Loodvrye ammunisie kan help om aasvoëls te bewaar

Dr. Gareth Tate is hoof van die EWT se roofvoёlprogram en neem as navorser deel aan verskeie van die program se projekte soos die daarstelling van risikovrye korridors vir aasvoëls. (Foto: EWT)

Deur Elize Parker

Aasvoёlbewaring in Suid-Afrika het onlangs ʼn hupstootjie gekry met die aanbied van inligtingsdae rondom ʼn verbeeldingryke projek, Battle of the Bullets, deur die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) se roofvoёlprogram.

Met die projek beoog dié trust om hande te neem met rolspelers soos boere en jagters, sodat ammunisie wat by wyse van fragmente in karkasse agterbly en deur aasvoëls gevreet kan word, loodvry is.

Dr. Gareth Tate (38), hoof van die EWT se roofvoëlprogram, sê een van die areas waar hierdie voorkomingsplanne in werking gestel word, is die Karoo-aasvoёlbewaringsgebied. Hier word spesifiek op die bewaring van die kransaasvoël gefokus.

Tydens die onlangse suksesvolle inligtingsdag op Graaff-Reinet in 2022 en in Steytlerville in April 2023, is rolspelers deur demonstrasies en praatjies touwys gemaak oor die redes hoekom loodvrye ammunisie belangrik is vir die bewaring van veral die kransaasvoëls in die gebied.

Die dag op Steytlerville is bygewoon deur meer 20 jagters en boere wat gewys is hoe loodvrye patrone skiet in verskillende omstandighede. Jagters en grondeienaars het ook inligting ontvang oor die nadele van loodammunisie vir mense, wilde diere en voëls asook die voordele van nie-lood-alternatiewe mono-metaal-ammunisie.

Die Battle of the Bullets-werkswinkels het in 2022 in Graaff-Reinet begin en die sukses daarvan was juis die rede hoekom een onlangs aangebied is in samewerking met Blue Ballistics, Royal Karoo Hunting Safaris, SA Hunters and Game Conservation Association, Birdlife SA, Balistix Bullets en Impala Bullets.

Van die kransaasvoëls is daar net meer as 4 500 broeipare in Suid-Afrika oor. Die voëls kom hoofsaaklik net in Suid-Afrika voor. In 2021 is die spesie se status, as gevolg van die goeie werk deur Suid-Afrikaanse navorsers en bewaringsinstansies, van die ‘bedreigde’- tot ‘kwesbare’-kategorie deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur afgeskaal.

Een van die EWT se metodes in die Karoo-aasvoëlbewaringsgebied om aasvoëlsterftes te beperk en te verhoed, is om boere toe te rus met honde soos die Maluti-hond wat as vee-oppassers optree. Sodoende kan roofdierbeheer sonder die uitsit van gif of die skiet van roofdiere beheer word en die aasvoëls dus nie aan gif of ammunisie in karkasse blootgestel word nie. (Foto: EWT)

Tate glo dat die projek se toepassing in die Karoo-aasvoëlbewaringsgebied, wat van Cradock tot Beaufort-Wes strek, verder kan bydra om hierdie eg Suid-Afrikaanse geveerdes van uitwissing te red.

Grondeienaars in die Karoo-aasvoëlbewaringsgebied kan reeds sedert Augustus 2020 versoek dat hul eiendomme as ʼn veilige aasvoëlbewaringsarea binne die gebied verklaar moet word. Sedertdien het die bewaringsgebied tot meer as 730 000 ha gegroei.

Bykans 95 grondeienaars in die gebied het reeds onderneem om hul eiendomme veilig te maak vir gebruik deur aasvoëls by wyse van volhoubare praktyke rondom roofdierbestuur, waterbronbeveiliging en deur op ʼn veilige manier van karkasse met lood of gif daarin ontslae te raak.

Talle van die voëls sweef in die gebied rond in die kranse en klowe, maar daar is tans nog geen broeipare wat aan die navorsers bekend is nie.

Dit is juis hierdie verbintenis tot bewaring wat die trust met voortgesette bewusmakingsessies wil uitbrei. Tate, wat sedert 2016 aan EWT verbonde is, glo kennis is mag.

Danielle du Toit, veldoffisier by die EWT en Karoo-boorling, is op Graaff-Reinet gebaseer en werk met die boere en grondeienaars in die omgewing om bewussyn rondom die bewaring van aasvoëls te kweek. (Foto: EWT)

“Hoe meer mense van die voordele van loodvrye ammunisie vir die natuur bewus kan wees, hoe beter.”

Hy wys daarop dat sulke projekte inhoud gee aan die aksieplan vir die bewaring van aasvoëls wat by ʼn wêreldberaad in 2017 goedgekeur is sowel as die Nasionale Biodiversiteitsplan vir aasvoëls.

Sy bewondering vir die kransaasvoël is ooglopend. “Dit is bloot merkwaardig wat die voëls kan verduur en verdra. Hulle is die vlagskip-voëlspesie van die savannas.”

Die Battle of the Bullets-projek is die breinkind van die bewaringskenners van die trust. “Loodvergiftiging het daartoe gelei dat die Amerikaanse kondor bykans heeltemal uitgewis is. Ons kan nie toelaat dat so iets in Suid-Afrika plaasvind nie.”

Navorsing rondom die fisiologiese uitwerking van loodvergiftiging by aasvoëls is reeds deur verskeie organisasies, soos onder meer Birdlife South Africa, op die kransaasvoël en witrugaasvoël aangepak.

