Loonooreenkoms met AngloGold Ashanti bereik

Argieffoto

AngloGold Ashanti het Maandag ʼn driejaar-loonooreenkoms met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), UASA en Solidariteit gesluit.

Die AngloGold Ashanti-ooreenkoms maak onder meer voorsiening vir ʼn salarisverhoging van 6,5% in jaar een van die ooreenkoms en 6,5% of VPI (watter een ook al die grootste is) vir die daaropvolgende twee jaar vir myners, ambagsmanne en amptenare; ʼn salarisverhoging van R1 000 per jaar vir die volgende drie jaar vir kategorie 4 tot 8-werknemers; en ʼn verhoging van R100 per jaar op die behuisingstoelaag.

Saam met die loonverhoging sluit ander nie-loonverwante kwessies deur die partye ʼn mediese ongeskiktheidsvoordeel van R60 000 oor drie jaar, ʼn minimumskeidingsloon van R40 000 oor drie jaar asook die verlenging van die mediese bydrae vir kategorie 4 tot 8-werkers na 60% vir werkgewers en 40% vir werknemers vir die tydperk van die ooreenkoms in.

Motsamai Motlhamme, hoofonderhandelaar van die goudvervaardigers, het gesê hulle is in hul skik dat hulle uiteindelik ʼn ooreenkoms bereik het ná die uitgerekte onderhandelings.

Intussen het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gesê die ooreenkoms wat hulle vandag met AngloGold Ashanti onderteken het, sal nou aan Sibanye-Stillwater en Harmony Gold voorgehou word as die salarisverhoging waaraan hierdie maatskappye moet voldoen om ʼn skikking te bereik.

Du Plessis meen hierdie skikking is ʼn oorwinning vir kollektiewe bedinging en dit bewys weereens dat dit nie nodig is om ʼn geskil te verklaar om ʼn ooreenkoms te bereik nie. “Dit is veral Sibanye-Stillwater wat nou sy speletjies moet laat staan en in goedertrou moet begin onderhandel. Die maatskappy verskuif deurgaans die doelpale en maak vae verbintenisse tot brandende kwessies. Dit lyk of Sibanye-Stillwater juis vakbonde met sy destruktiewe benadering wil frustreer om vakbonde uit te lok om te staak en die stakings dan as verskoning te gebruik om veral van hul Beatrix-skagte te sluit,” het du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis is Harmony Gold se benadering meer progressief as dié van Sibanye. Hy het ook gesê die moontlikheid van ʼn skikking met Harmony is binne bereik en dit kan Donderdag verseël word indien Harmony sy huidige aanbod van 5,5% hersien en in ooreenstemming bring met die AngloGold Ashanti-aanbod – anders is daar geen ooreenkoms nie.

“Village Main Reef se uitvoerende hoof het vakbonde op Vrydag 14 September 2018 toegespreek oor die maatskappy se finansiële en operasionele uitdagings. Die partye is egter baie na daaraan om ʼn skikking te bereik wat nie die maatskappy se volhoubaarheid sal bedreig nie,” het Du Plessis verduidelik.

Die onderhandelinge met Sibanye-Stillwater, Harmony Gold en Village Main Reef sal op Donderdag 20 September 2018 onder fasilitering van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.