Lodge-eienaar verskeur: ‘Sy leeus was soos sy kinders’

West Mathewson het sy leeus as sy eie kinders gesien (Foto: Lion TreeTop Lodge Facebook)

Die eienaar van die Lion Treetop Lodge wat deur sy eie leeus verskeur is, het die oggend oudergewoonte met hulle gaan stap toe een van die leeus met hom begin “speel” het. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat al twee leeus hom begin byt en uiteindelik verskeur het.

Só vertel Koot Joubert (67), die jarelange vriend van West Mathewson (69) wat Woensdagoggend deur die twee leeus verskeur is. Mathewson was die eienaar van die bekende private wildplaas, Lion Treetop Lodge, buite Hoedspruit in Limpopo. Joubert en Mathewson was 45 jaar lank vriende.

Mathewson het die oggend oudergewoonte met sy twee leeus gaan stap.

“Sy vrou, Gill, het ʼn entjie agter hom aangery. Wat ek verneem het, is dat die een leeuwyfie na hom toe gegaan en begin speel het. Mathewson het op die grond geval en later was albei leeus bo-op hom. Die leeus het hom aan sy een been begin gebyt,” vertel Joubert.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê Mathewson is op die toneel dood weens veelvuldige beserings.

Mojapelo sê ʼn geregtelike doodsondersoek sal na Mathewson se dood gedoen word.

Die leeus is na die voorval verdoof (Foto: Verskaf)

Joubert vertel Mathewson se passie met die leeus het sowat ses jaar gelede begin. Hy het sy geliefde twee leeuwyfies, Tana en Demi, in 2015 gekry. Hulle was toe slegs ʼn paar dae oud en hy het hulle met die hand grootgemaak.

“Die twee leeus het sulke uiteenlopende persoonlikhede gehad. Die een was rustiger en die ander een ʼn ‘ekstrovert’ wat jou makliker sou nader,” vertel Joubert.

Joubert sê die leeus was soos Mathewson se eie kinders en hy het ʼn spesiale band met hulle gehad. Hy het ook sy lewe daaraan gewy om bedreigde spesies, onder meer die Afrika-witleeu, te red en groot te maak.

“Hy het elke oggend as hy wakker word eers sy twee leeus gaan groet.”

Maroela Media het vroeër berig Lion Treetop Lodge het onder leiding van Mathewson opvoedkundige programme aangebied waartydens besoekers in noue aanraking met die leeus kan kom. Besoekers kan byvoorbeeld saam met die leeus op die plaas rondstap.

West Mathewson saam met sy twee leeuwyfies (Foto: Lion Treetop Lodge Facebook)

“Hy was lief vir die natuur. Hy wou deur hierdie programme poog dat die besoekers op ʼn ander manier na die natuur, en ook die leeus, kyk. Hy wou ʼn soort samewerking tussen die besoekers en leeus bewerkstellig,” vertel Joubert.

Joubert sê Mathewson het ten alle tye sorg aan die dag gelê om die besoekers se lewens nie in gevaar te stel nie. “Hy het presies geweet hoe om met die leeus te werk en sou besoekers aanraai om in groot groepe te bondel en nie af te dwaal nie.”

Joubert sê met sy programme het Mathewson ook groot waarde tot mense se lewens gevoeg.

“Hy was vol avontuurlus en het sy lewe voluit geleef. Sy skielike dood is ʼn tragedie en moes nie gebeur het nie, maar hy is dood in die plek waarvoor hy die liefste was – die natuur.”

Joubert vertel Mathewson was ʼn omgee-mens en het uit sy pad gegaan om ander mense te help.

“Hy was ʼn goeie mens en die beste vriend waarvoor enige mens kon vra.”

Mathewson word oorleef deur sy vrou en vier volwasse seuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anthony

Terrible, arme mense wat dit moes aanskou is ook seker erg ge traumatiseer. Sterkte

Genis

Hoe tragies.. dis baie hartseer..