Long Tompas-busongeluk eis 7

(Foto via Arrive Alive)

Minstens sewe passasiers is Vrydag dood in ʼn busongeluk op die R37-pad tussen Lydenburg en Sabie in Mpumalanga. Die bestuurder is een van die 52 persone wat beseer is.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sê die bestuurder van die bus het beheer verloor oor die voertuig en dit het omgeslaan.

Ses persone is op die toneel dood verklaar en ʼn sewende persoon het later aan sy beserings beswyk.

“Die oorsaak van die ongeluk word deur verskeie belanghebbendes ondersoek. Dié rolspelers is op die toneel,” het Mmusi bygevoeg.

Vusi Shongwe, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, het opnuut ʼn versoek gerig vir padgebruikers om waaksaam te wees tydens die feesgety.

“Ons is baie besorg oor die getal sterftes in die provinsie tot dusver. Ons versoek motoriste om geduldig te bly en hul reis dienooreenkomstig aan te pas.”

Hy het sy innige meegevoel betuig aan die families en geliefdes van die oorledenes en wens die beseerde persone ʼn spoedige herstel toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.