‘Los nou maskers vir kinders’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die DA het Woensdag ’n beroep op die regering gedoen om die dra van maskers opsioneel eerder as verpligtend vir kinders te maak.

Volgens die party is die huidige vereiste op ’n risiko-gebaseerde benadering “irrasioneel”.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn voorstel aan die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) voorgelê is om vir eers met die dra van maskers in die buitelug weg te doen nadat die departement van gesondheid kundiges se menings ingewin het. Uitsluitsel is egter nog nie in dié verband gegee nie.

Ondanks ʼn beduidende afname in gevalle, het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, verlede week gesê dat die Covid-19-pandemie eers as “onder beheer” beskou kan word wanneer die positiwiteitskoers onder 5% daal. Dié koers het Woensdag op 5,5% gestaan.

Die regering verleng boonop gedurig die ramptoestand en het ook aangedui dat hulle die vakbond Solidariteit se aansoek om die ramptoestand op te hef, in die hof gaan teenstaan.

“In Suid-Afrika se huidige konteks oorskry die negatiewe impak van ’n verpligte maskerbeleid die positiewe impak. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het Dinsdag slegs 801 nuwe gevalle en ses sterftes in die voorafgaande 24 uur aangemeld, met ’n positiwiteitskoers van net 5,5%.

“Oortollige sterftes by diegene onder 65 is sedert September verlede jaar meestal normaal. Ons glo dat Suid-Afrika se maskerbeleid internasionale beste praktyke en standaarde moet volg,” sê Baxolile “Bax” Nodada, die DA se skaduminister vir onderwys.

Nodada sê die huidige maskermandaat het ten doel om ernstige siektes en druk op hospitale weens Covid-19 te verminder deur die oordrag van die virus te verminder. Tog is oordrag reeds laag.

Volgens die party sal die dra van maskers onder kinders ook nie die koers van ernstige siektes weens Covid-19 verlaag nie.

“Aan die ander kant is daar ʼn prys daaraan verbonde om te versigtig te wees. Maskers verhoed normale interaksie tussen skoolkinders en veroorsaak vrees, angs en algemene ongemak.

“Normale sosiale interaksies met vriende en onderwysers is belangrik vir die bevordering van kinders se groei en welstand. Maskers kan ook leer- en taalontwikkeling belemmer.”

Prof. Shabir Mahdi, professor in entstofkunde by die Universiteit van die Witwatersrand, het ook op Twitter gesê dat dit nie nodig is vir kinders om maskers by die skool te dra nie.

Die bygewerkte riglyne van die Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming beveel aan dat maskers slegs vereis word wanneer en waar Covid-19-hospitaalopnamevlakke vir pasiënte hoog is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se kinderfonds (Unicef) se riglyne is dat kinders ’n lapmasker moet dra wanneer daar wydverspreide oordrag in die gebied is.

“Gegewe internasionale neigings tot opheffing van maskermandate, versoek die DA die regering om maskermandate vir Suid-Afrikaanse leerders te hersien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marius ·

As die dra van maskers siekte voorkom sou niemand covid gekry het nie. Maskers keer nie siektes nie. So basta !!! Dit gaan suiwer oor geldmaak en die uitbuiting van Jan Alleman.

Henri ·

Nou dít is ‘n wonderlike stap in die regte rigting as ons departement oorreed kan word. Die maskers is nou totaal oorbodig en myns insiens dra dit by tot groter lang termyn probleme. ‘n Immunstelsel moet tog geprikkel word, of jy gaan geen natuurlike immuniteit hê nie. Kyk maar net na die verskriklike toename in asma onder kinders ‘n paar jaar gelede in Brittanje waar die medici agter gekom het die probleem lê in die feit dat kinders TE steriel grootword. Kinders is aangemoedig om grond te vreet om sodoende die immunstelsel te stimuleer.

Johannes ·

Wat van ons almal los maar die maskers? Gaan doen bietjie studie hoeveel mikron groot n virus is en hoe groot gate julle gesig doeke het. Die wat die moeite doen sal agterkom dat dit niks anders as “beheer” is nie…..amper dieselfde as om nie plakkies te koop in n pandemie nie.

Voilet ·

Maskers help nie teen covid nie, snaaks hoeveel kieme in hospitale is met mense wat daar lê en jy hoef deestyds nie ‘n masker gedra het om vir iemand in die hospitaal te gaan kuier het nie.

Mens kry nie asem met dit nie, hoe voel die kinders net nie

Marthinus W ·

Ek is 59, is met n ernstige hartprobleem (aorta klep stenose) gebore; het op 16 reeds n ope-hartoperasie ondergaan. [Het nog nooit gerook nie.] Ek het as kind gedurig keelinfeksies en brongitis, selfs longontsteking gehad, en het my familie altyd vertel dat ek weens my hart, hoe humiditeit, of virusinfeksie, gaan sterf. Toe ek begin werk in die Poskantoor en later Telkom, was ek gedurig siek. Toe die wet inkom dat rook binne geboue verbode is, het my brongitis elke twee maande, en longontsteking elke tweede jaar, skielik opgehou. Ek het gesonder geword.

Ek het elke liewe dag van my lewe verkoue, maar met die covid, toe ek verplig was om masker te dra, het dit so bietjie afgeneem. Eksperiment wat ek op myself uitgevoer het het bewys: die dra van n masker beskerm my teen verkoues en ander dinge. Ek sal aanhou masker dra, want dit beskerm my, ongeag wat die “kenners” glo.

Samuel ·

Hier in die Wes-Kaap waar ek woon is daar talle mense wat nie maskers in buitelug dra nie. Mense is siek en sat van maskers dra.

VaalDonkie ·

Hei, ek wil ook nie masker dra nie. Daai 5 minute wat ek hom in die Spar aanhet is aaklig. My asem skiet in twee sulke pypies hier agter my bril in en wasem dit op. En dit kielie my wange.

Leeuwyfie ·

MM gaan gesels bietjie met spraak-terapeute en hoor by hulle hoeveel kinders hulle deesdae sien wat spraak probleme het oor hulle nie die volwassenes se lippe kan sien om woorde te vorm nie. Volwassenes hou nie van masker dra nie, maar vir kinders is die maskers hel en moet onmiddellik gestaak word.

Witbaard ·

Die regering sal mos die positiwiteitskoers manupileer dat dit nie onder 5% sal daal nie. Daar is te veel kader vennote in die maskervervaardigingsbedryf

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.