is vir jou kinders.”

Lise lag. “Jy ís nogal kwaai as jy en die kinders hier kuier,” sê sy vir hom.

“Is ek?” Hy lag saam. Dan raak hy weer ernstig. “Maar dit help nie ons gooi nou alles oorboord nie.”

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Die pad vorentoe

Ons gesels oor die Hardloop vir Lise-fondsinsamelingsveldtog wat volgende week afskop – ʼn veldtog waarmee die publiek genooi word om op 4 Maart vanjaar die Medihelp Sunrise Monster te hardloop, en só geld in te samel vir Lise se prostese. Met die prostese van sowat R480 000 sal Lise haar man se draf-“buddy” kan wees; dalk self oor ʼn paar jaar die Sunrise Monster kan hardloop. Of selfs die Bo-Karoo-uithouwedren – ʼn wedren waarvan Danie een van die stigters was.

“Jy moet verstaan,” sê sy, “om te hardloop is nou laaste op my lysie. My standaarde is baie laag. Al wat ek wil doen, is lewe. Ek wil in die tuin sit saam met my kinders, en vra of hulle oukei is. Ek wil daar wees vir my maatjie.” Sy en Danie kyk vir mekaar. Ek kyk weg. “Hy kry swaar.”

“Het ek jou vertel?” onthou sy skielik na sy kant toe. “Ek het vandag ʼn tree geloop met die loopraam! Eintlik gehop,” sê sy en glimlag vir my.

Een van die dae, as sy kan loop en as al vier dokters wat na haar omsien tevrede is met haar gesondheid, kan sy oorgeplaas word na ʼn herstelkliniek waar sy terapie sal kry tot sy sterk genoeg is om huis toe te gaan. Dan lê die lang pad van die maak van ʼn prostese en die terapie om daarmee te kan loop, nog voor. En die vredemaak met ʼn huis wat stiller is; twee leë plekke in die tuisskool en aan die etenstafel.

Maar nou moet sy net eers weer loop, sê sy.

Rustig wees, maan Danie. Herstel eers. Maar Lise is ongeduldig. “Ek is móég vir die hospitaal, móég vir siekwees,” sê sy. “Ek wil gesond wees. Ek wil by my huis en my kinders en my man wees.”

“Jy moet sien hoe hard oefen sy,” sê Danie trots, “sommer net hier in die bed.”

Die Medihelp Sunrise Monster, waarmee die Hardloop vir Lise-projek afgeskop word, loop reg voor die Brinks se huis in Groenkloof verby. Dis glo regtig ʼn monster van ʼn wedloop.

“Dit is, ja,” sê Danie. “Daardie opdraande in Lovedaystraat is glo die steilste in Pretoria. En sodra jy bo is, moet jy weer af, en dan weer op.”

“Gaan jy saam hardloop?” vra Lise vir hom.

“Nee wat, my liefie,” sê hy en gee haar arm ʼn drukkie. “Vanjaar gaan ek saam met jou in die tuin sit en koffie drink en kyk hoe ander mense hardloop.”

Dis dalk gepas: die steil opdraande wat voorlê, die sweet en trane om bo uit te kom. Elke spier wat pyn. En dan die terugkyk as jy bo kom, die wete dat daar nie omdraaikans is nie. Die rukkie se rus voor jy die volgende bult moet aandurf. Maar ook die wete dat daar iewers voor ʼn einde is. ʼn Wenstreep waar Lise se kinders vir haar wag.

  • Wil jy help? Besoek hardloopvirlise.co.za om uit te vind hoe jy vir die Medihelp Sunrise Monster kan inskryf, of hoe jy die #hardloopvirlise-projek op ander maniere kan ondersteun.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Elize ·

Sjoe…danie en Lise baie sterkte vir die vorentoe.julle twee is werkik n inspirasie vir baie van ons. Mag ons Hemelse Vader julle baie baie styf vashou teen Sy boesem. Ons bid en dink so aan julle tweetjies.

Sê maar net ·

Lise. Jy is vir ons almal ‘n insperasie en voorbeeld.

Skarnier ·

Susan as ek sien wie die berig geskryf het, sit ek als neer en maak my kantoirdeur toe. Jy wie ook van die begin daar was vir Brink gesin. Jy wie self jou hartseer moes wegsteek voor ander mense en onselfsugtig vir ons die publiek getrou verslae gegee het hoe dit gaan op facebook. Danie sal nog eendag hoor hoe jy hom soos n wag beskerm het teen die aanslae. Lise was sooo bevoorreg om iemand soos jy vol deernis die onderhoud te doen. Nie n persoon wie net inlugting soek, maar werklik omgee. Die dag toe ek goed kom afgee speel die donkerkop op gras buite kantoor mt n Golden Retriever. Gedink wat n wonderlike mensie en vlg oomblik groet jy my en toe besef ek dis jy.

Nella ·

Lise trane is gemaak om die hart skoon te was. Ek bid vir jougesondheid, sterkte en kalmte toe. Jy is n groot rolmodel vir soveel van ons.

Hannelie ·

My hart is so seer vir hierdie moedige vrou en ma. Ons kla so onnodige oor onbenulighede. Maar sy gaan opstaan en sy gaan weer loop en daar wees vir haar man en kinders. Ek bewonder jou Lise jou deursettingsvermoë. God het geweet om jou sterk te maak om hierdeur te kom. Sterkte met jou herstelproses vorentoe en mag Hy jul as gesin vashou in hierdie onbekende pad vorentoe.

