Lise Brink stap 32 km-Vasbyt: ‘Dié verlies bring jou nader aan die Here’

Lise Brink op die vierde dag van die Bo-Karoo Vasbyt. (Foto: Verskaf)

Toe Lise Brink Sondag die eerste kilometer van die 32 km lange Bo-Karoo Vasbyt in Orania aandurf, was dit met ʼn paar vlinders in die maag. Sou sy dié afstand kon voltooi en boonop sonder haar krukke?

Dit was Lise se eerste wedloop sedert haar linkerbeen bokant die knie geamputeer is nadat sy en haar gesin op 16 Desember 2016 in ʼn ernstige motorongeluk buite Theunissen in die Vrystaat betrokke was.

Lise en haar man, Danie, se oudste seun, André (12), en hul jongste dogter, Rachel (8), is op slag dood. Hul ander drie kinders, Mieke (nou 17), Johann (nou 12) en Daniël (nou 4), is in die ongeluk beseer, maar het sedertdien volkome herstel.

Danie, Mieke en Johann het almal ook die afgelope naweek aan die Bo-Karoo Vasbyt deelgeneem – Danie het 100 km in die vier dae afgelê, Mieke 55 km en Johann het die ligloop-wedloop oor 55 km kafgedraf.

Vir die Brink-gesin was dit ʼn lang en moeilike pad tot waar hulle vandag staan – en van vasbyt kan geen wedloop hulle iets leer nie.

Maar soos nog deurentyd die geval was sedert daardie tragiese dag in 2016, was die uitdaging vir Lise nie net fisiek nie, maar ook geestelik. “Die wedloop was vir my ʼn kopskuif. Ek voel bemoedig en baie dankbaar,” sê Lise.

Danie, Johann, Mienke, Lise en skoonsus Hilda Brink. (Foto: Verskaf)

“Ek weet nou ek kan eintlik meer doen as wat ek gedink het ek kan. As fisioterapeut het ek nie regtig besef wat ʼn amputasie behels nie. Ek het nou eers werklik geleer dit is heeltemal anders om met ʼn been te loop wat God nie gemaak het nie. Daarom is ek so dankbaar vir hierdie kopskuif, want ek weet nou ek moet nie sommer net sê ‘nee, ek kan dit nie doen nie’. Ek moet kreatief wees om te kyk hoe ek die ding kan doen wat ek eers gedink het ek kan nie.”

Lise het die uitdaging nie alleen aangepak nie – sy het die 32 km oor vier dae afgelê saam met Duane van Zyl, ʼn 34-jarige man wie se been op presies dieselfde dag as Lise s’n bo die knie geamputeer is.

Nee, dit is nie toeval nie, sê Lise. Dit is maar net hoe die Here werk.

“Duane het destyds ná sy amputasie probeer om vir Danie in die hande te kry, maar kon hom nie bereik nie. ʼn Ruk daarna het Danie vir Duane by Johann se stoeitoernooi opgemerk; hy het nader gestap en hom gevra of hy kan afneem hoe hy met sy prostese stap. Hy het vrek goed geloop en Danie wou dit afneem om my te wys en te bemoedig. Dit is toe dat Duane besef dit is die einste Danie met wie hy vantevore probeer kontak maak het,” vertel Lise.

Op dié manier het Lise en Duane met mekaar in verbinding gekom en saam kon hulle mekaar ondersteun en bemoedig op hul herstelpad. “Duane het ook jong kindertjies, sy jongste is so oud soos ons jongste. So, hy ervaar ook die uitdaging om by die spoed van so ʼn klein lyfie by te bly. Maar terselfdertyd is dit ook die ding wat jou juis motiveer – dat jy jou kinders veilig moet kan hou en kan oppas.”

Duane van Zyl (links) saam met Danie en Lise Brink tydens die Bo-Karoo Vasbyt. (Foto: Verskaf)

En met dié vasbeslotenheid het Lise oor die afgelope twee en ʼn half jaar só sterk geword dat daar nou byna niks is wat sy nié kan doen nie. “My spoed, my balans, verplasing van my gewig, alles het soveel verbeter in hierdie tyd. Daar is niks in my daaglikse roetine of iets wat my beroep van my vereis wat ek nie kan doen nie.”