Die Kaapse aasvoël vorm broeikolonies teen die kranse van hoë bergreekse. Hier is ʼn paar wat saam broei in die berge naby Umtamvuna in KwaZulu-Natal. (Foto: André Botha)

Tate wys daarop dat been- en bloednavorsingsresultate, van die aasvoёlkenner Linda van den Heever, wys daar is ʼn direkte verband tussen die loodvergiftiging van aasvoëls by wyse van ammunisie en dat vergiftiging deur mynbou byvoorbeeld nie ʼn rol speel nie.

By aasvoëls beperk lood die produksie van hemoglobien in die bloed wat tot bloedarmoede lei.

Loodvergiftiging veroorsaak ook lewerversaking en beperk die groei van kuikens.

Simptome sluit in lusteloosheid, skouers en vlerke wat vooroor hang, groen diarree en ʼn gebrek aan koördinasie.

Nog ʼn aasvoëlbewaringsprojek van die trust, is gemik op die voorkoming van loodvergiftiging en die bekamping van die gebruik van gifstowwe. In die projek help die roofdier- en die roofvoëlprogramme boere om honde as vee-oppassers te gebruik om roofdierbeheer toe te pas.

Geveerdes soos die witrugaasvoël, waarvan daar min as ʼn spesie in Suid-Afrika oor is, maak deel uit van die EWT se roofvoёlprogram. Die voëls word met satelliet-etikette op hul rûe toegerus sodat navorsers elke individu se jaarlikse vlug- en sweefomgewing, sowel as hul broeiplekke, kan dokumenteer. (Foto: EWT)

Die Wes-Kaapse departement van landbou se ramp- en risikobeheer-span werk saam met hierdie spanne, in veral die omgewing van Beaufort-Wes, met opkomende boere.

Twee honderasse word gebruik: ʼn vee-oppas-honderas van Lesotho, die Maluti-hond, en Anatoliese skaaphonde.

Eersgenoemde is ʼn stewige en taai honderas met ʼn dik pels. Die honde word van kleins af groot saam met veetroppe en sal plaasdiere met hul lewens beskerm.

Tate sê hy was werklik beïndruk met die Maluti-honde.

“Hulle vermoë om op te pas en te beskerm, maak dit moontlik vir boere om in harmonie met die natuur te leef. Die gebruik van die honde beperk werklik veeverliese deur rooikatte en jakkalse van vee weg te hou. Gifstowwe hoef ook nie langer deur boere uitgesit te word om die roofdiere te beperk nie.”

Die Kaapse aasvoël kom nie net in die Kaap voor nie, maar het ʼn wye verspreidingsarea ook na areas soos die een wat in die Cleveland Reservaat in Limpopo afgeneem is. (Foto: André Botha)

Die Anatoliese skaaphonde word ook aan boere vir dieselfde doel vir ʼn jaar op bruikleen beskikbaar gestel. Indien die projek vir die boer suksesvol is, word hy die eienaar van die hond. Gedurende die leenjaar word al die koste rondom die hond deur die EWT gedek. Die departement identifiseer die boere aan wie honde toegeken word.

Oor beide projekte is een van die veldoffisiere van die EWT, Danielle du Toit (25), opgewonde. Du Toit, wat in die area van die Karoo-aasvoёlbewaringsgebied op die plaas Towerberg in die Kamdeboo grootgeword het, sê die kransaasvoëls wat nou in die gebied voorkom is ʼn simbool van hoop.

“Ek sal graag wil glo dat niemand aasvoëls doelbewus wil doodmaak nie. Juis daarom is dit belangrik dat ons boere en ander grondeienaars bemagtig met kennis om voorsorg daarteen te tref.”

Du Toit dink graag terug aan haar kleintyd, toe sy dikwels stories gehoor het van die tye toe daar broeikolonies in hul omgewing was.

“Die broeiplekke en die kransaasvoëls het egter mettertyd verdwyn. Die boere het saam besluit dat die balans herstel moes word en so het die programme, en projekte daar rondom, tot stand gekom. Dit was so ʼn eer vir my om deur die trust in diens geneem te word om juis op hierdie projek met die Karoo-aasvoёlbewaringsgebied te werk.”

Vir Du Toit is dit, op ʼn persoonlike vlak, nostalgies om die geveerdes weer sorgloos bo die sondeurspoelde vlaktes en berge van die Karoo te sien sweef. Graaff-Reinet is die basis waarvandaan sy werk.

“As ʼn gemeenskap is ons trots om hulle te kon terugverwelkom en om hulle weer te kan aanskou.  Kransaasvoëls is en bly vir ons die vlagskipspesie vir aasvoëlbewaring. Ek bewonder hulle so vir hul deursettingsvermoë. Hulle gee nooit op nie.”

Sy glo toekomstige bewusmakingsdae, soos die geslaagde een op Steytlerville, kan tot verdere bewaringsukses bydra.

“Ek glo dit was ʼn manier om te sê ons kan en moet die manier waarop ons met die natuur werk anders begin benader. Dit is nou letterlik die sogenaamde ‘Blue Sky-thinking’. Ons probeer die oorspronklike bedreiging, wat tot die oorhoofse bedreiging vir die voëls gelei het, identifiseer en ʼn oplossing daarvoor te vind.”

Sy is bemoedig deur diegene soos ʼn groot jagtersonderneming, Royal Karoo Hunting Safaris, wat reeds ʼn verbintenis tot die gebruik van loodvrye ammunisie tydens hul jagekskursies gemaak het.

“Dit is nodig dat die impak van lood op mense en wild verstaan word en inligtingsdae daar rondom kan die saadjies plant wat die verskil tussen oorlewing en uitwissing vir ʼn spesie beteken.”

Die Karoo-aasvoёlbewaringsgebied strek oor meer as 730 000 ha waar meer as 90 grondeienaars versoek het dat hul grond as bewaringsgebied verklaar word. (Foto: EWT)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.