Listeriose: ‘SA se voedsel is veilig’

linda-jackson-listeriose-npc-01

Linda Jackson van Food Focus, ʼn maatskappy wat opleiding en ouditering van voedselveiligheid doen, het benadruk verbruikers kan self baie doen om listeriose te verhoed. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Paneellede wat Donderdag tydens ʼn mediakonferensie van die Nasionale Persklub verdere lig op die onlangse uitbreking van listeriose gewerp het, het gesê die privaat sektor doen tans alles in sy vermoë om te verseker Suid-Afrika se voedsel is veilig vir verbruikers.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Maandag gesê laboratoriums het reeds 727 gevalle van listeriose bevestig en 61 mense het reeds weens dié siekte gesterf. Sowat 40% van die sterfgevalle is pasgebore babas wat die siekte van geïnfekteerde ma’s opdoen.

Die uitbreking van die siekte is die grootste in 40 jaar met die hoogste sterfgetalle aan listeriose aangemeld, maar die paneel het gesê die siekte is beslis nie slegs eie aan Suid-Afrika nie.

Linda Jackson van Food Focus, ʼn maatskappy wat opleiding en ouditering van voedselveiligheid doen, Matlou Setati van die Verbruikersgoedereraad van Suid-Afrika en dr. Requier Wait van Agri SA het tydens die mediakonferensie verduidelik watter rol die privaat sektor tans speel om listeriose te bekamp en die oorsprong van die siekte op te spoor. Jackson en Setati het in die gesprek talle kere benadruk dat Suid-Afrika se voedsel veilig is om te eet.

Volgens Jackson het die VSA in die afgelope klompie jare reeds met drie ernstige uitbrekings van die siekte te doene gehad, terwyl Europa tans ook ʼn uitbreking van listeriose in verskeie lande hanteer.

“Dit is egter kommerwekkend dat ons die grootste getal sterftes aan die siekte het,” het sy gesê.

Jackson en Setati het bevestig die privaat sektor wil ook die oorsprong van die siekte vasstel en veral verskaffers in die kleinhandelbedryf doen reeds baie om voedselveiligheid te verseker. “Ek kan julle verseker die maatreëls rakende voedselveiligheid het in die afgelope tien jaar strenger geword,” het Jackson bygevoeg.

Sy het gesê terwyl die informele bedrywe nie aan dieselfde maatreëls hoef te voldoen nie, is daar steeds ʼn groot mate van selfregulasie omdat verbruikers vinnige en direkte terugvoer aan straatverkopers kan gee. Voorts is hulle voedsel ook dikwels veiliger omdat dit vanoggend gemaak is en byvoorbeeld nie lank geberg hoef te word nie.

Volgens die paneellede is die listeriose-patogeen veral uitdagend omdat die bakterieë vinnig kan ontwikkel en aanpas. Boonop kan iets soos die grond waarin groente verbou word die oorsprong van die bakterieë wees.

“Ons is egter oorval deur mense wat hulle hulp en kennis aanbied om die oorsprong van die siekte te vind. Dit is vir almal belangrik om die uitbreking stop te sit omdat dit boonop ook nog ekonomiese implikasies kan inhou,” het Jackson gesê.

Matlou en Jackson het gesê verbruikers hoef nie heeltemal magteloos teen die siekte te voel nie.

“Daar is baie wat hulle kan doen om die verspreiding van listeriose te bekamp. Dit is hier waar die etikette vir gebruiksaanwysings op voedsel baie belangrik word. Moet asseblief nie kos ná ʼn beste-voor-datum eet nie. Onthou, listeriose kan steeds vermenigvuldig selfs as die voedsel in ʼn yskas geberg word.”

Matlou het ook gesê verbruikers moet eerder kossoorte soos vleis en groente apart voorberei. “Dit is ook belangrik om jou inkopies vanaf die seeprakke na die bevrore- en varsprodukterakke in ʼn winkel te doen om te verseker die produkte is nie te lank uit die ys- en vrieskaste nie.”

Matlou het gesê verbruikers wat vermoed ʼn produk is met listeriose besmet, moet dit na die winkeleienaar waar die produk aangekoop is, terugneem. “Die meeste winkeleienaars is teen dié tyd van die siekte bewus en weet watter prosedures gevolg moet word om die oorsprong van die besmette produkte op te spoor.”

Listeriose gaan gepaard met simptome soortgelyk aan griep soos diarree en koors, lyfseer, braking en swakheid. Dit kan lei tot die infeksie van bloed of meningo-ensefalitis wat inflammasie van die brein en omliggende weefsel insluit. Swanger vroue, babas, bejaardes en siek mense is veral vatbaar vir die siekte.

Jackson het ook benadruk dat verbruikers die wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se vyf maatreëls vir voedselveiligheid moet nakom om listeriose te help voorkom.

Die maatreëls is:

  • Was jou hande voor en terwyl jy kos voorberei.
  • Hou rou en gaar kosse apart van mekaar.
  • Maak kos deeglik gaar en moet nooit halfgaar of rou kosse eet nie, veral nie vleisprodukte nie. Kos wat rou geëet word, moet deeglik onder lopende water gewas word. Gesinne wat nie toegang tot lopende water het nie, moet eers die water kook waarin hulle rou kos wil was.
  • Berg kos by veilige temperature.
  • Gebruik veilige water vir huishoudelike gebruik en gebruik gepasteuriseerde melk. Indien pasteurisasie nie moontlik is nie, moet die melk gekook word voor gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riette ·

Ek’s nou dalk nie die slimste peanut in die pakkie nie, maar, ek volg Carte Blanche se programme oor die besmette riviere, suiwerings werke wat verouderde toerusting het ens ens……miskien moet hulle daar kyk?
En?? “as jy vermoed ‘n produk het listerose vat dit na die winkeleienaar”??
Hoe gaan ek weet die produk het dit??

julius ·

Riette, ek is nog steeds in die donker oor die oorsprong daarvan. Die ondersoek beteken niks vir ons nie. Hoekom sê hulle nie waar kom dit vandaan nie, omdat hulle nie weet nie?

ek sê maar ·

Jip Anton, en die wat so graag hul vleis half-rou eet ook.

Cobus ·

Die gedeelte oor die informele bedrywighede is belaglik. Hulle koop produkte van ander informele handelaars en hulle produkte se oorsprong is glad nie naspeurbaar nie tog word hulle produkte “veiliger geag” regtig?

Takkie ·

Ergste in 40 jaar? Dis die eerste keer in 50 jaar wat ek van die siekte hoor. Het dit dalk n ander naam ook?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.