Lisensies nou tot dán geldig

(Argieffoto: www.services.gov.za)

Die departement van vervoer het besluit om die geldigheid van alle motor- en bestuurslisensies tot 30 November te verleng.

Alec Moemi, direkteur-generaal van die departement van vervoer, het Vrydagoggend erken die lisensiesentrums staar talle uitdagings in die gesig nadat sentrums onverwags in Maart weens Covid-19 moes sluit.

Die Automobiel‑Assosiasie (AA) het dié besluit verwelkom. Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, sê die verlenging van die geldigheidstydperk van lisensies is ʼn aanduiding dat die departement bewus is van die probleme wat motoriste met die hernuwing van hul lisensies het.

“Om die geldigheidstydperk te verleng gee motoriste genoeg tyd om hul dokumente te hernu en vir lisensiesentrums om agterstande uit te wis en voor te berei vir nuwe aansoeke,” sê Groenewald.

In Junie het die Padverkeerbestuurskorporasie aangekondig dat alle leerling‑, bestuur‑ en voertuiglisensies, tydelike permitte, padvaardigheidsertifikate en professionele bestuurspermitte wat in die tydperk van 26 Maart tot 31 Mei verval het, steeds geldig is en word die geldigheidstydperk met 90 dae verleng tot 31 Augustus.

Dit AA het verlede week Vrydag ʼn aanlyn petisie van stapel gestuur om die departement te oortuig om die geldigheidstydperk van dié lisensies tot einde Januarie 2021 te verleng. Teen Vrydagoggend het die petisie reeds op 20 500 handtekeninge gestaan.

Groenewald sê hy is verslae deur die oorweldigende reaksie op die petisie.

Hy sê alhoewel die AA reeds ʼn oorwinning behaal het deurdat die geldigheidstydperk tot einde November verleng is, gaan hul voortgaan om hul doelwit van einde Januarie 2021 te probeer bereik. “Dit is in die beste belang van ons motoriste dat ons nie nou gaan lê nie,” sê hy.

Groenewald sê hul voorgestelde verlengingsdatum maak ook voorsiening vir die sluiting van lisensiesentrums tydens die feestyd, en vir verdere moontlike sluitings as gevolg van Covid-19.

Maroela Media het vroeër berig Groenewald het in ʼn brief aan minister Fikile Mbalula, die minister van vervoer, te kenne gegee dat die nasionale verkeersinligtingstelsel (NaTIS) waar mense afsprake moet maak steeds problematies is en dat lisensiesentrums kort-kort weens Covid-19 moet sluit en ontsmet moet word voor dit weer kan heropen.

“Ons ervaring is dat die meerderheid motoriste in Suid-Afrika verkies om aan die regulasies te voldoen en wettig op die pad te wees. Alhoewel die stelsel problematies is, doen bestuurders die nodige stappe om te verseker dat hulle binne die wet bly. Gegewe die huidige beperkinge op die stelsel, word baie mense egter gekonfronteer met die werklike moontlikheid dat hulle dit nie kan doen nie,” het Groenewald gesê.

ʼn Bykomende kwessie is dat bestuurders wat nie motor‑ of bestuurslisensies kan hernu nie, probleme kan ondervind as hulle in ʼn ongeluk betrokke is, aangesien versekeraars eise kan verwerp op grond van die feit dat die bestuurders nie wettig op die pad is nie.

Die AA het ook aangebied dat sy nasionale netwerk van agente bestuurders help om hul lisensies te hernu. Die minister moet dit oorweeg om agente van derde partye, soos die AA, toe te laat om voertuiglisensie- en bestuurslisensiehernuwingsdienste uit te voer, wat tans slegs deur lisensiesentrums en die poskantoor aangebied word. Groenewald het gesê nie net gaan dit help om huidige en geskiedkundige agterstande uit te wis nie, dit gaan ook die druk op lisensiekantore in die toekoms verlig.

Die AA se aanlyn petisie kan hier besigtig word. Volgens die AA wil hy die petisie gebruik om vir die minister te wys dat sy voorstel die steun van die publiek geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos10 ·

Kry net die taxi’s se ondersteuning, dan is dit so goed soos gedoen, maar dis ook, glo ek, bitter moelik want nie al die taxi bestuurders en taxi’s is gelisensieer nie.

Dawie ·

Geld die nuwe datum ook vir n lisensie wat VOOR 26 Maart verval het? Myne het 23 Maart 2020 verval

My Mening ·

Nee, net vir lisensie wat binne die lockdown periode verval het. Lisensie wat voor die 26ste Maart en na die 31ste Mei verval het sal volgens die normale proses hanteer word.

Lizelle ·

Ek dink jy maak ‘n fout, ek verstaan lisensies wat na 31 Mei verval het kry nou ook uitstel tot 30 November. Of verstaan ek nou verkeerd?

Hoekom ·

Hernuwing van lisensies wat net tydelik geld was in elkgeval net ‘n geld maak “scam”. Bedrog vanaf die regering. Net soos leerling lisensie toetse wat al lankal aanlyn kon gedoen word.

J ·

Reik ‘n bestuurderslisensie LEWENSLANK uit!

Verplig dan slegs daardie bestuurders wat in ongelukke betrokke is of wat verkeersreëls verontagsaam om hulle lisensies te hernu.

Sodoende word verantwoordelike bestuurders beloon en wetteloses gestraf!

En die arme ‘useless’ ANC rampokker regime voorkom sodoende, bottelnekke a.g.v hulle onbeholpenheid.

Hierdie ‘one size fits all’ lisensie beleid maak misdadigers van wetsgehoorsame bestuurders.

Andries ·

Jou lisensie is lewenslank(reg 101[2}{a} GNR225 in goverment gazette 20963. en kan slegs deur die hof ongeldig verklaar word. Jou lisensie is op register en kan nie vir jou gegee word nie ,dus lisensie kaart. Reg 108(5)(a) se die kaart is geldig vir 5 jaar MAAAR Reg 108(5)(b) sê duidelik jy MAG aansoek doen vir nuwe kaart . NERENS in die wet staan jy Moet nuwe kaart kry nie. Seksie 78(1) sê ook ‘n dokument( jou kaart wat verval het) wat die oorspronklike (jou lisensie op register) verteenwoordig, sal in enige hof en altyd dien as bewys van jou lisensie, MAW, jou kaart is nie jou lisensie nie maar bewys van jou lisensie en ‘n ou vervalle kaart is steeds geldige bewys van jou lisensie. Jy mag by die owerhede aansoek doen vir ‘n afskrif van jou lisensie maar slegs as jy immegreer om te bewys jy’t ‘n lisensie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.