Los Angeles tot Sydney: SA’ners vertel van inperking

Annelie en Neil du Plessis by die OC fair (Orange County). Dit was nie in daardie stadium nie nodig om maskers te dra nie, maar Annelie en Neil was maar versigtig, veral as hulle in die rye gestaan het. (Foto: Verskaf)

Noem dit wat jy wil: staat van inperking, grendeltyd, lockdown … Covid-19 het ons realiteit kom verander. Ons sal almal Suid-Afrika se eerste grendeltydperk onthou – daai tyd toe jy nie eers uit jou erf mog kom nie. Vandag is ons al heelwat meer met grendeltydmaatreëls bekend en ons regering is ook wyser na duur lewenslesse. Hoe het grendeltyd egter in ander lande gelyk?

Tanya de Vente-Bijker het by Suid-Afrikaners in ander dele van die wêreld gaan uitvind hoe hulle grendeltyd ervaar het.

Los Angeles, VSA

Annelie du Plessis en haar man Neil woon al vir tien jaar in Los Angeles (LA), basies in die middel van die besige stad tussen downtown Los Angeles en Hollywood, in ʼn baie digbevolkte omgewing. “Ons bly in ʼn stad waar daar altyd agtergrondgeraas soos alarms, mense en karre is. Toe ons in 2020 vir die eerste keer in ʼn grendeltyd ingegaan het, was dit nogal ʼn vreemde gevoel om die stad wat altyd so besig is, so stil te beleef. Ons het vir die eerste keer voëls gehoor. Selfs die familie het met ons video-oproepe opgemerk dat hulle die voëls in die agtergrond kon hoor.” Vir haar was dit die silwer lyntjie om die donker wolk van die grendeltyd: Om vir die eerste keer te voel dat jy nie in ʼn stad woon nie. “Ons het geen verkeer gehoor nie, die lug was baie skoon en omdat almal van die huis af gewerk het, was almal ewe skielik baie rustig.”

Maar LA wentel rondom die vermaaklikheidsbedryf en toerisme, en dus het Covid-19 en die inperkingsmaatreëls ʼn verwoestende effek op die bedrywe gehad. Sy vertel baie mense het hul huise of hul karre verloor. Hul regering het toe ʼn bevel uitgereik dat huurders nie uit hul huise of gebou verwyder mag word nie. “Ons regering het soveel as moontlik vir sy mense en hul besighede probeer doen.” Een van die interessante stories wat Annelie vertel, is hoe LA nog al die jare baie hawelose mense gelok het as gevolg van die gunstige weerstoestande. “Die regering het tydens grendeltyd ʼn maatreël ingestel dat die polisie nie die hawelose mense mag verwyder nie. As jy nou op Sunset Boulevard afry, net voor jy die Sunsetstrip (ʼn groot toeristeaantreklikheid) binnery, sien jy tent op tent op tent vir die hawelose mense op die sypaadjies.

Net soos in Suid-Afrika mag hulle ook nie restaurante besoek het nie, en slegs wegneemetes bestel het. “Dit was nogal snaaks om op ʼn Vrydagaand mense in die McDonald’s Drive-Thru te sien staan wat wag om te bestel.

Vir haar is die ergste dat sy nie kan reis nie, en veral ook nie na Suid-Afrika kan reis nie. “Ons kom gewoonlik een keer per jaar huis toe. Dit was ook vir ons erg toe ons ma’s Covid-19 gekry het aan die begin van die jaar en ons nie daar kon wees om te help nie.”

Payson, Arizona – VSA

Ina Grobler en haar gesin in Arizona, Januarie 2020 net so voor Covid getref het. Dit was by die Chapel of the Holy Cross wat in die rotse gebou is. (Foto: Verskaf)

Ina Grobler en haar gesin woon nou al vanaf 2016 in die dorp Payson, so 144 km vanaf Phoenix in Arizona. Sy sê in hul dorp was die inperkingsregulasies minder streng as in die groot stede, maar vanaf April 2020 was maskers ook verpligtend in openbare plekke. “Alhoewel restaurante gesluit was en slegs wegneemetes beskikbaar was, het kleiner winkeltjies oopgebly, aangesien hulle moes oorleef. Die mandaat in Payson was dat as jou besigheid klein is jy aanhou mag werk en jou werknemers kantoor toe kom.”

“Die voordeel daarvan dat ons op ʼn klein dorpie woon, is dat ons kinders steeds in die veld kon uitgaan en staproetes doen. Hier is baie vars lus en ons park, die Green Valley Park, waar mense met hul honde gaan stap, was ook steeds oop.”

