Llama-projek, want ‘23 jaar se familiebesigheid kán nie tot niet gaan’

Faansie Terblanche is die eienaar van die Wag ʼn Bietjie-kamp en Die Plaaswerf op Olifantsfontein, waar kinders die geleentheid kry om plaasdiere te leer ken. (Foto: Verskaf.)

“Dit is vir ons ontsettend moeilik om nou tydens die Covid-19-pandemie na die gemeenskap toe te draai vir hulp, veral omdat ons nog altyd in staat was om net waarde en goeie herinneringe tot hul lewens te kon bydra, maar ons steek ons hande op en vra vir die gemeenskap om ons te help om tot by 2021 uit te kom en te oorleef.”

Dit is die pleidooi van Faansie Terblanche, eienaar van die Wag ʼn Bietjie-kamp en Die Plaaswerf op Olifantsfontein, wat al die afgelope 23 jaar jaarliks sowat 30 000 skoolkinders op ʼn intieme en opwindende wyse van plaas- en ander diere leer.

“Met die familiebesigheid se surplus geld kon ons vir die afgelope vyf maande tydens die staat van inperking tot vandag toe kop bo water hou, maar daardie geld is nou amptelik klaar en ons het hulp nodig om 2021 te sien,” vertel hy met plaasdiere wat in die agtergrond ʼn bohaai maak.

Wag ʼn Bietjie-kampterrein en Die Plaaswerf is in 1997 gestig en spog met 23 jaar se voortreflike diens aan verskeie skole, kerke en ander groepe in die land. Hulle het in totaal 70 mense wat direk afhanklik van die besigheid se voortbestaan is, insluitend ʼn plaaswerf vol diere wat gevoer en versorg moet word.

“Covid-19 en die voortdurende staat van inperking het ʼn enorme invloed op besighede in Suid-Afrika. Ons twee besighede is geen uitsondering nie en die laaste paar maande was besonder uitdagend vir ons. As ʼn direkte gevolg van die inperkingsmaatreëls het ons sedert middel Maart 2020 geen besigheid of inkomste vanaf kliënte ontvang nie,” vertel Terblanche.

Hoewel vlak twee van Suid-Afrika se inperking vandeesweek in werking getree het, sit Faansie en sy familie-onderneming steeds met hul hande in hul hare van frustrasie. “Ons is onseker oor wanneer ons bedryf werklik weer toegelaat sal word om normaal te funksioneer, veral vanweë die feit dat ons klante hoofsaaklik uit skool- en kerkgroepe bestaan. Die departement van onderwys het alle uitstappies en buitemuurse aktiwiteite vir skole vir die res van die akademiese jaar gekanselleer en daarmee in praktyk ongeveer 95% van ons inkomste afgesny. Ons is afhanklik van skole en groepe om voort te bestaan.”

Dit het hulle egter nou laat plan maak om alternatiewe befondsing te kry omdat hulle ook nie daarin kon slaag om hulp in die vorm van lenings te bekom nie. “Ons maandelikse uitgawes is sover as moontlik gesny, maar vaste uitgawes bly steeds hoog. Daarom het ons nou ons Llama-projek begin,” vertel hy opgewonde.

Die Llama-projek is ‘n poging om op ‘n ander manier die kamp en plaaswerf te befonds. (Foto: Verskaf.)

In ʼn poging om die oorlewing van Wag ʼn Bietjie en Die Plaaswerf te verseker het ons besluit om The Farm Yard Llama Project te begin. Die doel van fondse wat op hierdie wyse bekom word, is om hulle in staat te stel om steeds na hul diere om te sien en te help met die maandelikse uitgawes wat steeds betaal moet word. “Hierdie projek sal ons in staat stel dat Wag ʼn Bietjie en Die Plaaswerf albei nog vir baie jare in die toekoms leerders en ander besoekers sal kan verwelkom.”

Met Die Plaaswerf Llama-projek word lede van die publiek gevra om vir die volgende ses maande ʼn maandelikse bydrae van R200 te maak. “Ons vra die gemeenskap om asseblief saam met ons te staan en ons te help om tot by 2021 uit te kom. Ons het nie ʼn plan B met ons personeel en ons diere nie. Hierdie is dit vir ons en ons hoop dat die gemeenskap saam met ons sal hande neem sodat ons met hierdie projek in staat sal wees om te sorg dat Wag ʼn Bietjie en Die Plaaswerf albei nog vir baie jare in die toekoms leerders en ander besoekers sal kan verwelkom.”

Die naam vir die projek is ook nie toevallig nie. “Llamas is ongelooflike sosiale diere en in gevalle waar hulle uit hul trop verwyder word en deel vorm van byvoorbeeld ʼn trop skape, is daar al bevind dat hulle geweldig beskermend optree. Net so moet ons nou mekaar as ʼn gemeenskap in hierdie aaklige tyd beskerm en ondersteun. Ons is dit aan mekaar verskuldig.”

  • Ondersteun Die Plaaswerf Llama-projek deur hulle webwerf by www.wagnbietjiecamp.co.za te besoek. Klik op die Llama-projek-skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.