‘Lokval’ by Medupi fnuik vermeende kabeldiewe se planne

Die verdagtes het na bewering koperkabels ter waarde van R150 000 by die Medupi-kragstasie probeer steel. (Foto: Verskaf)

Drie verdagtes sal Maandag in die Lephalale-landdroshof verskyn op aanklag dat hulle met noodsaaklike infrastruktuur by Eskom se Medupi-kragstasie gepeuter het.

ʼn Vierde verdagte word steeds gesoek.

Volgens die polisie is een van die verdagtes  ʼn 31-jarige werknemer by Info-Tech Maintenance Company, een van die kontrakteurs wat by die Medupi- en Matimba-kragstasies werksaam is.

Die man en sy vermeende medepligtigdes, onderskeidelik 31 en 47, het na bewering koperkabels ter waarde van R150 000 by Medupi probeer steel.

“Die polisie het Dinsdag ʼn diefstalklag waarby Eskom-koperkabels ter waarde van R150 000 betrokke is van die kragstasie ontvang. Die polisie het die volgende dag saam met Eskom se veiligheidspan met hul aanvanklike ondersoeke begin,” het kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, gesê.

“’n Gesamentlike intelligensiegedrewe operasie is uitgevoer en die Eskom-veiligheidspan het die gesteelde kabels opgespoor wat tussen bosse by die kragstasie versteek was.”

Volgens Ledwaba het die ondersoekspan ʼn lokval gestel wat eindelik tot die verdagtes – wat na verwagting sou terugkeer om die versteekte kabels te kom haal – se inhegtenisneming gelei het.

Nes die ondersoekspan gehoop het, het vier verdagtes omstreeks 23:00 te voet by die kragstasie opgedaag.

Die verdagtes het egter snuf in die neus gekry en in verskeie rigtings laat spat om inhegtenisneming te vermy.

Een is op die perseel naby die spoorlyn opgespoor, maar hy het met ʼn Kia Picanto weggejaag voordat die polisie hom kon vang. Die voertuig is egter agternagesit, in ʼn hoek vasgekeer en die verdagte is in hegtenis geneem.

Dié verdagte – wat by Info Tech werksaam is – het die polisie ná sy inhegtenisneming na ʼn informele nedersetting geneem waar nog twee verdagtes in hegtenis geneem is.

Die ondersoek en soektog na die vierde verdagte duur voort.

Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, doen ʼn beroep op die gemeenskap om deurgaans met inligting na vore te kom wat dié soort misdaad kan stuit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.