Listeriose: Dodetal staan op 200

‘n Mikroskopiese blik op listeriose.

Die departement van gesondheid het bevestig dat minstens 200 persone reeds weens listeriose gesterf het.

Volgens ʼn verslag wat deur ʼn nasionale taakspan, wat listeriose-gevalle ondersoek, uitgereik is, is die eerste fase van die noodreaksieplan op die listeriose-uitbreking afgehandel.

ʼn Vergadering met provinsiale owerhede het op 24 en 25 April in Johannesburg plaasgevind waar die rol van die provinsies uiteengesit is met die volgende stappe om die noodreaksieplan verder uit te voer.

“Sedert die geïmpliseerde produkte op 4 Maart 2018 herroep is, het die aantal gevalle wat aangemeld word, gedaal,” lui die verslag.

Altesaam 1 024 gevalle van listeriose is sedert Januarie 2017 by die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) aangemeld. Sedert die produkte sewe weke gelede herroep is, is 55 gevalle aangemeld. “Alle gevalle wat aangemeld is ná die produkte van winkelrakke verwyder is, word deeglik ondersoek.”

Voor 2017 is ʼn gemiddeld van 60 tot 80 gevalle van listeriose jaarliks aangemeld (ongeveer een per week). ʼn Toename in die gevalle van listeriose is in Julie 2017 by die NIOS aangemeld en ʼn ondersoek is van stapel gestuur om die redes vir die styging te bepaal.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het op 5 Desember 2017 die listeriose-uitbreking bevestig. Die bron van die uitbreking is geïdentifiseer as Enterprise Foods se verpakkingsfasiliteit in Polokwane en die betrokke verwerkte produkte is in Maart herroep.

Volgens die departement behels die tweede fase van die noodreaksieplan ʼn inspeksie van voedselprosesseringsaanlegte en om die kapasiteit van distriksgesondheidspraktisyne te vergroot. Die derde fase behels konsolidasie van die gesondheidstelsel en hersiening van die plan.

Die departement het bygevoeg dat daar moontlik nog gevalle van listeriose aangemeld kan word, aangesien die inkubasietydperk tot 70 dae kan beloop; die betrokke produkte ʼn lang raklewe het en dit moontlik is dat nie alle produkte van winkelrakke of uit mense se huise verwyder is nie; en besmetting van ander produkte moontlik plaasgevind het.

Uit die onderhoude wat die departement gevoer het met persone, wat met die bakterie besmet is, is daar bevind dat 84% van die persone geprosesseerde vleisprodukte geëet het en 97% van die persone het polonie geëet.

Ouderdomsverspreiding van listeriose-gevalle (Tydperk: 1 Januarie 2017 – 24 April 2018)

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Hoekom is daar/hier so min reaksie op die dreigende epidemie, of dink ons dit is net ‘ander’ mense ver weg wat siek word en sterf. Ons word gewaarsku dat die siekte nog voorkom en versprei. Winkels begin weer die rakke volpak met produkte waarteen ons gewaarsku word… kouevleis ea. En mense koop dit uit gewoonte. Sien ons nie meer onhigieniese toestande raak nie. Vuil vloere, winkelrakke, broodmandjies, vuil klere aan assistente en ou toonbanke en ons druk ons bankkaarte in ou smerige masjiene. Maar se dit net vir die winkeleienaars en andere en kyk wat is die reaksie… Die mense is geskok… dat jy so verwaand kan wees om dit te durf se… en so boer ons voort. Ekskuus dat ek leef en wees maar die minste… en dit gaan ons in smerige hospitale laat beland en…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.