Listeriose plaas soeklig op voedselveiligheid

listeriose-01

Foto: Nathan Reading/Commons.wikimedia.org

Die plaaslike listeriose-uitbreking, wat volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) die grootste aangemelde uitbreking van die siekte nog is, het die klem opnuut op die belangrikheid van voedselveiligheid geplaas.

Rolf Uys, van die voedselveiligheidsopleiding en raadgewende maatskappy Entecom, sê in sy byna 15 jaar as voedselveiligheidsouditeur het hy meer as 1 500 voedselfabrieke geoudit. Daartydens het hy heelwat oor voedselveiligheid en beste praktyke geleer, maar ook die slegte kant van voedselveiligheid in dié bedryf gesien.

Maroela Media het vroeër berig dat daar reeds sowat 750 gevalle van die siekte aangemeld is en minstens 61 mense het reeds weens die siekte, wat deur ʼn bakterie oorgedra word, gesterf.

“Hoewel Suid-Afrika strawwe gesondheids- en veiligheidsregulasies het, het die owerhede nie die hulpbronne en infrastruktuur om dit behoorlik toe te pas nie. Gevolglik laat dit die deur oop vir misbruik en kortpaaie, veral as daar druk op die finansiële prestasie van ʼn maatskappy is.”

Volgens Uys is van sy ergste bevindings as voedselveiligheidsouditeur urinering binne voedselfabrieke; vlieglarwe, skimmel en fermentasie in produksones; insekbesmetting in meelsilo’s en -vragmotors; lewende rotte en muise in produksiegebiede; dooie rotte in toerusting en knaagdiermis op rou materiaal; kakkerlakke wat oor voedsel-hanteringstoerusting kruip; omseiling van kritieke beheerpunte om produksie te verhoog en ontlasting agter ʼn elektriese paneel.

“Daar is natuurlik nog baie meer om by die lys te voeg en dit sentreer rondom die diep skoonmaak van toerusting en die dissipline van personeel. Voorts moet daar uitgewys word dat dit nie die eerste oudits van klein agterplaasbedrywighede was nie. Die meeste was groot, welbekende voedselvervaardigers, met talle voedselveiligheidsertifikate. Dit is ongelukkig so; as ʼn mens weet waar om te kyk, is die voedselbedryf nie ʼn baie higiëniese plek nie.”

Volgens Uys is die internasionale ervaring dat voedselverwante siektes aan die toeneem is. In Amerika wys syfers van die Centres for Disease Control and Prevention dat jaarliks ongeveer een uit ses mense siek raak van voedselverwante siektes terwyl 128 000 in die hospitaal opgeneem word en 3 000 sterf.

“Wanneer mense siek word weens voedselbesmetting, is vinnige optrede nodig om die voedselprodukte en die fasiliteite wat die kos verwerk en verskaf het, te identifiseer en te isoleer. Dit moet gedoen word om die bedreiging doeltreffend te beheer. Die middele om dít te doen, sluit in regulatoriese prosesse en prosedures en vroeë waarskuwingstelsels wat die uitwerking van sulke gevalle sal voorkom of tot ʼn minimum beperk,” sê dr. Hennie Ras, hoofspesialis van naspeurbaarheid en bedryfsigbaarheid van IQ Logistica.

Die departement van gesondheid het vasgestel dat die jongste listeriose-uitbreking tot ʼn enkele bron van voedselbesmetting nagespeur kan word, dit wil sê ʼn enkele, wydverbruikte voedselproduk of verskeie voedselprodukte wat by ʼn enkele fasiliteit geproduseer word.

Dit is egter kommerwekkend dat die gesondheidsowerhede nog nie die spesifieke voedselproduk of die spesifieke vervaardigingsaanleg geïdentifiseer het nie.

“Totdat die spesifieke voedselbron en -aanleg geïdentifiseer word, is daar nie veel wat gedoen kan word om die verspreiding van die siekte te isoleer nie,” sê Thomas Robbertse, uitvoerende hoof van IQ Logistica.

Dr. Ras sê die vinnige en doeltreffende isolasie en herroeping van die aangetaste produkte sal baie afhang van die naspeurbaarheid van die spesifieke produkte. “Om die beweging van ʼn produk doeltreffend en op ʼn optimale wyse in ʼn waardeketting na te spoor, verg dat ʼn naspeurbare ouditspoor tot op enkelprodukvlak gedoen moet word. Dít moet terselfdertyd ʼn intydse oorsig gee van itemhanteringsgebeure waaraan spesifieke voedselitems in die hele waardeketting onderworpe is – dit wil sê vanaf primêre produksie, deur al die intermediêre stadiums van waardetoevoeging tot waar die produk finaal verbruik word.”

ʼn Paneel kenners wat vroeër vandeesmaand tydens ʼn mediakonferensie van die Nasionale Persklub die media toegespreek het oor die siekte, het egter gesê die privaat sektor doen tans alles in sy vermoë om te verseker Suid-Afrika se voedsel is veilig vir verbruikers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

En so word NOG n kritiese noodsaaklikheid in SA lamgele deur absolute onbevoegdheiden onverandwoordbaarheid. Als wat eens effektief gewerk het is tot in die afgrond verwoes en leeg gedra. ANC LEGACY.

Johan ·

Mens moet seker ook onthou dis dieselfde kaliber mense wat vir die Life I sediment tragedie verantwoordelik was wat vir voedsel gesondheid en kwaliteit moet sorg. (Mens kan immers nie sê “verantwoordelik” moet wees nie)

Ansie ·

Vind uit hoeveel muise en rotte is in nedersettings dis n epidemie het inligting dat doeke en Kos in strate le
en is in huise hulle hardloop oor Kos en dink self wat gebeur Onthou die Swart dood in die middel eeue veroorsaak deur rotten no will regering uile invoer gaan nie help nie gif gaan hulle doodmaak

Mariaan Viljoen ·

My dierbare 82 jarige vader is ‘n lopende wonderwerk waarvoor ons ons Hemelse Vader loof en dank – hy het listiriose oorleef!! Daar is aanvanklik gese hy het geen kans op oorlewing nie agv infeksietelling van 200+ (5 is normaal….) (toe nog nie besef hy het Listiriose nie) Glo my, dit was verskriklik – sal almal aanraai om noukeurig op te let na die simptome en dadelik ‘n dr te raadpleeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.