Lokomotief-skandaal: Beamptes nie vervolg

Argieffoto

Transnet het gesê hy gaan nie in dié stadium dissiplinêre stappe doen of enige beamptes skors wat betrokke was by die sogenaamde lokomotief-skandaal nie, as gevolg van die onbeslissende aard van die forensiese verslag.

Transnet het verlede jaar die regsfirma Werksmans aangestel om bewerings van korrupsie in die verkryging van 1 064 diesel- en elektriese lokomotiewe van vier oorspronklike toerustingvervaardigers (OEM) te ondersoek.

Transnet het die bewerings ook aan die Valke gerapporteer. Transnet het in Maart 2014 kontrakte met General Electric, Bombardier Transport, China South Rail en China North Rail geteken vir die verskaffing van 1 064 diesel- en elektriese lokomotiewe.

Kort daarna het talle aantygings die lig gesien oor die totale beraamde koste vir die aankoop van dié lokomotiewe. Die meeste van dié aantygings was verwant aan die beweerde betrokkenheid van die Gupta-familie en hul verwante maatskappy in dié transaksie.

Transnet het Donderdag gesê die ondersoekverslag van Werksmans is aan hul raad voorgehou en oorweeg.

“Die raad het beslis dat Werksmans se verslag onvolledig en onbeslissend is gegewe die verwysingsaamwerk wat aan hul verskaf is. Hierdie gevolgtrekking word bevestig deur Werksmans, wat dit spesifiek in hul verslag aangedui het weens die beperkinge wat daarin uitgespreek is,” het Transnet gesê.

Die raad het verder beslis dat daar nie enige konkrete gronde in die verslag verskaf word om in dié stadium enige dissiplinêre prosesse of skorsing van enige beamptes te kan regverdig nie.

Transnet het gesê die stappe wat hulle gedoen het, het hul toewyding aan die uitroei van korrupsie in die maatskappy bewys en verseker dat dit ʼn soliede staatsinstelling, in finansiële- én kommersiële terme, bly.

Intussen het Transnet gesê die raad het die aanbeveling van Werksmans dat sekere kwessies in die verslag na die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping verwys moet word, goedgekeur. Hulle het ook bygevoeg dat hulle ten volle met die kommissie sal saamwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ja hoor ·

Whaaaaaa en so betaal min hulle skuld vir korrupsie en bedrog. Hierdie manne het hoog en laag gesweer dit is ‘n heksejag teen hulle en dat hulle niks verkeerds gedoen het nie .. Lyk my almal is onskuldig, niemand het enige foute gemaak nie .. Neewat geen hoop vir SA nie, dieselfde sirkus . ander narre.

Dafer ·

Die ondersoek is nog nie bevredigend afgehandel nie! Albei partye stem saam daaroor. Jy kan dus nog nie ten volle ingeligte besluite neem nie!

Antjie ·

Asseblief! Transnet is nie die NVG nie! Hulle kan net arbeidsverwante sake ondersoek, nie strafregtelikes nie!

PJC ·

Hopelik sal hierdie besluit ook binnekort omgekeer word noudat JZ die pad gevat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.