Lise Brink ‘ernstig maar stabiel’ ná amputasie, ondersteuningsgroep gestig

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke

Lise Brink, die vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, se toestand is ernstig maar stabiel nadat ʼn gedeelte van haar linkerbeen Woensdag noodgedwonge geamputeer moes word ná ʼn noodlottige motorongeluk waarin twee van die egpaar se kinders dood is.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit wat as familiewoordvoerder optree, het Donderdag aan Maroela Media gesê Lise was stabiel deur die nag en dat hulle baie dankbaar daarvoor is.

Daar is Dinsdag in die Unitas-hospitaal in Centurion gevind Lise het akute kompartement-sindroom in haar been. Dit het geweldig hoë druk veroorsaak, wat bloedsomloop na die spiere en weefsel belemmer. Sy is Woensdag weer ondersoek en daar is besluit om ʼn gedeelte van haar been te amputeer. Sy het die operasie Woensdagmiddag ondergaan. Hoewel die operasie goed afgeloop het, was Lise in ʼn kritieke toestand weens al die beserings wat sy in die ongeluk opgedoen het. Sy het onder meer ernstige kopbeserings, breuke aan haar linkerarm en ʼn ontwrigte linkerknie opgedoen.

“Enige operasie het ʼn ingryping op ʼn mens se liggaam en ons was bekommerd oor gister [Woensdag] se terugslag. Ons kan vandag met dankbaarheid sê dat haar toestand stabiel is, maar steeds ernstig.”

Hermann het gesê vandat Lise vandeesweek by die hoësorgeenheid van die Unitas-hospitaal opgeneem is, is daar vasgestel dat sy onder meer ook ʼn rugbesering opgedoen het.

“Sy was gister te onstabiel om die nodige chirurgie aan haar rug ook te ondergaan. Ons het vandag gehoor dat sy later vandag vir die rugbeserings geopereer gaan word aangesien sy nou meer stabiel is vir dié noodsaaklike operasie.”

Volgens Hermann word die Brink-familie en Solidariteit Beweging die afgelope paar dae oorval met gebede en boodskappe van vertroosting en bemoediging vanuit die publiek.

Die Solidariteit Beweging het dus ʼn ondersteuningsgroep op Facebook geskep om die publiek op die hoogte te hou van nuus oor die Brink-gesin en Lise se vordering, en waar die publiek hul ondersteuning kan uitspreek. Besoek die Facebook-blad hier.

“Ons, en veral Danie, wil vir almal bedank vir hul ondersteuning en gebede. Daar lê egter nog ʼn lang pad van genesing voor, so moet asseblief nie ophou bid nie,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann word Lise nog deurentyd onder verdowing gehou en sy weet nog nie van die gebeure van die afgelope paar dae nie.

Maroela Media het vroeër berig Brink, sy vrou en vyf kinders, was Vrydag in ʼn ernstige motorongeluk. Hulle was op pad om hulle by hul familie aan te sluit vir die Kersvakansie en het beplan om op Theunissen in die Vrystaat oor te slaap. Brink het buite Theunissen beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad verlaat en verskeie kere gerol het, voordat dit in die veld langs die pad tot stilstand gekom het. Die linkeragterwiel het vermoedelik losgekom of ʼn band het gebars. Almal het gelukkig sitplekgordels aangehad, anders kon dinge erger gewees het.

André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood. Johann (9) het kopbeserings opgedoen en het ʼn operasie in die Mediclinic Welkom ondergaan. Hy het Maandag saam met sy pa, Mieke (15) en Daniël (2) teruggekeer na Pretoria. Lise is in die Mediclinic Welkom gestabiliseer en Maandag met ʼn helikopter na Pretoria gebring.

André en Rachel (8) se begrafnis is steeds onbepaald uitgestel terwyl daar gewag word dat Lise kan herstel om dit by te woon.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pastoor ·

Hartverskeurend. Here staan hulle asb by in hulle uur van nood. Enige iemand n idee watse voertuig dit was waarin hulle gereis het

Alta ·

Dit was ‘n Toyota Landcruiser. Dit is ‘n hartverskeurende tragedie wat die Brink-gesin getref het. Ons bid vir lewe, herstel en troos. +

DS ·

My innige simpatie aan die familie. Die moeilikste deel van die pad le nog voor en ek hou julle in my gebede. Om ‘n ledemaat te verloor is erg maar om ‘n kind te verloor is ergste wat nog van 2. Sterkte sterkte sterkte

Diep water ·

Ook ek gaan deur diep water maar die Brink-gesin s’n is baie dieper. Ek bid vir julle.

Marita ·

Dit is ontsaglik hartseer. Geen woorde kan daardie smart en verlies beskryf nie. My hart gaan uit na die familie.
Julle is in ons gebede.

Janet ·

Abba Vader ek tree in vir hierdie gesin. Ek ken hulle nie eers maar vra dat U Liefde hulle sal omvou. Versterk asb Lise se liggaam. Ons vra dit in die naam van Y’shua ons Messias. Amein

Riekie ·

Danie ek bid dat die Here vir jul sal onderneem en in Sy Rus en vrede sal hou as gesin. Ons verstaan nie, maar dank Vader God Hy sien die groter prentjie. Ek bly bid.

Ansie Geldenhuys ·

Here, ons bid vir krag, U vrede en berusting in hierdie donker tyd van lyding van die Brink Gesin. Amen

Carina ·

Die volgorde van gebeure is baie verwarrend in jul artikels oor hierdie ongeluk: Die gesin het rééds Donderdagaand oorgeslaap op Theunissen en was Vrydagoggend oppad tussen Theunissen en Brandfort toe die ongeluk plaasgevind het. Dis nou al ou nuus maar stel dit tog net reg asb?

Annie ·

Dit is nog n lang pad na voor vir die Brink gesin en famielie.God U ken hierdie gesin help hulle om die hartseer van die gesin.God u weet hoe elke 1 van hierdie gesin voel net U kan hierdie tyd en trane ligter maak.God help om die hart Lise van hierdie gesin ten vol te herstel die in die naam van ons ABBA VADER en ons se dankie vir elke dag AMEN

Tiger ·

Ek het self in ‘n ongeluk kopbesrings opgedoen 3 en ‘n half jaar gelede.Was in ‘n koma vir 24 dae en 4 maande in die hospitaal.My lewe is totaal omgekeer.Ek het geheue verlies vir omtrent 30 jaar voor die ongeluk af.My man moes my als wys,my linne,klere,als want ek kan nie onthou wat ek het nie.My breinbesering het my regterkant vertraag gelaat.Ek kan nie sonder ‘n 3 poot kierie loop nie.Ek kan niks in en om my huis doen nie.Kan nie eers ‘n besem vashou nie.En vir 40 jaar het ek nooit ‘n bediende gehad nie en als self gedoen.
So my gebede is met Lise dat sy nie soos ek sal wees as sy bykom nie.Dit gaan reeds erg wees vir haar as sy agter kom haar een been is gedeeltelik geamputeer wat nog as sy hoor van haar 2 kinders se dood.Ai dis erg!My hart gaan uit na Dr.Brink en gesin in hierdie uiters moeilike tyd.Al wat ek vir ‘n feit weet is ons Vader leef en hy verrig wonderwerke elke dag – ek is ‘n lewende getuie daarvan!Hou net aan GLO en bid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.