Listeriose: Dié fabrieke moet vleisprodukte herroep

Foto: Pixabay

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Sondag gesê Enterprise Foods en Rainbow Chicken Limited (RCL) sal noodgedwonge van hul vleisprodukte moet herroep nadat onthul is dat Enterprise Foods verantwoordelik is vir die listeriose-uitbreking.

Motsoaledi het tydens ʼn mediakonferensie by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes (Nios) gesê ʼn ondersoek het bepaal dat dié uitbreking direk na Enterprise Foods se Polokwane-fabriek in Limpopo herlei kan word.

Verskeie groepe, onder wie die wêreldgesondheidsorganisasie, het Enterprise Foods se Polokwane-fabriek daarna besoek en ʼn uitgebreide voedselproduk- en omgewingsmonsterneming uitgevoer. Die uitbrekingsbakterie bekend as ST6, is gevind in minstens 16 omgewingsmonsters van die fabriek. Die bakterie kom glo natuurlik in die omgewing voor.

Motsoaledi het bevestig dat ʼn ondersoek na Rainbow Chicken Limited (RCL) se Wolwehoek-fabriek ook onderweg is. Polonieprodukte van die fabriek het reeds positief getoets vir listeria monocytogenes maar nié die ST6-bakterie nie.

“Dié bakterie in verwerkte vleisprodukte [van die fabriek] hou egter steeds ʼn gevaar in,” het hy gesê.

Nagenoeg 180 mense het tot dusver aan dié uitbreking gesterf. Volgens Motsoaledi is altesaam 948 mense al met die siekte gediagnoseer – ʼn getal wat die sterftesyfer teenoor die diagnosesyfer na 27% verhoog het.

Só gaan stappe gedoen word

  • Die Nasionale Verbruikerskommissie het Saterdag ingevolge artikel 60 (2) van die Wet op Verbruikersbeskerming die fabrieke wat betrokke was by die veiligheidsherroeping-kennisgewings in kennis gestel.
  • Nakomingskennisgewings sal Maandag uitgereik word aan die fabrieke ingevolge die Nasionale Gesondheidswet.
  • Die werksaamhede van sowel Enterprise Foods se Polokwane-fabriek as Rainbow Chicken Limited (RCL) se Wolwehoek-fabriek is tydelik opgeskort.
  • Lede van die publiek word aangeraai om alle verwerkte vleisprodukte te vermy. Polonieprodukte wat vermoedelik ʼn draer van die bakterie is, dra ʼn risiko vir kruisbesmetting van ander vleisprodukte omdat listeriose ook deur middel van die verpakking oorgedra kan word.

Motsoaledi sê mense moet steeds ag slaan op erkende metodes om die kanse te verminder om listeriose op te doen of te versprei: Was jou hande gereeld; verseker dat kos heeltemal gaar is; hou rou kos weg van gaar kos; moenie kos bo of onder die aanvaarbare temperature berg nie; en was ongekookte vleis en ander produkte eers af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Fiela van der Merwe ·

Regstelling: dit is NIE n virus nie maar wel n bakterie.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Fiela
Dankie vir jou valkoog! Jy is in die kol – ons het die berig gewysig. Ons vra om verskoning vir die oorsig.
Groetnis
Cyril
nms Maroela Media

Louise ·

En hoe lank het dit die WHO mense gevat om toetse te doen? Intussen smul ons oningeligde swape lustig voort aan Listeria besmette rooiworsies en polonie! Nou eers gaan die produkte van die mark onttrek word? Solank die besigheid loop en die geld inkom. Ek hoop die families van slagoffers dagvaar die dept en hierdie besighede vir hulle laksheid!!Gaan dit dalk weer oor n paar rand wat hulle sal verloor as hulle pro-aktief in plaas van re-aktief optree? Sal nie weer een van die genoemde produkte koop nie. As hulle nou die ST6 bakterie kon opspoor, kon dit reeds opgespoor word voor daar probleme was. Absolute laksheid en gebrek aan verantwoording teenoor die publiek en gebruikers! Simptoom van die swak bestuur van alle sake in openbare belang. Wat is n paar menselewens tog? Swak!!!!

Nic ·

En ergste van als is dat die einste WHO ‘n internasionale toekenning aan hierdie fabriek gemaak het aangaande higiene en veiligheid standaarde. En dit het nie vreeslik lank terug gebeur nie!

