Listeriose: Nóg produkte herroep

‘n Mikroskopiese blik op listeriose.

Tiger Brands het Maandag gesê daar is besluit dat alle produkte onder die handelsmerk Value Added Meat Products (VAMP) by die maatskappy se Pretoria-fabriek herroep sal word nadat tekens van listeria ook by hierdie fasiliteit waargeneem is.

“Vervaardiging by die fabriek, wat die maatskappy se SNAX-handelsmerk vervaardig, sal ook opgeskort word,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê. “Die besluit is geneem weens die opsporing van Listeria monocytogenes by die fasiliteit, na aanleiding van verbeterde toetsprotokolpraktyke wat ingestel is.”

Tiger Brands het op 5 Maart aangekondig dat hy onmiddellik sy Enterprise-reeks van verwerkte kouevleisprodukte herroep nadat die minister van gesondheid dit as die bron van die dodelike listeriose-uitbreking geïdentifiseer het.

Laurence MacDoughall, Tiger Brands se uitvoerende hoof, het egter later aan verslaggewers gesê daar is geen direkte verband tussen die dood van die meer as 180 mense wat aan listeriose gesterf het en die maatskappy se produkte nie.

Maandag het die maatskappy gesê hy het die jongste besluit oor die Pretoria-fabriek geneem nadat Listeria monocytogenes ook hier waargeneem is.

“Gegewe die staking van bedrywighede by die Polokwane- en Germiston-persele, wat die primêre ontvangers van die produksie van die maatskappy se Clayville-slagpale is, word bedrywighede by dié slagpale ook verminder met die oog daarop om bedrywighede teen 31 Maart 2018 heeltemal te staak.”

Die geraamde koste van die herroeping van produkte en staking van bedrywighede by die maatskappy se persele in Polokwane, Germiston, Pretoria en Clayville – waaronder die koste van die vernietiging van die aangetaste produkte, rou materiale en produkte wat nog in die vervaardigingsproses was – is tussen R337 miljoen en R377 miljoen op ʼn voorbelasting-grondslag.

“Die VAMP-besigheid sal na raming ʼn verlies (voor rente en belasting) aanteken van tussen R28 miljoen en R33 miljoen vir die Maart-handelstydperk wat van 25 Februarie tot 31 Maart duur,” het die maatskappy gesê.

“In hierdie stadium is dit nie duidelik wanneer die bedrywighede by die Polokwane-, Germiston-, Pretoria- of Clayville-fasiliteite hervat sal word nie.”

ʼn Hofaansoek is Vrydag aan Tiger Brands beteken waarin die grondwetlikheid van twee klasse-eise aangevra word. Die eerste bestaan uit alle mense wat die verwerkte vleisprodukte wat deur die maatskappy vervaardig is, ingeneem en daarvan siek geword het tussen 1 Mei 2017 en die dag waarop die dagvaarding vir die klasse-eis uitgereik is.

Die tweede klasse-eis is van toepassing op die afhanklikes van hierdie mense.

Die algehele bedrag wat van Tiger Brands en sy filiaal Enterprise Foods geëis word, is na raming R425 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

Hierdie is net die voorloper van die papaja wat die waaier gaan tref. Die feit dat daar ‘n uitbraak was in een van die mark leiers se verskillende aanlegte , is eier wat ontplof in die gesigte van departmente gesondheid asook handel en nywerheid. Die volgende is ecoli en cholera agv besoedelde water , en op wie se skouers gaan die skuld geplaas word ?

Cherokee ·

Die geveg teen nikotien het hope rokers laat ophou rook. Miskien is dit tyd vir ‘n volgende veldtog – vegetariese veldtog. Dan kan ons Vrydagaande eiervrug braai.

Piet Pompies ·

Die verlies is die gevolg van die gebruik van byprodukte wat ingevoer is van lande met swak gesondheids standaarde. Dit is nie die staat se skuld, die staat is net die reguleerder, die invoerder moet self die reels nakom en sy ingevoerde produkte toets vir siektes. Om winste te verhoog word goedkoop afval van ander lande ingevoer. Kyk, as jy ‘n luiperd met ‘n stok slaan, gaan hy jou byt, verseker. As jy slegte byprodukte in jou vervaardigings proses gebruik, gaan jy slegte produkte produseer.

Blondie ·

Want ons mense staak alewig ens daarom is dit goedkoper om produkte wat reeds verwerk is in te voer as om dit plaaslik deur ondankbare mense te laat vervaardig.

Penelope ·

Spar adverteer groot dat hul “spar produkte” veilig is, maar WAAR word dit verpak? Is daar toetse gedoen om te verseker dat dit veilig is? Ons sal graag wil weet….

Vermeendes ·

Nee Piet Pompies, dit is 100% die staat se skuld, dit is wat gebeur as jy handelsooreenkomste aangaan met lande wat nie veel waarde aan kwaliteit heg nie maar net wins gedrewe is.
Hoekom ry geen minister n Tata nie, almal ry duur duitse motors maar die publiek moet tevrede wees met n lae graad produk uit die Ooste. Die regering het SA in die BRICS groep in waar hulle handel promoveer. Hoekom? Want BRICS ondersteun die ANC.

Spar Werker ·

Penelope gaan op Spar se webwerf in jy sal al die inligting kry as jy nie daar kan lees of verstaan nie kontak my dan mail ek jou die inligting hou op om op die wa te spring sonder feite

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.