Lise Brink ‘ontslaan’; fondsinsameling gaan volstoom voort

Danie Brink en sy vrou Lise.

Danie Brink en sy vrou Lise.

Lise Brink is van die Netcare Unitas-hospitaal ontslaan en na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas.

Maroela Media het vroeër berig Lise, haar man, Danie, en hul vyf kinders was op 16 Desember op pad om by familie aan te sluit vir die vakansie toe hul motor naby Theunissen in die Vrystaat buite beheer geraak en gerol het. André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood, terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het. Haar galblaas is verwyder ná die ongeluk en haar een been is bó die knie geamputeer.

Lise se rehabilitasieprogram sal na verwagting ʼn intensiewe fisioproses inhou wat nagenoeg vyf weke sal duur. ʼn Dokter, wat deel is van die span wat Lise behandel, het gesê dié proses sal haar in staat stel om weer onafhanklik te raak en meer mobiel te wees.

“Dit is dikwels die geval met pasiënte wat vir lang tye bedlêend is dat hulle spiere baie verswak. Die rehabilitasie sal haar weer leer loop, krag gee en haar leer om haar liggaam te gebruik.

“Wat dié proses egter bemoeilik, is dat Lise se been ook geamputeer is. Sy sal dus met krukke moet leer loop tot sy ʼn prostese het. Sy sal ook weer basiese goed, soos om in en uit ʼn bad te klim, moet leer,” het hy gesê.

ʼn Prostese kan die gesin ‘n paar honderd duisend rand uit die sak jaag, afhangend hoe gevorderd die prostese is. Wat die kostes verder verhoog, is die terapie wat nodig is om met die been te leer funksioneer, en die koste van die ontwikkeling van die been, wat ‘n lang en duur proses kan wees.

“Danie en Lise het by talle geleenthede genoem hoe groot passie draf en stap vir hulle is. Dit is grootliks omdat hulle dit saam gedoen het. Die ideale prostese is duurder as ‘n gewone prostese, maar sal haar in staat stel om weer eendag saam met haar man te kan draf,” verduidelik hy. “Ons sal natuurlik dankbaar wees as ons genoeg fondse insamel vir enige prostese, maar ‘n prostese wat Lise in staat sal stel om saam met Danie te kan draf oor ‘n paar jaar, sal vir dié gesin, wat reeds so baie verloor het, ‘n baie groot geskenk wees.”

Dit is dié droom van Danie wat die personeel van die Solidariteit Beweging laat besluit het om die Hardloop vir Lise-fondsinsamelingsprojek van stapel te stuur. Die veldtog nooi die publiek om op 4 Maart vanjaar die Medihelp Sunrise Monster te hardloop, en só geld in te samel vir Lise se prostese, of om iemand te borg wat as deel van die Hardloop vir Lise-veldtog aan die padwedloop deelneem.

“Die roete van die Medihelp Sunrise Monster loop toevallig verby Danie en Lise se huis in Groenkloof,” sê Annelize Brits, projekbestuurder van die veldtog en ʼn personeellid van die Solidariteit Beweging. “Elke persoon wat aan die Hardloop vir Lise-veldtog deelneem en vir Lise hardloop, sal ʼn ballon ontvang wat hulle aan die Brinks se heining kan vasbind wanneer hulle verby hulle huis hardloop.”

In ʼn onlangse onderhoud wat Maroela Media met Lise gedoen het, het Lise haar wens uitgespreek om op die 4de Maart reeds uit die rehabilitasiekliniek waar sy tans is, ontslaan te wees, en saam met Danie op hul voorstoep die padwedloop te sit en dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Gee my weer moed en vertroue in ons land se mense se karakter as ek sien hoe mense saamstaan en dink en doen om die seer en stukkend van n ander mens te probeer verlig. Nog meer hoe Danie en Lise se opregte dank na vore kom. Wat my hart van bloei is oor die wat nie die voorreg deel om deel te wees van n georganiseerde “netwerk” en “suport” struktuur nie. Nooit sal ek mense se stukkend en seer vergelyk nie…maar wat DOEN ons vir die wat in stilswye soms alleen yitdagings moet aandurf? Bloot my eerlike harts vraag…

Tjokkels ·

EK vra dieselfde vraag, maar dan gee die geldinsamelings soos dié vir IMKE en SEAN, PIPPIE en ander kinders met kanker en mediese probleme my weer hoop. Daar is ook Good morning Angels van Jacaranda wat sommige mense help, maar soos jy inderdaad sê, dit is ‘n druppel in die emmer. Tog ‘mis’ baie volwassenes en kinders die geleentheid om die beste behandeling te kry agv fondse. Danie is BEVOORREG om deel van Helpende Hand te wees en so baie mense te he wat vir hulle omgee.

Jane ·

Baie sterkte, julle is altwee baie brawe mense. Hoop jy herstel volkome Lise, en Danie het ‘n lang hartseer pad agter hom en ook nog die verwerking van die verlies van hulle twee kindertjies . Die pad na algehele herstel is baie lank, maar ek glo hulle durf en deursettingsvermoe sal hulle daar uitbring.

Frieda Weidemann ·

Danie en Lise julle is deur ‘n baie donker nag daar is egter lig op die horison, hou Die Vader se hand vas Hy droog self julle trane af.

Alida ·

Sommige berigte op Maroela sê dat Lise se been onder die knie geamputeer is, en ander dat dit bokant die knie geamputeer is. Dit is ongewoon dat Maroela se beriggewing so inkonsekwent is.

Sune van Heerden ·

Dagsê Alida

Ons het slegs berig “‘n gedeelte van haar been is geamputeer” en daarna het ons bevestig die been is bo die knie geamputeer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

T ·

Baie sterkte aan die Brinks! So bly Lize is besig om te herstel. Ek bid nog elke dag vir julle.

William van der Merwe ·

Hulle is ryk blankes. Nou vra hulle vir geld vir spesiaal prostese. Wat van duisende kinders wat honger skool tie gaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.