Lloyd Harris se droomjaar duur voort

Suid-Afrika se Lloyd Harris vier sy oorwinning oor Denis Shapovalov van Kanada. (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se 24-jarige tennisster Lloyd Harris se droomjaar duur voort. Hy het deurgedring tot die vierde ronde van die Amerikaanse Ope – die eerste keer wat hy dit by ʼn Grand Slam regkry.

Harris het die sewende gekeurde Kanadees Denis Shapovalov 6-4, 6-4 en 6-4 geklop en kom môre in die ronde van 16 teen die 22ste gekeurde Amerikaner Reilly Opelka te staan. Teen Shapovalov het Harris tien kishoue geslaan, maar ook vyf dubbelfoute begaan. Hy kon byna 80% van die punte op sy eerste afslaan wen.

Harris het ook gewys hy is ʼn vegter. In die tweede en derde stelle het Shapovalov vroeg deurgebreek, maar elke keer het die Suid-Afrikaner terugbaklei.

Vroeër vanjaar het Harris ook vir Shapovalov, die tiende beste speler op die wêreldranglys, geklop. Verlede maand het hy Rafael Nadal ook verslaan en opgeskuif tot nommer 46 op die wêreldranglys. Hy gaan nou in die top-40 inskuif.

Die topgekeurde speler, Novak Djokovic, het vier stelle nodig gehad om Kei Nishikori van Japan 6-7 (4/7), 6-3, 6-3 en 6-2 uit die pad te vee.

Die vierde gekeurde Duitser Alexander Zverev het die eerste stel teen die Amerikaner Jack Sock verloor voordat hy die tweede en derde stel ingepalm het. Sock het die handdoek ingegooi met die telling 1-2 in die vierde stel omdat hy nie verder kon speel met ʼn seer bobeen nie. Die eindtelling was 3-6, 6-2, 6-3 en 2-1 in Zverev se guns.

Dertiende gekeurde Jannik Sinner van Italië het die flambojante Fransman Gael Monfils se toernooi in vyf taai stelle 7-6 (7/1), 6-2, 4-6, 4-6 en 6-4 beëindig.

Die groot verrassing was in die vroue-afdeling waar die Amerikaner Shelby Rogers met ʼn reuse-terugvegpoging in die derde stel die topgekeurde Australiër Ashleigh Barty geklop het. Barty was 5-2 voor in die beslissende stel voordat Rogers voor haar tuisskare terugbaklei het. Rogers wen 6-2, 1-6 en 7-6 (7/5).

Die Griek Maria Sakkari (17de gekeur) het die Tsjeg Petra Kvitova (10de gekeur) 6-4 en 6-3 geklop om na die vierde ronde deur te dring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Is sy ras nog “reg” om SA te verteenwoordig, of wag daar ‘n latere ontnugtering op hom? I dié simpel anti-wit SA moet wit mense mos maar altyd eers seker maak oor goed wat in ander lande heeltemal normaal is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.