Loonstaking nie tydens mynforum bespreek nie

Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne

Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne

Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, het gesê die twee maande lange loonstaking in die platinumsektor is nie Donderdag by die mynbedryf se konsultatiewe forum bespreek nie.

“Die staking is nie bespreek nie, hoofsaaklik omdat daar prosesse op maatskappyvlak en by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) plaasvind,” het Shabangu gesê. “Ons doen ʼn beroep op die partye om ʼn oplossing te kry sodat die werkers kan terugkeer. Die staking raak nie net die werknemers nie, maar het ook ʼn impak op die ekonomie.”

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by platinummyne in Rustenburg, Noordwes en Northam in Limpopo. Hulle eis ʼn minimumsalaris van R12 500. Anglo American Platinum (Amplats), Impala Platinum (Implats) en Lonmin het aangebied om die salarisse met 9% te verhoog. Die vakbond het die aanbod verwerp en voorgestel dat die R12 500 oor ʼn tydperk van vier jaar gehaal kan word. Die maatskappye het die gewysigde looneis verwerp en gesê dit kom neer op ʼn 30% verhoging jaar-op-jaar.

Die regering, mynmaatskappye en vakbonde is by die forum betrokke. Amcu het nie die vergadering bygewoon nie en het ʼn verskoning aangestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.