Lise Brink: ‘Volgende paar dae krities’

Danie Brink en sy vrou Lise.

Danie Brink en sy vrou Lise.

Lise Brink, vrou van dr. Danie Brink, het reeds twee noodoperasies aan haar linkerbeen ondergaan en dokters sal vandag besluit wat om volgende te doen.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit, het gesê Lise (42) het Maandagaand die eerste operasie op haar been in die Wilgers-hospitaal ondergaan ten einde die drukking te verlig. “Sy is toe na die Unitas-hospitaal oorgeplaas en het sy gisteraand weer ʼn noodoperasie aan die been ondergaan.”

Volgens Hermann was die operasies ʼn sukses, maar is dokters steeds baie bekommerd. “ʼn Span dokters sal vandag weer haar been evalueer om te besluit oor verdere chirurgie. Daar is ʼn baie lang tydperk wat nog voorlê en die volgende paar dae gaan krities wees. Dokters is ook bekommerd dat sy dalk akute kompartement-sindroom in haar been het.”

Akute kompartement-sindroom kom ná traumatiese beserings voor en veroorsaak geweldige hoë druk wat bloedsomloop na die spiere en weefsel belemmer.

Hermann het gesê die familie is baie bekommerd oor die dag wat voorlê. “Dit was gister ʼn op-en-af-dag. Daar is aanvanklik gevoel dit het goed gegaan ná die operasies op die been, maar daar is eers later besef dat daar eintlik ʼn groot terugslag was rakende die been. Almal se versoeke in die stadium is maar net om Lise en die familie in hul gebede te hou aangesien daar belangrike besluite is om te neem.”

Lise se toestand is steeds baie ernstig, maar sy is stabiel. “Die kinders is by die huis en het ʼn ongelooflike familiestruktuur wat hulle ondersteun. Dit maak dit ook vir Danie moontlik om heeltyd aan Lise se sy te wees. Hy is baie moeg want hy is heeltyd by die hospitaal. Hy het ʼn besondere innerlike krag en die manier waarop hy als hanteer versterk familie en vriende om hom. Mens kan met groot dankbaarheid ook die krag van die gemeenskap sien en hoe hulle mekaar ondersteun. Die familie is so dankbaar vir almal se hulp en gebede.”

Brink, sy vrou en vyf kinders was Vrydag in ʼn ernstige motorongeluk. André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood. Johann (9) het kopbeserings opgedoen en het ʼn operasie in die Mediclinic Welkom ondergaan. Hy het egter Maandag saam met sy pa, Mieke (15) en Daniël (2) teruggekeer na Pretoria.

  • Die Solidariteit Beweging het intussen ‘n Facebook-blad geskep om die publiek op hoogte te hou met nuus oor die Brink-gesin en Lise se vordering, en waar die publiek hul ondersteuning kan uitspreek. Besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Tollies ·

Nie net mis ons julle nog steeds in Namibia , Ons dink ook baie aan julle in jul groot verlies en is ook dnkbaar julle word so mooi onderseun . Ons bid ook dat Lise volkome sal herstel sonder enige letsels .
Groete Keetmanshoop

Stef Papendorf ·

Baie sterkte vir julle! Ek het self in 1989 my twee oudste dogters so verloor. Wees net geduldig met die pyn, die Here weet wat julle deurmaak. Hy sal verseker weer lig en lag in julle lewe terug sit. Soms sal ander jou nie verstaan nie want jy is nou ‘n emosionele parapleeg en hulle kan nie sien waarmee jy worstel nie. Die Here weet presies. Hy laat nie ongelukke gebeur nie maar hy laat genesing en uiteindelik vrede gebeur. Immanuel.

Andrea ·

Wat n tragedie. Mag die Here jul dra en genade bewys. Baie baie sterkte.
Maroela, dankie dat julle ons op hoogte hou. Ons dra die Brinkgesin se belange op die hart.

Connie ·

Ag heiden dis so hartseer. Om twee kinders te verloor is vreeslik. Sterkte aan die familie.

Suzette ·

So tragies. Bid die Brink familie net sterkte, hope liefde en genade toe.

Margaret van Der Dalen ·

Sterkte aan almal betrokke, ons kan net glo en vertrou dat sy goed sal herstel

Joetjie ·

Aan die Brink gesin, ons le julle by Jesus se voete neer. Mag God se wil geskied en ons spreek lewe en bid vir genesing, nie net fiesies maar ook vir die seer siel. Die dood van julle kinders breek my hart en daar wag nog n moeilike tyd vir julle maar God SAL saam julle deur die vuur stap. Ek haal my hoed vir jou af Mnr Brink want hoe jy dit bymekaar hou is reeds n wonderwerk. Hou vas aan God, al is dit moeilik. Daar is nie woorde om te beskryf hoe diep julle hartseer ons almal raak nie. Abba Vader ek vra in U naam om n leer Engele te stuur en om Lise te omring met U Engele om haar te dra en haar te help om ten volle te genees vir haar gesin en vir die wat vir haar lief en kosbaar is. Vader ek vra dit alleen in U Naam. Amen.

Namibiër ·

Ons Vader wat in die hemel woon, ons dra die Brink familie aan U op in hierdie tyd van hartseer en wil U vra om asseblief vir Lise in U sterke arms te neem en haar volkome te genees. Ons weet dat niks by U onmoontlik is nie. Ons weet ook dat hierdie tragedie nie U wil was nie, want U is ‘n God van liefde. Heer vertroos asseblief vir Danie, Lise, Mieke, Johan en Daniël in hierdie moeilike tyd wat vir hulle voorlê. Amen

wilma ·

Vreemdelinge huil oor die Brink gesin se hartseer en pyn. Ons dra hul op aan God Die Vader. Wonderwerke gebeur steeds indien ons op God vertrou. Ons Liewe Vader genees hierdie moeder dat sy ook verder haar gesin kan ondersteun en hul daar kan wees vir mekaar. Dankie Liewe Here vir U genade

Ina de Bruyn ·

Die Brink gesin word deur soveel mense opgedra aan ons dierbare Hemelse Vader.Ek het pas verneem dat Lise se been geamputeer is.Soveel verliese is haas ondenkbaar.Laat ons net aanhou bid vir hulle.

Johnny Oosthuizen ·

Dankie Dr Hermann dat jy ons so presies op die hoogte van sake hou – ons wíl weet , want ons gee om . Ons sal hulle steeds daagliks aan die Here opdra , want by Hom is niks onmoontlik nie .

Elize Meyer ·

Ons hou nie op om vir julle te bid nie… God se Genade is sooo GROOT!!!!

Yolanda Malan ·

Dit breek my hart as ek aan die gesin dink. Hoe Lise moet wakker word en die nuus moet aanhoor dat 2 van haar kinders oorlede is. Dan moet sy nog “deal” met haar been wat ge amputeer is. Vader in die Naam van Jesus bid ek vir die gesin en dra ek hulle aan U op. Versorg hulle Here soos net U kan. In Jesus se wonderlike naam Amen

sarie van heerden ·

Ek verstaan niks van wat alles gebeur en aaangaan nie. Ek praat nie van regverdigheid nie, maar ek praat van die Liefde wat ons daagliks van verseker word en wat ek dan nie ervaar of van bewus is as soiets as hierdie tragedie van die Brinks gebeur nie.

Bokkie ·

Ek wil baie graag ook geld skenk soos met die selfoon ek kan nie loop nie omdat ek n knievervangings operasie moet kry.Al kon ek net n R100 skenk maak dit tog n groot verskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.