Lizz en Kie. hou pot aan kook vir sitstakers

Lizz Meiring en Kie. se groente- en beesbredie vir sitstakers. (Foto:Verskaf)

By Lizz Meiring se huis word daar nou al dae lank ʼn storm los gekook. Saam met haar huismaats Jak Brits en Yvette Hanekom en ander vrywilligers word daar 45 maaltye per dag voorberei en dan by die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantoor in Newtown, Johannesburg, afgelaai.

Meiring het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dat hulle van Vrydag (12 Maart) op dié wyse steun verleen aan sowat 15 kunstenaars wat sedert 4 Maart by die kunsteraadkantoor aan ʼn vreedsame sitstaking deelneem.

So word die pot aan die kook gehou terwyl hul kamerade by die kantoor deurnag. En wie het gedink dat ʼn pot wat Meiring jare gelede vir ʼn produksie gekoop het nou weer afgestof sou word?

“Dit is nou vir jou ʼn interessante storie,” skerts Meiring. “Ek het die enorme pot destyds vir ʼn rekwisiet gebruik. Gister sê Yvette vir my: ‘Ons het dit gebruik om kuns te maak, nou gebruik ons dit om die kunste te voer’.”

Jak Brits is besig om die pot aan die kook te hou. (Foto: Verskaf)

Al laggend word daar daagliks gewerskaf ter wille van ʼn saak wat hulle na aan die hart lê – en volgens Meiring deur elke teaterliefhebber ondersteun behoort te word.

Buiten vir die gekookte maaltye, waarvan Meiring die eerste aflewering uit haar eie sak betaal het, word daar ook in ander behoeftes voorsien soos lugtyd en data, toiletware, sowel as petrolgeld vir kunstenaars se vervoer na die kantoor. Verskeie restaurante en anonieme skenkers het ook bydraes gelewer.

“Wat hierdie protes anders maak is dat daar pertinente vrae gevra word en dit is nie net ʼn klomp mense wat gil en skree en plakkate rondswaai nie,” sê Meiring.

Die sangeres Sibongile Mngoma het die eerste keer op 1 Maart op haar eie by die kantoor deurnag in ʼn poging om antwoorde van die raad te kry oor uitbetaling van R300 miljoen se noodfinansiering aan die kunstebedryf.

“Ek weet mense is moeg vir kunstenaars wat kla. En ek besef ons is nie die enigste bedryf wat swaarkry nie. Maar wat persone buite die kunstebedryf moet verstaan is dat kunstenaars nie hier besig is om te bedel nie. Ons wil werk!”

Meiring verduidelik dat die geld wat aan kunstenaars belowe is, hulle onder meer in staat sou stel om voort te gaan met projekte wat reeds goedgekeur is. “Ons het net soos enige ander mense spertye. Kunstenaars het dit toe op eie risiko voortgesit net om nou te hoor dat daar nie meer ʼn reddingsboei vir hulle is nie.”

Lizz Meiring. (Foto: Piers Braybrooke)

Wat ʼn mens soms vergeet is dat die kreatiewe bedryf nie net uit akteurs bestaan nie, maar ʼn magdom ondersteuningpersoneel en ander genres insluit. Dink byvoorbeeld aan tegnici, lokaalbestuurders en hulle personeel, organiseerders en grafiese ontwerpers wat plakkate verskaf. Wat van radiostasies, ad lib- (“buskers”, oftewel straat- of kroegkunstenaars) en mimiekkunstenaars, ontwerpers en werkers wat verhoë verf of stelle bou?

Volgens Meiring strek die sitstaking dus verder as die kunsteraad se versuim om noodfondse uit te betaal. Die bedryf het genoeg gehad. Kunstenaars dring nou aan om die korrupsie op beskaafde wyse oop te vlek en op antwoorde te wag oor waar die geld is.

Meiring doen ʼn beroep op die gemeenskap om die inisiatief te ondersteun deur boodskappe, foto’s en video’s van bemoediging op Creative Survivor SA se Facebook-blad te gaan deel.

“Sê dankie vir die mense wat veg. Vir Sibongile en 12 ander wat nou al 14 dae by die kunsteraadkantoor sit. Bied hulp aan en raak betrokke. Onthou, professionele kunstenaars wat staak veg vir almal. Dit gaan nie oor ‘n spesifieke kultuur nie. Dit gaan oor die behoud van die kunste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Sarel

Gesels met Nathi Mthetwa…..waar is die geld…..