Lise Brink: ‘Ons sal moet sien wat God hiermee gaan doen’

Danie Brink en sy vrou Lise.

Danie Brink en sy vrou Lise.

Lise Brink toon daagliks groot vordering en het begin praat.

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en Lise se man, het die personeel van die Unitas-hospitaal bedank vir hul ondersteuning.

“Lise fluister al sterker en praat meer samehangend. Soveel so dat ek vanoggend gewonder het of ek met haar moet gesels oor André en Rachel. Baie dankie vir elkeen se gebede vir Lise oor hierdie moeilike saak. Dankie aan die bekwame personeel van Unitas wat wonderlike leiding hiermee gee. Dankie aan suster Esmé – ek dink jou oordeel om nié die nuus vandag te breek nie, was in die kol.”

Volgens Brink is God se groot genade in Lise se lewe duidelik sigbaar. “Toe ek haar vandag herinner aan die amputasie, was haar woorde: ‘Ons gaan moet sien wat God hiermee gaan doen’.”

Maroela Media het vroeër berig Danie, Lise en hul vyf kinders was verlede jaar op 16 Desember in ʼn ernstige motorongeluk betrokke. André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het.

ʼn Gedenkdiens vir André en Rachel word op 22 Januarie gehou. Die diens sal om 14:30 in die ouditorium van die Hatfield Christian Church (HCC) in Pretoria plaasvind.

Lise word tans in die waakeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion behandel. Haar linkerbeen is geamputeer en haar galblaas is verwyder ná die ongeluk.

Danie het vroeër gesê Lise sal ongelukkig nie die diens kan bywoon nie en die familie sal op ’n latere en private geleentheid ’n teraardebestelling vir André en Rachel hou.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

Volg die ondersteuningsgroep op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Carel ·

Lise se volgende woorde gaan wees om haar kinders te sien. Sy gaan vra nog voor hulle haar gaan vertel, dan gaan hulle moet gereed wees daarvoor. Ek wonder of Danie daaraan gedink het? Ek hoop hy het alle scenarios in ag geneem om die nuus te breek. Ek hoop ook haar gesondheid gaan nie agteruit weens die nuus nie.

Kobus ·

Beste Carel, ek kan jou verseker dat Danie daagliks daaraan gedink het vanaf dag 1. Ons vertrou God se leiding hiermee

Jeannette ·

Dis n verskriklike ding wat met julle gesin gebeur het. Ek weet dat God julle hierdeur sal dra en ek wil julle net sterkte en seen van die Here toe bid. Baie baie sterkte vir julle

Jene van Bergen ·

Terwyl Lise nog in die waakeenheid van die hospitaal is, sal sy na die kinders vra, maar dan kan Danie se hulle word nie nou toegelaat vir besoektyd nie. Ek dink die nuus van die twee kindertjies wat oorlede is, moet eers wag totdat Lise sterk genoeg is en uit die waakeenheid is. Hopenlik sal sy dan eers in n Hoesorg saal wees, dan kan Danie tesame met n sielkundige asook n dokter die nuus aan Lise vertel. Ek dink op hierdie oomblik as Danie vir haar se van die amputasie, verstaan sy nog nie regtig wat gebeur het nie !!! Wag maar eers totdat sy sterker is en uit die waakeenheid is asb. Sy sal nie op hierdie stadium daardie tipe trauma kan hanteer nie !!!

wilma ·

Ons sing mos Genade Onbeskryflik Groot en so sal God Se Genade ook wees wanneer mamma Lise die nuus oor die dood van haar kindertjies moet hoor. Sterkte vir die gesin

Justice ·

Ai Danie my hart bloei vir jou – dit moet geweldige spanning op jou wees om die geheim in jou te moet dra tydens besoektye en terselfde tyd jou vrou se gevoellens sowel as haar gesondheid in ag te moet neem. Ek admireer jou sterk en positiewe benadering / gesindheid maar bowenal jou opregte geloof. Jou inspirerende optrede as eggenoot en vader sedert die ongeluk is ‘n voorbeeld vir baie van ons. Ek kan my indink dat dit geensins maklik kan wees nie.

Raynard Brits ·

My neef is laas week oorlede na sy verloofde se swaer oor hom op 25 Desember gery en weggejaag het. Sy verloofde het hom langs die pad gekry waar hy skaars kon praat en het swaar asem gehaal. Ek is net bly dat my neef die Here gedien het en glo hy is by Jesus. Ek kan nie vir die gesin sê hoe bitterlik moeilik dit vir julle nou moet wees nie. Ek bid vir julle dat God julle deur Sy Gees teen Hom sal vasdruk en met Sy liefdevol arms sal omvou.

Lukas ·

Ek kan myself nie indink waardeur julle gaan nie. Ek bid dat julle krag sal he in hierdie moeilike tyd.

Nico ·

Baie simpatie weer eens aan die gesin in hierdie tragiese tye. Kruisig my, maar ek voel dat die gesin bietjie uit die media oog moet bly om hulle rou en aanvaarding in privaatheid te volvoer. Die afwagting op haar reaksie as sy hoor van die kinders raak bietjie soos ‘ sepie. Ek sê dit met GROOT respek.

LB S ·

Ek is geneig om met jou saam te stem, Nico. Almal weet al die situasie en bid vir hulle.
Dit moet nou rustiger raak vir die familie. Ons kan veel later hoor hieroor nadat hulle dit eers self kon verwerk het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.