‘n Lokprent van die fliek volg onderaan die berig.
In Leading Lady skuur plaaslike sterre soos Brümilda van Rensburg en Bok van Blerk skouers met internasionale akteurs Katie McGrath en Gil Bellows en die eerste internasionale lokprent van dié fliek word vandag om 12:00 eksklusief vir die eerste keer deur Maroela Media en Dark Matter Studios bekendgemaak.
Die rolprent, uit die pen van Henk Pretorius, regisseur en medeskrywer van die Bakgat-reeks en Fanie Fourie’s Lobola, vertel die storie van ʼn jong opkomende aktrise, Jodi Rutherford [Katie McGrath] van Engeland. Sy moet voorberei vir ʼn rol in ʼn Hollywood-rolprent as ʼn Afrikaner oorlogsheldin en klop dan om hulp aan by ʼn boer van Brandfort, Kobus Willemse [Bok van Blerk].
McGrath was onlangs in die televisiereeks Dracula te sien en het ook ʼn rol losgeslaan in Steven Spielburg se Jurassic World.
Die wêreldpremière van die rolprent vind op 7 en 8 Junie by die Seattle Internasionale Filmfees plaas en word plaaslik op 28 November uitgereik.