Loonooreenkoms met goudprodusent vinnig beklink

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Verskeie vakbonde, waaronder Solidariteit, het Donderdag ʼn tweejaar-loonooreenkoms met die goudprodusent Village Main Reef (VMR) gesluit ná slegs twee weke van onderhandelinge.

Die ooreenkoms maak onder meer daarvoor voorsiening dat mynwerkers, ambagsmanne en amptenare ʼn 5%-salarisverhoging per jaar vir die volgende twee jaar sal ontvang.

Kategorie 4‑ tot 8-werknemers sal ʼn verhoging van R800 per jaar oor die volgende drie jaar ontvang, terwyl die behuisingstoelaag oor die volgende twee jaar met R100 per jaar verhoog sal word. Die mediesefondsvoordeel sal ook ingevolge die ooreenkoms verbeter word.

Solidariteit het die ooreenkoms in samewerking met die vakbonde Numsa, Amcu en Uasa aangepak.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die skikking is binne twee weke sonder ʼn dooiepunt of ʼn geskilproses bereik en verseker dat die maatskappy vir die volgende twee jaar op kapitaal- en uitbreidingsprojekte kan fokus.

Volgens Du Plessis maak die ooreenkoms ook voorsiening vir deurlopende konsultasie tussen die maatskappy en vakbonde oor aspekte wat met die vierde nywerheidsrewolusie (4NR) verband hou en veral die implementering van moderne mynboutegnologie om sodoende te verseker dat mynwerkers deur modernisering bevoordeel en nie benadeel word nie.

Du Plessis meen die fokus sal nou na Sibanye-Stillwater se goudsektoronderhandelinge moet verskuif, wat ʼn dooiepunt bereik het.

Die vakbonde het reeds ʼn geskil verklaar en die eerste konsiliasiesessie sal volgende week onder die vaandel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) plaasvind.

Du Plessis sê Sibanye se salarisaanbod staan ná vier maande van onderhandelinge op 3,4% vir mynwerkers, ambagsmanne en amptenare, en ʼn R400-verhoging vir die kategorie 4‑ tot 8-werknemers, met ʼn skrale verhoging vir jare twee en drie. Sibanye is ook net bereid om die behuisingstoelaag met R40 per jaar te verhoog.

“Sibanye se aanbod is in skrille kontras met wat die marginale VMR kon bied, en dit is ver benede die skikking van ʼn 6%-salarisverhoging wat onlangs by Harmony Gold bereik is. Sibanye, wat om die onderhandelingstafel armoede pleit, sal by Harmony en VMR moet leer hoe om ʼn progressiewe benadering tot salarisonderhandelinge te volg.”

Du Plessis meen Sibanye bestee tans meer tyd daaraan om op ʼn moontlike staking voor te berei as om ʼn skikking te probeer bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Is dit nie wonderlike al die lekker dinge wat gebeur NET VOOR ‘n verkiesing. Nou sal hulle moet wag tot die VOLGENDE verkiesing voor enigeiets weer vir hulle gedoen word. Terloops ANC ek het nog nie my Sixty60 pakkie van Checkers gekry nie. Ek belowe om NIE vir julle te stem nie.

battleaxe ·

ANC is mos voorlopers van korrupsie maar as dit by stemmery kom belowe hulle die mense alles onder die son. En natuurlik glo die mense hulle al val al die beloftes elke keer in ‘n gat diep onder die grond. ANC Sal weer aan bewind kom want die kleiner partye dink mos hulle gaan ‘n seteltjie of twee wen. Om te stem is ongelukkig nie in my dagboek nie.

battleaxe ·

Jammer julle jou nie van my kommentaar nie. Mens mag nie jou opini lug nie want die politiek geselskap is blykbaar verbode.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.