Listeriose: Dodetal styg skerp

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Meer as 700 gevalle van listeriose is reeds in Suid-Afrika bevestig en minstens 61 mense het reeds weens dié siekte gesterf.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het dié getalle Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria bevestig. “Daar is 727 gevalle van listeriose in die land deur laboratoriums bevestig. Dit beteken sedert ons vorige mediakonferensie op 5 Desember 2017 het nog 170 bykomende gevalle aan die lig gekom,” het Motsoaledi gesê.

“Van hierdie 170 het 51 al voor 5 Desember 2017 gebeur, maar namate ons soektog [na die oorsprong van die uitbreking] voortgaan, het dié gevalle aan die lig gekom. Daarom het daar 119 nuwe gevalle gebeur sedert ons vorige mediakonferensie.”

Motsoaledi het by die vorige mediakonferensie gesê 36 mense het al aan listeriose gesterf. “Uit die 727 gevalle wat deur laboratoriums bevestig is, kon ons net 134 van die pasiënte opspoor. Dit is gelykstaande aan 18%,” het hy gesê.

“Dit beteken ons het nog ʼn lang pad voor in ons soektog. Van die 134 pasiënte wat opgespoor is, het 61 mense gesterf.”

Die minister het gesê ʼn monster wat geneem is van hoender in een van die pasiënte se yskas het positief getoets vir listeria. Die hoender se oorsprong is teruggespoor na die winkel en toe na die slagpale waar dit vandaan kom. As voorsorgmaatreël is die slagpale in kennis gestel van ʼn verbodsbepaling hangende nadere ondersoek.

Motsoaledi het gesê al die monsters wat by die abattoir geneem is, het tot dusver negatief getoets vir die stam van die uitbreking.

Listeriose gaan gepaard met simptome soortgelyk aan griep soos diarree en koors, lyfseer, braking en swakheid. Dit kan lei tot die infeksie van die bloed of meningo-ensefalitis wat inflammasie van die brein en omliggende weefsel insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sies! ·

Mens moet maar daai underdone steaks los – maak alles GOED gaar

LB ·

Is dit nie dalk nodig om alle takke van wegneem restaurante wat veral hoender verkoop te ondersoek nie. ‘n Tyd gelede was daar foto’s van ‘n tak van so ‘n bekende hoender eetplek waar die hoenders agter die winkel geslag was en dinge nie skoon en aangenaam gelyk het nie. Ek het ‘n maand gelede daar ‘n wegneem ete gekoop en baie siek geword.

Speedguard ·

En jy koop nog steeds daar ???? Soos ouboet sal se “Ook maar lekker stupid”

Susan ·

Dit kom nie net in hoender voor nie, groente, vrugte oral. Was alles deeglik en was oppervlakte voor elke groente ens voorberei word. Die kiem kies ook nie by watter winkel jy koop.

Santjie ·

Miskien is die oorsprong dalk al die besoedelde riviere agv riool wat vrylik daarin gestort word, wat dan gebruik word vir besproeing etc

Rose ·

In Glen Austin – Midrand (in omgewing van hospital in Dane Road) – is daar ‘n verskriklike vrot reuk (dink hier is ‘n rivier naby) – dis walglik…

Von ·

Snaaks fout ooral gesoek behalwe vieslike water . Babas hoogste gevalle , hulle eet nie vleis of groente nie ?……

Santjie ·

Moontlik is die oorsaak al die riool besoedelde riviere wat gebruik word vir besproeing van groente en vir vee etc.

HIGIENE ·

Janee ek het ook die ding so geluister en skielik word daar beweer dat pasgebore babas die VATBAARSTE is. Tog sluit hulle slaghuise wat onder verdenking is asook het daar al vegetariers wat NET groente en vrugte eet gesterf. Nou HOE kry pasgebore babas groente, vrugte of vleis in? Soos ‘n kommentator hierbo gese het , dit moet water of net plein SWAK HIGIENE wees, want nie noodwendig met vleis of groente te doen het nie maar met die ONHIGIENIESE toestande waarin alle kosprodukte hanteer word . so ook babas se bottels, water ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.