Loop lig vir dié WhatsApp-groep

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

WhatsApp-gebruikers moet ligloop vir ʼn groep wat glo poog om beleggers op bedrieglike wyses te werf met die belofte dat hulle groot opbrengs op beleggings kan bied.

Dié WhatsApp-groep doen sake onder die naam Fairtree Capital.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) vir Suid-Afrika waarsku dat die individue agter die groep nie ingevolge die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (Fais) gemagtig is om enige finansiële advies‑ of tussengangerdienste te lewer nie.

Luidens ʼn verklarings wat Dinsdag deur FSCA uitgereik is, gebruik die groep name van ’n wettige finansiële diensverskaffer, naamlik Fairtree Asset Management (Pty) Ltd (FSP 25917), Fairtree Capital Hospitality (Pty) Ltd (FSP 46033) en Fairtree Private Client (Pty) Ltd (FSP 12179), om vertroue te kweek.

Dié finansiële diensteverskaffer het egter aan FSCA bevestig dat die maatskappy geen bande met Fairtree Capital het nie.

“FSCA is van mening dat die groep ongeregistreerd sake doen en adviserende en tussengangerdienste sonder die nodige magtiging lewer.

“Die WhatsApp-groep werf beleggings en belowe dan buitensporige, onrealistiese opbrengs op dié beleggings.”

FSCA maan die publiek om altyd seker te maak of ʼn individu of entiteit by FSCA geregistreer is en tot watter mate hulle gemagtig is om sodanige dienste te lewer.

“Daar is gevalle waar mense geregistreer is om basiese adviseringsdienste vir laerisikoprodukte te lewer, maar dan hoërisiko‑, komplekse dienste aanbied.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

En daar gaan BAIE mense wees wat val vir hierdie bedrog

Piet Snot

En hier dog ek julle gaan ons waarsku teen Schweizer-Reneke se hokkiegroepie!