Loterykommissie gee ‘volle samewerking’ aan ondersoekers

(Argieffoto: Raymond Joseph/GroundUP)

Die nasionale loterykommissie (NLK) het onderneem om sy volle samewerking te gee aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) nadat ondersoekers van dié eenheid asook die Valke Dinsdag vroegoggend op die kantoor van die NLK in Pretoria toegeslaan het.

Die ondersoekers het glo veral gefokus op rekenaars en finansiële dokumente wat verband hou met die finansiering van miljoene rande se loterygeld aan sekere instellings.

Luidens berigte is daar ook beslag gelê op skootrekenaars wat aan lede van die kommissie se uitvoerende komitee en sommige werkers behoort.

Bewerings van ongerymdhede teen die kommissie word nou reeds geruime tyd gemaak.

Die SOE is ingevolge ʼn proklamasie deur pres. Cyril Ramaphosa toestemming gegee om ʼn verskeidenheid bewerings te ondersoek. Dit sluit in bewerings van wanbestuur, die onregmatige toewysing van geld of eiendom, onbehoorlike of onregmatige gedrag deur amptenare van die kommissie, onregmatige, onreëlmatige of ongemagtigde optrede, transaksies of maatreëls wat met staatseiendom verband hou, asook die doelbewuste of nalatige verlies aan staatsgeld op skade aan staateiendom.

Die NLK het gesê die raad en bestuur van die kommissie is verbind tot behoorlike bestuur terwyl hulle “strategiese rigting en aanspreeklikheid vir die bedryf van die NLK verskaf”.

Die kommissie het ook gesê die daaglikse werksaamhede van die kommissie sal nie deur die proses geraak word nie, terwyl die “organisasie voortgaan in sy strewe om ʼn positiewe uitwerking op die lewe van alle Suid-Afrikaners te hê”.

Daar was vroeër reeds twee ondersoeke na die bedrywighede by die kommissie. Een daarvan is van stapel gestuur deur die NLK-raad en is gedoen deur ʼn onafhanklike ouditfirma. In dié ondersoek is daar onder meer gekyk na die beweerde onbehoorlike gebruik van geld wat vir verdienstelike sake gebruik moes word.

Die ander ondersoek is deur die minister van handel, nywerheid en mededinging van stapel gestuur.

“Die bevindings van albei ondersoeke moet nog afgehandel of deurgegee word,” het die kommissie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hoe is dit dat 90%+ van die groot wenners is nie wit nie? Die stelsel is gedokter!

Wondermaarnet ·

Jy kan dink wat jy wil, maar nie sê wat jy wil nie.

Ou bees ·

Alles in die land is ‘gedokter’ dis mos die nuwe normaal

Klaas ·

Weereens ‘n bewys dat die nuwe normaal vir Suid-Afrika = BEGROG en KORRUPSIE.

Agter die skerms ·

Mad Mike ek het ook al die vraag gevra nie een van die groot wenners is wit nie? Stelsel is gedokter – ons gesels baie daaroor. Ek sal gevra word hoekom ek nie speel nie en my kommentaar is net dat dit gedokter is….

Jakes ·

As n mens na die kombinasies van die wennommers kyk van so paar dae gelede dan moet daar ernnstige vrae gevra word. Nerens in die geskiednis van Lotto uitslae in die wereld was daar al 6 nommers wat opmekaar gevolg het nie.

Jacobus ·

Help nie om samewerking te gee nie – gee die geld terug!

Die Wolf ·

Die uitstaande ondersoeke is wel deurgegee. Hoekom dink hulle slaan die Valke toe?

JohanR ·

Lang verby dat die klomp ondersoek word….5,6,7,8,9 en Kragbal 10…..rerig! Wat het gebeur met balle wat mens kan sien uit ‘n masjien uitrol, onafhanklike ouditeure en ‘n ateljee-gehoor? Nou gebeur alles in die donker waar niemand kan sien, met virtuele balle wat deur ‘n komper program kan manipuleer word. Hoeveel ANC’s sit nie op die Lotery Bord nie?

Mudguard ·

Ek dink zuma speel ook lotto om sy regskostes te betaal. Hy wen elke week.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.