Lonmin versoek personeel om verlof in te sit

Amplats HUB Chris Griffith, Lonmin HUB Ben Magara en Impala HUB Terence Goodlace Foto: Puxley Makgatho, BDLive

Amplats HUB Chris Griffith, Lonmin HUB Ben Magara en Impala HUB Terence Goodlace Foto: Puxley Makgatho, BDLive

Die platinumreus Lonmin het sy personeel, wat nie aan die staking deelneem nie, versoek om verlof in te sit om koste te sny en die maatskappy te help om te oorleef.

“Die personeel is versoek om van hul opgehoopte verlof gebruik te maak,” het Sue Vey, woordvoerder van Lonmin, Donderdag aan Sapa gesê. “Dit is ter wille van die maatskappy. Indien hulle wel met verlof kan gaan, sal dit die maatskappy help oorleef.”

ʼn Memorandum is Dinsdag aan die werknemers uitgestuur.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Amcu het ʼn loonaanbod van 9% verwerp.

Die maatskappye het Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) is by die onderhandelings betrokke.

Mynbase het vroeër vandeesweek gesê die staking het onherstelbare skade aangerig, aangesien nagenoeg R10 miljard in inkomste reeds verloor is. “Die impak raak nie net die maatskappye nie, maar ook die werknemers, plaaslike ondernemings, verskaffers en gemeenskappe,” het die hoof uitvoerende beamptes van die maatskappye in ʼn verklaring gesê. “Die finansiële koste, nou nagenoeg R10 miljard in inkomste en ongeveer R4.4 miljard in lone, vertel nie die volle verhaal nie.”

Chris Griffith, HUB van Amplats, Terence Goodlace, HUB van Implats, en Ben Magara, HUB van Lonmin, het gesê die myne en skagte is nie meer lewensvatbaar nie; die mense is honger, kinders gaan nie skool toe nie en ondernemings moet hul deure sluit. Misdaad in die platinumgordel neem ook toe. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.