Volgens haar is Amerikaners baie goed daarmee om sosiale afstand te handhaaf. In April vanjaar het die goewerneur van hul staat die dra van maskers afgestel (dit verskil van staat tot staat in Amerika). Vir haar is die ergste van grendeltyd om nie te kan sosialiseer nie. “Mense het beslis kajuitkoors gekry en was meer depressief.”

Ilse Strauss en haar man. In die agtergrond kan ‘n mens Jerusalem en die Knesset sien. (Foto: Verskaf)

Jerusalem, Israel

Ilse Strauss en haar man woon in Jerusalem. “Ek onthou hoe ons hele afdeling in Desember 2019 rondom ʼn rekenaar gestaan en na die Covid-19-statistiek in China gekyk en wonder het hoe dit Israel gaan tref. Dit het so ver verwyderd gevoel.”

Sy vertel nadat die eerste persoon in Israel Covid-19 opgedoen het, openbare byeenkomste, binne en buite, opgeskort is. “Ons was vroeg in Maart in kontak met iemand wat positief getoets het en moes twee weke in isolasie gaan. Dit was my verjaardag op 13 Maart en ons was in kwarantyn. Ek onthou nog hoe ek gedink het dit binne dae verby sou wees en dat ons nie die volle twee weke in kwarantyn sou hoef te wees nie.” ʼn Paar dae later het die getalle egter só geklim dat ʼn grendeltyd aangekondig is, net voor die jaarlikse Pasga. “Pessag is die een dag in die jaar waar almal met hul uitgebreide families bymekaarkom, en dit was ʼn groot slag om dit nie te kon doen nie. Maar,” vertel Ilse, “daar was ʼn ongelooflike atmosfeer. Op die aand van Pessag het almal presies om agtuur op hul balkonne uitgegaan om een van die Pessagliedjies te sing. Dit was so mooi, ek het op my balkon gestaan en huil.

“In ons eerste grendeltyd mag jy letterlik nie uit jou huis gegaan het nie, slegs vir ʼn mediese ongeval. Toe die regulasies effens gelig is, is ons toegelaat om winkel toe te gaan en 500 meter met jou hond te stap.” Sy verduidelik in Israel is daar nie regtig tuine nie, wat dit vir ma’s met kinders nogal moeilik gemaak het, en vandaar die 500 meter radius waar jy kon rondbeweeg.

“Ek is ʼn out and about mens; ek wil in die hustle and bustle wees. En die gedagte daaraan dat ek nie kon nie, was vir my erger as die feit dat ek nie kon nie. Op die ou einde was die eerste grendeltyd wel vir my ʼn groot seën, want ek het rustiger geraak en rustiger gewerk.”

Spanje

Annelize Steyn en haar gesin het op 29 Januarie vanjaar na Spanje geëmigreer. Sy sê Spanje is baie swaar deur die eerste vlaag van Covid-19 getref. Volgens haar is Spanjaarde uitsonderlik sosiaal.

“Afgesien van die ernstige lewe-en-dood invloed wat Covid-19 hier gehad het, is hierdie deel van hul kultuur ook weggeneem. Die pandemie het dus nie net hul doen en late beïnvloed nie, maar ook hul identiteit as nasie.

“Ek dink een van die swaarste maatreëls vir Spanjaarde was die reël dat mense vir ʼn lang tyd nie aan die binnekant van kroeë toegelaat is nie. Eet- en kuierplekke is slegs toegelaat om kliënte op hul terrazas te bedien. Dit is gewoonlik klein gesinsbesighede waar ʼn pa, ma en soms die volwasse kinders ook almal saamwerk en hul inkomste as familie dus radikaal ingeperk of weggeneem is.”

Net soos in Suid-Afrika was daar ook vreemde reëls wat nie sin gemaak het nie.

Annelize Steyn en haar gesin in Spanje. (Foto: Verskaf)

“In groot afdelingswinkels soos El Corte Ingles, is sekere afdelings met lint afgesper. As jy byvoorbeeld ʼn item gesien het waarvan jy hou, kon jy dit vir die winkelassistent wys en sy sou jou dan help om dit aanlyn te bestel.”

Dit gaan tans beter in Spanje omdat die inentingsprogram flink vorder. Waar Annelize nou woon is daar nog ʼn aandklokreël van toepassing tussen 02:00 en 06:00. Kroeë en restaurante moet teen 02:00 sluit en slegs tien mense mag op die stoep bymekaar sit, met ʼn maksimum van ses mense wat binne bymekaar mag sit. Kliënte mag nie by die toonbankarea staan en kuier nie, maar moet by tafels sit.

