‘Los SAUK-werkers, vervolg plunderaars’

(Argieffoto)

Solidariteit sê “omroepers en ander onskuldige werknemers van die SAUK” moet uitgelos word en “plunderaars en korruptes” moet vervolg en ontslaan word.

Die vakbond het nou namens sy lede by die omstrede afleggingsproses by die openbare uitsaaier betrokke geraak.

Intussen heers groot ontsteltenis oor 12 van die radiostasie RSG se 14 permanente werknemers wat afgelê gaan word. Dit sluit bekende stemme soos Jacqui January, Martelize Brink, Fritz Klaaste en Johan Rademan in.

Op sosiale media het talle luisteraars hul misnoeë met die besluit te kenne gegee.

Baie ander SAUK-werkers sit ook steeds op hete kole om te hoor of hulle afgelê gaan word.

Die SAUK het vroeër aangekondig dat 400 van sy werkers afgelê moet word. Dit sluit diegene by sy nuuskantoor in. Daar is in hierdie stadium 170 vakante poste waarvoor werkers kan aansoek doen, wat die getal geraakte poste tot 230 verminder.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die nasionale uitsaaier is in ʼn chaotiese finansiële toestand. Hy sê volgens die SAUK se jongste finansiële state het die uitsaaier weer ʼn verlies van R511 miljoen gely.

“Dit is nie die gevolg van goeie werknemers nie, maar die gevolg van vrot bestuur wat die uitsaaier deur roekelose besluite in ʼn krisis gedompel het. As vrot en roekelose bestuur die probleem is, kan die antwoord nie wees om van jou beste personeel ontslae te raak nie,” het Hermann gesê.

“Afleggings kan nie ʼn opsie wees voordat die vrot bestuur nie uitgesny is nie. Dit is veral waar wanneer bestuur nie eers ʼn derde van die personeel uitmaak nie, maar bykans die helfte van die totale vergoeding opslurp.”

Hermann sê met meer as R5 miljoen se onreëlmatige uitgawes wat steeds op kondonasie wag of onderhewig is aan verdere ondersoek, is dit onverskillig en genadeloos om werkers af te lê terwyl die korruptes skotvry daarvan afkom.

Solidariteit het die openbare beskermer (OB) reeds gevra om die SAUK se sake te ondersoek. Die vakbond voer aan daar is roekeloos met belastinggeld omgegaan.

“Belastingbetalers moet opstaan om die vermorsing van belastinggeld stop te sit.

“Solidariteit gaan nie net namens sy lede by die SAUK optree nie, maar ook ten behoewe van belastingsbetalers. Hierdie kultuur van plundering deur die staat en sy amptenare kan en sal nie langer geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dries ·

Laat Hlaudi bietjie kom antwoord, hy leef nou lekker terwyl se eks-personeel binnekort sonder werk sit.

Onnie ·

Dis n blêrrie skande! En die tragedie is… dit gaan oral so, in alle staatsbeheerde organisasies. Suid Afrika is besig om bitter vinnig in sy maai te gaan. Op die ou ent draai die hele land se mense teen die regering en breek hier n burgeroorlog uit!

'n Simpelman ·

Nie net in staatsbeheerde organisasies.
Privaat sektor het ook sulke gevalle.

My positiewe uitkyk, laat my glo in ‘n mindere mate

Suzette ·

Ek stem saam -dat die plunderaars en korruptes verantwoordelik gehou moet word. Hulle moet terugbetaal of al hulle bates moet verkoop word om iets te probeer terugkry.

Francois Le Cochon ·

“ONS SAL SELF”. Breek weg RSG, en begin jul eie onafhanklike afrikaanse radiostasie.

Misky ·

As so baie afleggings nou gedoen kan word, is dit net bewys dat daar laaste paar jare teveel werkers aangestel is onnodig. En hulle finansiele departement moet ondersoek word. As lisensie gelde en advertensie tye se gelde reg bereken word en reg bestee word, kan dit n sukses wees soos jare tevore. Maar die grootkoppe soek mos VET salarisse en basta met die res

Abel ·

‘n Mens moes dit seker verwag het van ‘n instelling waar die African National Corrupt Criminals die septer swaai.

Denise ·

Weereens nog ‘n staats instelling …. SAL (SAA)…. SAUK (SABC)….iets moet verander… want duidelik kan die staat niks laat groei of maak werk nie… SKANDE

Pieter ·

Die omroepers wat afgedank word kan oorkom en inval by Radio Solidariteit, beter bekend as Radio Pretoria. Dit het al gebeur.

Lynette ·

Ek luister slegs Pretoria FM, beste radiostasie! ONS HÉT SELF!

Peetjie ·

Daar was lankal sprake dat n sekere minister die RSG wou sluit omdat dit te Afrikaans was…nou wil hy sy sin kry deur onskuldige mense te wil aflê.. Begin bo en kry die vrot appels bo uit…

Cecilia ·

Los die werknemers uit en sny d TOP Hoofbestuur. 1 salaris pakket vd Top bestuur kan sekerlik 5 Werknemers se salarisse betaal!
Hou ook op om d stories so uit te rek en onnodige akteurs te betaal om d hele storielyn net te herhaal.
Hierdie sepies leer ook net verkeerde waardes aan ons kinders. Want dis n gesaamslapery met elke 2de persoon en n gerugstekery.
Dis hkm ek glad nie Sepies kyk nie. Ek live stream eerder direk v Netflieks af. Baie beter gehalte shows as d gemors wat d SAUK uitsaai.

Juffrou ·

Waar is Gordhan en Tito nou met hul reddingsboeie van biljoene wat hul telkens só vir die SAL gooi? Gooi nou ń bietjie SAUK se kant toe ook. Dan sal ons as gewone burgers daarby baat en nie net die fat cats wat in styl gratis wil vlieg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.