Nettie ·

PnP se No name polony word deur RCL foods gemaak. Hulle gaan dit as voorsorg ook van hul rakke verwyder.

Lente ·

Is dit net ek of vind ander lesers dit ook snaaks dat dit net Enterprise en Rainbow Chickens is? Wat van al die ander “No Name brands”? En al die ander bekende maatskappye wat vleisprodukte vervaardig?

Patrys ·

Daar steek waarheid daaragter. In terme van hulle no name brand produkte hang dit alles af van wie dit vir hulle verpak, dit hoef nie noodwendig Enterprise te wees wat dit verpak nie. Ons verskaf self aan van die groot handelsname (nie vleis nie) en ons is ook hard besig met bekamping teen Listeria.

PJC ·

Ja Oumalien met hierdie sogenaamde “housebrands” by die kettingwinkels weet ons nie wie se produkte ons eet nie. Al die tyd lekker gesmul aan Enterprise se produkte.

Welma ·

Sover ek weet is pnp ongelooflik streng as dit kom by hulle brand name..fabriek wat bv hier by ons melk verskaf is onlangs afgekeur oor higiene..

Natasha ·

Wat van as jy vandag of 3 dae terug van dit geeet het hoe weet jy wat en of dit bevat..help asb wil net sekerheid kry of witbank ook dit hey

Versoek ·

WGO kan ook gerus munisipaliteite se rioolaanlegte (dit wat oor is) besoek.

Paula van Vuuren ·

Dis erg…Ek het elke dag ons viennas van Enterprise vir ontbyt geëet en ons kleinkind hotdogs skooltoe gestuur.Ek het dit by Checkers gekoop. My dogter het eendag vir lunch 3 worsies saam . Die aand is dit nog steeds in haar kosblik sy het dit nie kon eet nie dit ruik af. Ek glo haar nie en maak dit warm in micro glof en eet dit toe self op toast. Ons is nie siek daarvan nie. Ek het die leë pakkie nou afgeneem Dis Enterprise 24 Smoked Viennas ( kg )Verval 22 Maart 2018 ….Ons is fine …

VanAfrika ·

Die berig sê vermy “Alle” verwerkte vleise om kruisbesmetting te vermy. Die Enterprise polonies is die draer en steek die ander vleise in die trok waarop dit vervoer word aan en op die rak of die koelkas waar die werker die vleise vir jou sny. Met ander woorde as julle nog nie duidelikheid het na die berig het nie, moet GEEN verwerkte vleise koop nie, maak nie saak wie die voorsiener is nie.

Stof ·

Khanyiso, ‘n werkenemer by Enterpise sedert sy sewentiende jaar en al amper vir ‘n leeftyd, stel’n perspektief van binne af. DIe deel wat die media nie graag oor sal berig nie:
“Politiek is ‘n lelike ding. Die minister van gesondheid is mos ‘n aandeelhouer in Renown. Tydens die aandelemark se jaareindresultate het Enterprise baie beter dividende behaal. Enterprise het egter nie parlementere aandeelhouding nie, dus het die minister van gesondheid ‘n posisie misbruik om hulle skade te probeer aandoen. Dit is die deel wat die media nie oor berig nie.”

Corrie ·

Wat van as ons die dag van dit geeet het en nie daarvan geweet het nie.Moet ons gaan vir toetse.

JC ·

Ek is in Australia. Jy kry die virus nie net op vleis nie, daar was n uitbreek van n virus in New south wales op spanspekke laas week. Uitknipsel uit berig. Lees.
Victoria’s deputy Chief Health Officer Brett Sutton confirmed on Friday one of those patients had died.

Dr Sutton said that patient had been hospitalised and diagnosed with listeriosis. Tests later linked the person to the outbreak strain.

Health authorities have linked the spreading outbreak to a rockmelon grower in Nericon, near Griffith in NSW.

Fifteen people have now been diagnosed with listeria, including three in Queensland and one in Tasmania.

Anna ·

Wat van Bacon? Ek koop graag Enterprise se bacon maar sien nêrens of dit ook teruggeneem moet word nie. My kleinseun het PicknPay NoName worsies ge-eet en kon die tweede een nie verder eet nie want hy sê dit het ‘anders’ geproe. Hy is egter nie siek nie maar as dit tot 7 weke neem, hoe gerus kan mens wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.