LNR ‘diep bekommerd’ oor plaasmoorde

(Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Die Landbounavorsingsraad (LNR) sê hy is “diep bekommerd” oor die voortslepende vlaag misdaad in landelike gebiede en plaasmoorde landwyd.

Die LNR sê die voorvalle word ten sterkste veroordeel en hy staan saam met die landboubedryf wat vra vir dringende ingryping deur wetstoepassers. Die LNR het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om vorendag te kom met enige inligting wat die polisie kan help.

Die raad sê misdaad en moord raak die LNR se betrokkenes en kalwe die sekuriteit en volhoubaarheid van die landbousektor weg.

Die LNR sê ook misdaad het ʼn negatiewe uitwerking op die inkomste van indiwidue en bedreig voedselsekerheid, vrede en die maatskaplike samehorigheid wat die land bitter nodig het.

“Die LNR word ook geraak deur misdaad in landelike gebiede in die vorm van onder meer vandalisme, diefstal en selfs brandstigting. Ons werk nou saam met wetstoepassingsowerhede om die plaag uit te wis,” het dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR, Vrydag gesê.

Daar was die afgelope ruk verskeie betogings teen plaasaanvalle en -moorde, asook ʼn debat waartydens die moorde en aanvalle deur al 14 politieke partye in die parlement veroordeel is.

Verskeie hooggeplaaste regeringsamptenare het ook dié misdade veroordeel.

Adj.pres. David Mabuza het die gewelddadige aanvalle op boere en mense in landelike boerderygemeenskappe onlangs veroordeel en die belang van die landbousektor vir die ekonomie van Suid-Afrika benadruk. Hy het ook gesê alle lewens maak saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Leuens…leuens….nie een van hulle het n slapelose nag oor plaas aanvalle nie…inteendeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.