“Dit is vreesaanjaend om in ʼn vreemde land gedurende ʼn pandemie te wees. Vreesaanjaend om te dink dat jy nie vinnig op ʼn vliegtuig Suid-Afrika toe kan klim in geval van nood nie en dat al jou mense ook elke dag aan die siekte blootgestel is. My skoonma en twee van my skoonsussies het Covid gehad sedert ons uit Suid-Afrika weg is, maar het genadiglik herstel.”

ʼn Hoogtepunt vir die Spanjaarde was die aanpassing van die maskerreël in laat-Junie vanjaar. Sedertdien word inwoners nie verplig om maskers in die buitelug te dra as sosiale afstand gehandhaaf kan word nie. “So, op staproetes en strande voel dit bykans nie of Covid-19 bestaan nie, maar op straat sien ʼn mens wel dat baie mense steeds maskers dra (ons inkluis),” sê Annelize.

Sydney, Australië

Carol Heukelman en haar gesin by een van die parkies in Pymble, Sydney. (Foto: Verskaf)

Carol Jentelman en haar gesin het in Januarie 2020 na Sydney, Australië geëmigreer. Twee dae later, op 25 Januarie 2020, is Australië se eerste Covid-19-geval aangeteken. Sydney beleef tans sy tweede en grootste Covid-19-golf as gevolg van die Delta-variant.

Carol vertel Australië was sover baie bekwaam en effektief in die monitering van Covid-19-infeksies. “Covid-19-toetsing is gratis in Australië. Gereelde toetsing word ten sterkste aanbeveel, selfs al toon ʼn persoon die geringste van simptome. Jy kry dieselfde dag nog die resultate.”

Vanaf 25 Junie vanjaar het die inperkingsmaatreëls in Sydney strenger geword. Ten tyde van ons onderhoud is geen besoekers tuis toegelaat nie.

“Ons mag slegs binne ons Algemene Munisipale Area (AMA) vir noodsaaklike dienste beweeg, of indien ʼn persoon se noodsaaklikhede buite die AMA is, mag daar slegs binne ʼn 5 km-radius van die huis af beweeg word. Een persoon per huishouding mag per dag noodsaaklike inkopies gaan doen.”

Carol sê vir haar is die ergste dat hul ouers hulle nog steeds nie kon besoek het nie. “Beide ons ouers het reeds vlugbesprekings gehad om ons te kom besoek om ons nuwe lewe te kom verken. Ons het nooit in Januarie 2020, toe ons afskeid op die lughawe geneem het, gedink dat hierdie die uitkoms sou wees nie.”

Yolande Maritz woon ook in Sydney. Sy sê die stad se strate is leeg, maar oral sien jy mense in parke wat stap en oefen, want oefen is deel van Australië se kultuur. “As jy saam met meer as twee mense gaan oefen, word jy met $3 000 beboet. Die polisie is oral op die uitkyk vir mense wat die reëls breek.” Sy sê as jy enkellopend is en op jou eie bly, mag jy ʼn “single buddy” registreer wat by jou kan kuier. Die persoon moet in jou 5 km radius wees en ook op hul eie bly. “Die stad Sydney is egter dolleeg en jy sien ook meer en meer koffiewinkels en restaurante wat hulle besighede permanent toegemaak het.”

Yolande sê sodra Sydney se bevolking 70% ingeënt is, kan die bogenoemde maatreëls verslap, en die regering hoop dat dit teen middel-Oktober sal wees.

Yolande Maritz, Cape Bailey Lighthouse walk, Sydney. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

Klink erger as SA.

Jaco

Daardie wonderlike lande waarheen dié mense verhuis het, gebruik inperking NET om Corona te keer. SA se anti-wit regering gebruik inperking ook om wit mense by te kom. Ramaphosa het immers meer as eenkeer in die verlede reeds gesê dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. Dit verklaar dan ook die sluit van strande in Desember 2020 en Januarie 2021. WEG is wit mense se tradisionele “vakansie by die see” en WEG is wit toeristebesighede aan die kus se beste inkomste van die jaar.

Marius

Sydney se beperkings sluit in dat mens slegs noodsaaklike items en dienste mag aanskaf. Geen haarsny byvoorbeeld nie. Baie winkels pas ook “click & collect” toe wat beteken jy kan die items nie sien voor jy koop nie. Die reëls hier verander baie vinnig en as jy nie op hoogte is nie kan jy jou maklik vasloop in boetes van duisende dollars. Daar was selfs op ñ tyd ñ reël dat mens slegs mag sit en drink in kuierplekke, indien hulle jou vang staan en drink is dit moeilikheid. Die regering is behep met beheer en ek dink om nie… Lees meer »