Lotery: Almal van ANC-munisipaliteite tot Saskok skep fluks

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Drie van die land se korrupste en mees swak bestuurde munisipaliteite het oor die afgelope tien jaar miljoene der miljoene rand van die nasionale loteryraad ontvang.

Die grootste begunstigde is egter die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), wat tussen 2010 en 2018 byna R500 miljoen by die raad gekry het, het Mike Walters, ʼn DA-LP gesê.

Die SA Sporttrust het in dié tyd nagenoeg R128 miljoen ontvang, die SA College Principals Organisation net meer as R62 miljoen en die Kaapse Klopse-karnavalvereniging net meer as R54 miljoen.

DA-LP Mat Cuthbert plaas al geruime tyd druk op die Nasionale Loterykommissie om oop kaarte te speel oor sy lys van begunstigdes vir die boekjare 2018-’19 en 2019-’20 en die lys begunstigdes (tussen 2010 en 2018) is nou in antwoord op ʼn parlementêre vraag aan die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, aan die DA verskaf.

Die DA sê uit die antwoorde is dit duidelik waarom die raad so traag was om sy lys van begunstigdes bekend te maak.

Benewens bogenoemde uitbetalings, is byna R40 miljoen aan munisipaliteite gegee. Die redes hiervoor is duister. Walters sê alle munisipaliteite in Suid-Afrika ontvang voorwaardelike toelae van die nasionale tesourie om dienslewering- en infrastruktuurprojekte op plaaslike vlak te betaal. Hy sê dit is dus verrassend dat die Nasionale Loterykommissie aansoeke om toelae van munisipaliteite sal aanvaar in wat duidelik ʼn onetiese praktyk is om twee keer openbare geld te ontvang.

Walters sê die grootste bron van kommer is egter dat die drie munisipaliteite van die land se vrotste is. Die Polokwane-munisipaliteit het reeds R15 miljoen ontvang, die uMzinyathi-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal (Dundee) meer as R14 miljoen en die uMhlathuze-munisipaliteit, ook in KwaZulu-Natal, altesaam R10 miljoen.

Nóg ʼn bron van kommer vir die DA is die allemintige amper R15 miljoen wat aan ʼn enkele skool in Noordwes, die Mankuroane Tech & Comm High School, gegee is.

“Suid-Afrika het talle skole wat ʼn groot behoefte aan beduidende belegging in hulle verkrummelende infrastruktuur nodig het. Gegewe dié uitdaging, maak dit nie sin vir die loterykommissie om so ʼn groot toelaag aan een skool te gee nie.”

Walters sê die geld kan veel beter gebruik word as dit in kleiner toelae verdeel en aan verskeie skole landwyd betaal word.

Net so is die R63 miljoen rand vir SA College Principals Organisation ʼn bron tot kommer, sê Walters. Hy sê so ʼn groot toelaag vir ʼn nisorganisasie wat net werkwinkels en beroepsontwikkelingskursusse vir sy lede aanbied, is ʼn bietjie dik vir ʼn daalder.

“Die vraag wat nou ontstaan is hoe die kommissie ʼn multimiljoenrand se toelaag regverdig wanneer daar talle berigte in die media is oor hulporganisasies wat spook om arm mense te voed weens ʼn gebrek aan geld.”

Die DA is ook bekommerd oor die R54 miljoen aan die Klopse en Walters sê die loterykommissie moet verduidelik hoekom dié organisasie ʼn enorme toelaag kry, terwyl talle ander nieregeringsorganisasies wat mense in die desperaatste omstandighede probeer help, nie ʼn sent kry nie.

“Die publiek moet weet hoe al die geld bestee is en hoe die breër gemeenskap daarby gebaat het,” het Walters gesê.

Die DA gaan nou ʼn dringende vergadering met die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, Patel as minister en die Nasionale loterykommissie belê om verdere antwoorde te eis.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het intussen die organisasie GroundUp geluk gewens met ʼn hofoorwinning in sy stryd met United Civil Society in Action (UCSA). Die organisasie het GroundUp hof toe gesleep en aangevoer GroundUp verbreek ʼn bepaling van die Wet op Loterye, wat UCSA aanvaar, die vertroulikheid van begunstigdes van loterytoelae beskerm.

UCSA het nou sy saak teen GroundUp laat vaar en onderneem om die organisasie se regskoste te betaal.

Indien UCSA suksesvol in sy aansoek was, sou GroundUp al sy berigte oor beweerde korrupsie, onbevoegdheid en botsende belange deur werkers van die loterykommissie en begunstigdes, moes verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kokerboom ·

Vir ‘n klein ontwikkelende land met massiewe sosio-ekonomiese problem moet ons die eerste plek behaal in die korrupsierangorde van die wereld korrupsiehandboek. Baie geluk ANC

Jacobus ·

Gekondisioneerde refleks. Geld wat rondlê moet geskep word. Tragies verby.

Miskruier ·

Die D A se plig! Steek die kers aan(tong in kies) ontbloot al die bedrog!

Blikke ·

“As dit pap reen moet jy skep” maar o wee daar gaan n dag aanbreek dat die pappot leeg is en dan…”Dan gaan die poppe dans”

Juls ·

Amper elke dag stap daar iemand by my praktyk in wat kom vir hulle laaste oogtoets voor hulle immigreer. BAIE hoe inkomste belastingbetalers verlaat die land. Die dag van die lee pappot kom al hoe nader. Wee aan die wat oorbly

Karin ·

Ja en so word daar weer gevat van die wat dit regtig nodig het, en pa staan vir dit sal hulle ook nie. Sal iemand anders se skuld wees soos gewoonlik

Yolandie ·

Kan net my kop skud…….want om kwaad te raak help net NIKS!!!!

Juls ·

Wa ha ha ha!!!! En sascoc weier om atlete olimpiese spele en commonwealth spele toe te stuur as gevolg van te min fondse!!!!!

Althes ·

Skandelik dat die Lotto nie onafhanklik optree nie en polities gekaap is. Die nasionale lotery skenk nie meer aan broodnodige hulpbehoewende organisasies soos die SPCA nie of sosio-ekonomiese instellings nie.

Scalla ·

Wys ons n plek waar daar nie bedrog, korrupsie, lieg en bedrieg plaasvind met die huidige skelm regering aan bewind nie, almal word uitgewys maar niks gebeur nie.

Hennie ·

Net mooi alles waaraan hierdie terroriste vat, verrot! Nie een ding kan reg loop nie. Niks!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.