Lloyd op die wenpad in Barcelona

Suid-Afrika se Lloyd Harris. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Lloyd Harris, Suid-Afrika se voorste manstennisspeler, het sopas Spanje se Albert Ramos-Vinolas in die Barcelona-ope geklop.

Die eindtelling was 6-3 en 6-4 in Harris se guns en hy het oudergewoonte met sy afslane uitgeblink. Hy het tien kishoue afgevuur teenoor die twee van die 17de gekeurde Spanjaard.

Die 25-jarige speler het gister met nóg ’n Spanjaard, Roberto Carballes Baena, klaargespeel. Die wentelling was toe 6-4 en 7-6.

Harris is tans 40ste op die ATP-ranglys en hy sal in Spanje poog om sy seisoen weer op koers te kry ná ’n paar teleurstellende vertonings vroeër vanjaar.

Tog is daar tekens dat hy binnekort weer op alle suiers kan vuur – hy het immers in Miami vir die derde keer in net ’n rapsie meer as ’n jaar met die talentvolle Denis Shapovalov afgereken en hy het vandag sterk teen Ramos-Vinolas vertoon.

Hy was egter verlede jaar op die kruin van die tennisgolf toe hy met ’n paar skittervertonings teen spelers soos Rafael Nadal, Stan Wawrinka, Dominic Thiem, Kei Nishikori en Shapovalov vorendag gekom het.

Selfs Nadal was beïndruk met sy afslane ná die twee se ontmoeting in die Citi-Ope; ’n wedstryd wat Harris met 6-4, 1-6 en 6-4 gewen het.

“Ek het teen iemand kragte gemeet wat baie goeie tennis gespeel het; sy afslane was só goed,” het die Spaanse matador destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Vuur mens op alle suiers? Of vuur mens op alle silinders? Maak maar vuur daar op die kleibane Lloyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.