Lojaal tot die einde? Só stem SA’ners

Geregistreerde kiesers stap uit ‘n stemstasie. (Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Dit is allesbehalwe maklik vir ’n Suid-Afrikaner om van politieke party te verander. Politieke kenners met wie Maroela Media vandeesweek gesels het, is dit hieroor eens.

Dié kenners sê in aanloop tot die verkiesing dat Suid-Afrikaners tot “onlangs toe nog” uit suiwer onwrikbare lojaliteit vir ’n bepaalde party gestem het, maar dat lojaliteit nie bo-aan Suid-Afrikaners se lys van redes sal wees waarom hulle vanjaar vir ’n bepaalde party stem nie.

“Hierdie verkiesing gaan anders wees,” voorspel prof. Amanda Gouws, politieke wetenskaplike aan die Universiteit Stellenbosch (US).

En dit is goed so, verduidelik sy. “Ons wil hê dat mense weg beweeg van lojaliteit en eerder vir ’n bepaalde vraagstuk stem. Ons wil hê hulle moet rasionele keuses maak, manifeste nagaan en die voordele en nadele oorweeg.”

Gouws sê die ANC se destydse vryheidsbeweging was die groot rede waarom Suid-Afrikaners oor die jare aangehou het vir die ANC stem. “Suid-Afrikaners wat nou 30 jaar oud word, het egter nie onder apartheid geleef nie.

“Hulle was ook nie deel van die vryheidstryd nie, so dit maak nie vir hulle vreeslik saak nie.”

Jong mense oorheers boonop vanjaar se kieslys. Die ouderdomsgroep 18 tot 39 is vanjaar verantwoordelik vir 42% (11,7 miljoen) van geregistreerde kiesers.

Gouws voorspel daarom dat meer Suid-Afrikaanse kiesers vanjaar vir vraagstukke eerder as ’n spesifieke party gaan stem.

Landelik én onwrikbaar lojaal

Gouws is wel deeglik bewus daarvan dat dit vir plattelandse kiesers moeiliker gaan wees om hul lojaliteit teenoor die ANC af te skud en vanjaar vir ’n ander party te stem.

“Die landelike gebiede is waar die ANC se steun vandaan kom. Dit is waar die veldtogte gevoer word. Die ANC het ’n groter houvas op die landelike gebiede as die stedelike gebiede.”

Mari Harris, direkteur van die marknavorsingsfirma Ipsos, sê ook dit is bitter swaar vir ’n getroue ANC-ondersteuner om skielik van party te verander. Só ’n ondersteuner bly dus eerder weg van die stembus as om sy of haar kruisie langs die naam van ’n opposisieparty te trek.

Foto ter illustrasie van die ANC. (Foto: LUCAS LEDWABA / AFP)

“Ons het in 2016 vir die eerste keer te doen gehad met ’n sterk wegblystem. Baie van die kiesers uit die swart middelklas het gedurende daardie verkiesing teen die ANC gedraai. Maar dit was nie ’n maklike ding om te doen nie,” sê Harris.

“Onthou, Suid-Afrikaners stem eintlik met hul bloed en binnegoed. Dit wat ons aanmekaar sit.”

Vra jy vir Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê hy Suid-Afrikaners se partyvoorkeur word tipies gedryf deur lojaliteit, persoonlikheid en identiteit (wat etnisiteit en geloof insluit).

“Fassinerend genoeg staan beleid nogal agter in die ry.

“Suid-Afrika is ’n diep sosiaal konserwatiewe land. Tog leun die meeste partye se beleid na links. Jy sal in die meeste sitkamers min ondersteuning daarvoor kry.”

Tog glo Mulder ook politieke partye gaan nie vanjaar met lojaliteit alleen die paal haal nie. Hy sê dit gaan eerder die sogenaamde identiteitspartye – soos die MKP en IVP wat spesifiek op etnisiteit fokus– wees wie se steun gedurende hierdie verkiesing sal groei.

Mulder is dit ook eens dat Suid-Afrikaners nie maklik van politieke party verander nie.

Twee Suid-Afrikaanse vroue loop verby ’n verkiesingsplakkaat. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

“Ek sal nie sê hulle is creatures of habit, nie maar in ’n heterogene samelewing soos ons sʼn word die politieke stelsel maar ’n sensus. Ons het tot ’n groot mate ’n demografiese demokrasie. Daar is skuiwe binne die demografiese groepe, maar baie minder as wat jy dink.

“Hierdie jaar gaan egter die eerste keer wees wat die ANC sy meerderheid verloor. Ons gaan ’n verbrokkeling van die stelsel sien namate mense volgens etniese identiteit stem.”

Daarom meen hy vanjaar se verkiesing sal nie net ’n regeringsverandering nie, maar ook ’n bedelingsverandering inlui.

Harris wil haar nie sommer uitspreek oor wat vir Suid-Afrikaners belangrik is nie.

“Almal is anders. Meer as ’n derde van Suid-Afrikaners (35%) voel boonop dat daar in dié stadium geen politieke party is wat hulle verteenwoordig nie. Dit is baie.

“Die punt is: Hierdie kiesers gaan eers die keuse maak wanneer hulle gekonfronteer word met ’n stembrief. Maar die keuse wat hulle dáár maak, gaan nié noodwendig uit lojaliteit gemaak word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

J wat, ek is een van daar 35% wat voel dat geen party iets vir my gaan doen of iets beteken nie. Al het ek dus geregistreer … gaan ek dus maar eerder oor 2 weke lekker in my tuin werk, as om te gaan stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.