Soorte resepte:

Lizz en Elzabé vier saam Nasionale Melktertdag

Lizz Meiring (Foto: Facebook) en Elzabé Zietsman (Foto: Twitter)

Lizz Meiring (Foto: Twitter) en Elzabé Zietsman (Foto: Twitter)

Melktert is so Afrikaans soos koeksisters, braaivleis, biltong en droëwors, en nou is daar boonop jaarliks ʼn Nasionale Melktertdag op 27 Februarie.

ʼn Facebook-blad is spesiaal vir dié geleentheid op die been gebring met foto’s van Nasionale Melktertdag wat al van 2013 gevier word.

Elzabé Zietsman het aan Maroela Media gesê sy dink nie ʼn mens kan in Suid-Afrika gebore wees en nie lief wees vir melktert nie. “Tensy daar êrens ʼn geweldige skroef by jou los is of tensy jy ʼn geweldige allergie vir melk het,” sê sy. “Soos die meeste ander mense in Suid-Afrika het ek nogal ʼn groot liefde vir ʼn melktertjie.” Sy het nie ʼn spesifieke of grand melktertresep nie. “Ek bak vir hom reguit uit die Kook en Geniet. Hoekom wil jy nou gaan peuter aan iets wat klaar reg is?”

Vir Lizz Meiring was haar ouma se melktert die lekkerste. “Ek onthou my ouma het altyd een met ʼn skilferkors gebak,” het sy aan Maroela Media gesê.

Volgens HW Claassens in haar boek, Die geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806, dateer melktert uit die tyd toe die Hollanders hulself in die 1600s in die Kaap kom vestig het. Daar is egter ook mense wat reken melktert is gebaseer op ʼn resep wat Thomas van der Noot in 1510 sy boek, Boeken van cokerijen opgeteken het.

Die oorsprong van die Vlaamse Mattentaart word ook op dieselfde resep van Van der Noot baseer. Die dorpie Geraardsbergen in België vier op sy beurt elke eerste Sondag van Augustus Mattentaartdag.

Melktert sonder kaneel is ondenkbaar. Volgens Bastardo Wingerd & Wynkelder se blog, het Egiptenare al 2 000 jaar voor Christus kaneel uit China ingevoer. God beveel in Eksodus 30:23 Moses om kaneel en kassie te gebruik om ʼn gewyde salfolie te maak. Selfs die boek Spreuke verwys na kaneel.

Melktert

Melktert

Herodotus, ʼn klassieke skrywer, het gehoor van groot voëls wat nesmaak in die hoogste bergpieke. Die neste is gemaak van kassie en kaneel, maar die neste was te hoog vir mense om tot daar te klim en hulle moes ʼn ander plan beraam om by die neste uit te kom. Hulle het groot stukke vleis op die grond naby aan die nes gelos sodat die voëls die vleis na die nes moes dra. Die vleis was egter te swaar vir die neste en dit het gebreek en afgeval. Die mense het die kassie en kaneel op die grond bymekaargemaak.

Koning Nero het glo in die jaar 65 nC ʼn hele jaar se voorraad kaneel verbrand vir sy vrou, Poppaea Sabina, se begrafnis. Hy was so lief vir Poppaea, dat hy sy ma, Agrippina vermoor het om met haar te trou. Die begrafnis was vreeslik spandabelrig, want een pond kaneel het in daardie tyd 300 denares, gelykstaande aan 10 maande se loongeld, gekos.

Kaneel kom van die binneste bas van ʼn klein immergroen boompie (Cinnamomum verum), inheems aan Sri Lanka en Suid-Indië. Die bome groei tot 15 m hoog. Die binneste dun bas (ongeveer 0.5 mm) word gebruik vir kaneel.

Die Voortrekkers het kaneel gebruik om verkoues te genees en diarree te behandel. Dit is selfs as insekweerder aangewend.

“Melktertresep” lewer meer as 35 000 trefslae in ʼn Google-soektog op, en “Melktert resep” meer as 223 000. Soek jy net vir “Melktert”, gaan jy deur bykans 400 000 resultate moet soek.

Maroela Media se resep, “Tannie Nella se vinnige melktert”, bly ʼn gunsteling onder lesers en was in 2013, naas melkkos, die tweede gewildste resep op Maroela.

“Ek salueer al die melktertbaksters in die wêreld,” sê Lizz Meiring verder. “Nie net die Afrikaanse of Suid-Afrikaners nie, maar dié wat dit oor die wêreld bak. Ek dink hulle is fantasties en sê vir hulle dankie dat hulle daar is om die tradisie van ʼn wonderlike gereg voort te sit.”

boerekosWEN! Maroela Media is ook op soek na ‘n verskeidenheid van melktertresepte. Plak jou gunstelingresep in die kommentaargedeelte op dié Facebook-plasing, of stuur ‘n e-pos na [email protected]. Die kreatiefste resep wen die boek Boerekos met komplimente van Lapa Uitgewers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karen Gess ·

Ek is n rooinek wat in suid afrika gewoen vir omtrent 30 jaar, ek weet my afrikaans is swaak, jammer! ek soek n maaklike maar smaaklike resep vir melk tert , ek wil dit maak vir my kinders maar ek is nie baie goed in die kombius, dankie xx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.