Stefanie Walters ·

Ek het gewag vir hierdie onderhoud. Ek haal my hoed af vir jou met hierdie onderhoud en wil net vir jou sê jy het dit verskriklik mooi benader en deurgegee aan ons. Ek bid steeds vir Lise en elk mamma huil saam met haar. Kan nie eers dit indink nie.

Tertia ·

Danie en Lise is my sussie se bure. My ma kan nie uitgepraat raak oor hoe vriendelik en goed gemanierd die kinders is. Sy het altyd met hulle gesels oor die heining. Julle kan trots wees op julle opvoedingstaak!

Liza ·

Puik geskryf Susan! Dit is ‘n lang pad wat voorle vir hierdie gesin, baie sterkte. ‘n Paar kamers van Lise af le my beste vriendin….ook in isolasie…..maar ons weet dat sy nie daar gaan uitkom nie….die dokters en verpleegpersoneel hou haar net gemaklik….sy gaan ook hemel toe ons weet nog net nie wanneer nie….ons kyk nie meer agtertoe nie, ons kyk nie meer vorentoe nie. ons kyk net op…..

Anton ·

Lise jou vasberadenheid ten spyte van julle verliese het my onwillekeurig laat dink aan die verhale van die vroue wat deel was van die Groot Trek. Baie sterkte met die herstelpad vir julle hele gesin.

Annelize ·

Ek lees julle verhaal en vir my is julle so dapper. Ek wil graag vir jou sê Lise, jy is steeds ‘n Mamma met 5 kinders, 2 is net in die hemel en 3 op aarde. Jy sal altyd hulle Mamma wees. Baie sterkte en liefde.

Franza ·

Dis so waar….. Ek is en bly ‘n ma van vier waaarvan die jongste, nou 35, vir die laaste twee jaar en tien maande in die hemel is.

lw ·

Baie goeie artikel en ek huil saam met julle. Julle openbaar n mooi gesindheid met jul Christenskap en diep verhouding met die Here. Julle bemoedig soveel om julle.

Kiepie ·

In sy boek “Tuesdays with Morrie” oor die lewe van Morrie Schwartz skryf Mitch Albom “death is the end of a life but not the end of a relationship”. Hulle sal altyd in julle harte bly voorleef. Sterkte.

afrikaans ·

Soooooo mooi… ek kon my trane nie keer nie. God sal u en u gesin deurdra. U antwoorde Lise laat vir my baie ver dink. Seëninge vir u en die familie Lise Brink. Lief julle baie

afrikaans ·

Dis baie, baie mooi en so leersaam….Dankie Lise voorbeeld vir my as ma….ek moes my trane sluk. God sal u altyd deurdra…..want jy Lise Brink is God se kind. Lief die Brink familie uit my hart. Ken net van berigte in koerante x x x x x

ina de bruyn ·

Danie en Lise toe my kind dood is het ek gedink dit is die ergste wat kan gebeur.Dit was voordat ek julle “ontmoet”het.Om 2 kinders en jou been te verloor is verskriklik erg.Julle laat my elke dag met nuwe moed opstaan.Julle verhaal het n groter inpak op menige lewe gehad.My gebede sal aanhou vir julle.Liefdegroete

Helene ·

Susan , hierdie was die aandoenlikste onderhoud wat jy nog gevoer het? Mens ek is so bly dat dit jy was wat met Lise Brink gesels het. Dit is verseker n onderhoud wat nog jare saam met jou sal bly. Maar, nietemin is ons baie dankbaar vir Lise se herstel en die durf wat sy aan die dag le om gesond te wil word om man en kinders te kan versorg. Dankie Susan dat jy ons n kykie gegee het van n liggaamlike gebroke mens met n hart vol liefde en Vrede. Dankie Maroela!

Martie Joubert ·

Susan Lombaard, een van die treffendste en deernisvolste onderhoude wat ek in n lang tyd gelees het. Dankie dat jy met deernis, liefde, respek en styl baie kosbare gedagtes vasgepen het. Spoedige beterskap Lise.

Elize T ·

Wow! Puik hart-skryfwerk hierdie Susan! Ons bid saam vir krag van God vir Lise en haar gesin.

Ila Dykema ·

Ons as gesin bid vir julle,hou nagmaal vir julle.Lees ook van die krag van hierdie gebede van mense vir julle-laat my dink aan die teksvers(Jakobus 5: 16 -the earnest(hearfelt,continued prayers of the righteous avails much. .Julle liefde vir mekaar(ook as man en vrou)getuig teenoor die wereld.Ons harte was so seer saam met julle.Sterkte en liefde,die Dykemas.

alta williams ·

Pragtige stukkie…sterkte aan die Brinks..dink baie aan hulle en bid vir hulle..en dan bid ek…Kom Here Jesus dat almal wat treur oor geliefdes weer saam kan wees…

Rachel Watson ·

“Ek gun hul die Hemel” ..die mooiste, sterkste en mees troostende woorde ooit.
Ek dink aan julle, so baie. Sterkte

Charlotte ·

Susan, ek kan dink hierdie was ‘n moeilike onderhoud, Geluk – jy het dit met deernis gedoen. Lise, jy is ‘n inspirasie vir elke vrou en ma. Mag jy elke dag beleef hoe die Here jou toevou met Sy Liefde. Sterkte!

Rikku ·

Susan dankie vir die deernisvolle onderhoud wat jy met Lise gevoer het.
Jy kon dit nie met meer Resep en Liefde gedoen het nie.
Ek het my hart nou sit en uithuil.
Mag Ons Dierbare Vader Sy Hande om die Familie hou en beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.