Dan voeg sy by: “Ek kan net nie in die see swem nie. Ek weet ek kan nie naby water gaan met my prostese nie, so dít is iets wat ek nie kan doen nie. Ek kan nie saam met my kinders in die branders baljaar nie.”

Om weer te draf, soos sy ywerig voor die ongeluk gedoen het, is nog iets wat in Lise se visier is. “Ek dink miskien sal ek dit volgende jaar stap-draf doen,” sê sy.

Tree vir tree. Dag vir dag. ʼn Groeipad wat nooit eindig nie.

“Ons verlange na ons kinders word meer soos die tyd aangaan, maar ons lys van redes tot dankbaarheid word ook elke dag langer,” sê Lise.

“Ek dink nie ek en Danie het heeltemal besef die verlange na André en Rachel gaan meer raak nie, maar dit doen. Tog, as ons die keuse sou hê om hulle terug te wens aarde toe, sal ons dit nie doen nie. Ons is so dankbaar hulle is in Jesus se hande, ons sal hulle nie terugwens tussen hierdie sondige mense en al die drama op aarde nie. Hulle is tog waar ons almal wil wees.”

Van links is Danie Brink, sy vrou Lise en twee van hul kinders, Mienke en Johann, wat almal aan die Bo-Karoo Vasbyt deelgeneem het. (Foto: Verskaf)

Met Mieke, Johann en Daniël gaan dit ook goed, sê Lise, en sy kan sien hoe hulle deurentyd geestelik groei te midde van die verlange na Boeta en Lalla. Ook Daniël het op sy kinderlike wyse ʼn vlekkelose begrip van die verlies.

“Hy het vir my ʼn byna abnormale manier vir ʼn vierjarige om sy ogies op die hemel te hou. Hy sal vir my sê, “Maar Mamma gaan mos in die hemel ʼn nuwe beentjie kry’. Dit is wonderlik om te sien dat hy weet hy gaan vir André en Rachel weer in die hemel sien. Hy het ʼn wonderlike lewe hier op aarde, maar hy weet hierdie skeiding is tydelik en dat hy weer by hulle gaan wees.”

En vir Danie en Lise is daar ook vrede. Geweldige verlange, maar nog groter dankbaarheid.

“Terwyl ek en Duane gestap het, het hy vir my gesê as hy kon kies om sy been terug te kry, sal hy dit nie doen nie, want hy is nou baie nader aan die Here as wat hy voorheen was. En dit is maar wat verlies doen, nie waar nie? Ek het nie altyd geleer en gegroei wanneer dit met my baie goed gegaan het nie. Die meeste van ons leer en groei nader aan die Here wanneer ons verlies ervaar – of dit nou fisieke of emosionele verlies is. Dié verlies beloon ʼn mens, dit bring jou nader aan die Here. En dit is nooit te versmaai nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jan Alleman ·

Ek is dankbaar om te lees dat dit goed gaan met die gesin

Anmar ·

Wat ‘n positiewe en inspirerende storie van herstel en hoop!

Marinda ·

Wat ñ inspirasie. En hier dink ek, ek het probleme. Baie dankie dat julle hierdie met ons deel.

Marita ·

Dankie vir jul boodskap en v Maroela Media vir so n mooi berig

Helene Heyns ·

So bly om te hoor dit gaan goed. Ek het al so dikwels gewonder hoe dit met hulle gaan. Weereens het ons Hemelse Vader ons ernstige gebede vir hierdie beproefde gesin beantwoord. Ek is dankbaar uit my hart uit vir hierdie positiewe gesindheid. Mag Jesus jul elke dag styf vashou en die verlange sagter maak. Sterkte vorentoe.

Susan ·

Wat n inspirasie vir my, wens ek kan myself so ver kry om my kunsbeen so deur te skop, ek is so bang vir val en het al so baie geval dat my vrees my nou het om nie my been deur te skop soos ek moet nie en daaroor loop ek nie soos ek moet nie en raak loop baie uitputtend vir my. Lise, as jy hier lees, watse knieg het jy (lyk baie soos n Ottobock 3R80) sal graag wil weet. Ek haal my hoed af vir jou en jou gesin. Sterkte vir die pad vorentoe.

Hendrik van George ·

Wat ‘n goeie nuus storie, vir ‘n verandering…

Von ·

Dankie vir die mooi artikel van hoop inspirasie en vertroue in die Aller Hoogste…dit vul my met soveel dankbaarheid….baie sterkte aan die pragtige gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.