Listeriose: Pasgebore babas loop die grootste gevaar

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die regering het Maandag gesê hy beoog verskeie ingrypings in die gesondheidsektor met ʼn spesifieke fokus op swanger vroue en pasgebore babas om dié kwesbare groepe teen listeriose te beskerm.

Dit volg nadat ʼn studie vasgestel het dat pasgebore babas tot en met 28 dae oud die grootste gevaar loop om dié siekte op te doen.

Meer as 700 gevalle van listeriose is reeds in Suid-Afrika bevestig en minstens 61 mense het reeds weens dié siekte gesterf.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Maandag gesê dié studie, wat glo persone in ouderdomsgroepe van pasgebore tot 93 jaar gekategoriseer het, het vasgestel dat 40% van die listeriose-gevalle in Suid-Afrika by babas gediagnoseer is.

Volgens die studie het 96% van die babas listeriose opgedoen in die baarmoeder nadat die siekte deur hul ma’s aan hul oorgedra is.

Motsoaledi het gesê gesondheidswerkers landwyd moet daarom “spesiale aandag aan swanger vroue gee” om die oordrag van die siekte te probeer verhoed.

“Wees deurgaans bewus [vir tekens van die siekte], hetsy by ʼn voorgeboortekliniek, in ʼn kraamsaal of ʼn neonatale-eenheid,” het hy gesê.

Die gesondheidsdepartement het in 2014 ʼn program, getiteld MomConnect, aangekondig waar swanger vroue kan registreer om voor en ná die geboorte van kinders gesondheidswenke en ander inligting te ontvang. Soveel as 1,2 miljoen vroue word jaarliks swanger in Suid-Afrika.

Motsoaledi sê hy het nou opdrag gegee dat dié program meer inligting rakende listeriose aan verwagtende vroue stuur. “Ons doen ʼn beroep op meer swanger vroue om by MomConnect te registreer – of hulle nou in private of openbare gesondheidsorg behandel word. Ons kan voornemende ma’s in tye soos dié makliker per SMS bereik.”

Ander groepe wat volgens die studie kwesbaar is vir listeriose sluit in bejaardes en mense met swak immuunstelsels –onder meer lyers van MIV/vigs, diabetes en ander chroniese siektes soos kanker en nier- en lewersiektes.

Listeriose gaan gepaard met simptome soortgelyk aan griep soos diarree en koors, lyfseer, braking en swakheid. Dit kan lei tot die infeksie van die bloed of meningo-ensefalitis wat inflammasie van die brein en omliggende weefsel insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Listeriose is ‘n term om die ware verval van ons mediese dienste te probeer toesmeer. Wanneer laas is daar van listeriose globaal gepraat? Wie het dit in uit ‘n mediese handboek gaan snuffel. Disentrie, breinvliesontsteking en… en…. wat probeer die minister doen? Waarom het ons nie meer gesondheidsinspekteurs wat eetplekke, slaghuise ens besoek nie. Higiene word nie in Afrika ernstig opgeneem nie. Rotte en muise loop snags tussen voedselware rond. Dis duidelik dat ons antibiotika nie die probleem kan vasvat nie. Ons moet skrik…

HIGIENE ·

Dis VUIL, alles is VUIL< hospitale is VUIL, restaurante is VUIL, waar daar kos voorberei word is dit VUIL, mense berei kos met VUIL hande voor, mense gee jou kos aan met VUIL hande, want daar is geen reels en dissipline meer in SA nie. Soos iemand hierbo noem, WAAR is die gesondheidsinspekteurs wat al die jare restaurante en eetplekke gaan besoek het? WHO CARES?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.