Lotto-wenner kies ‘eenvoudige lewe’ ondanks nuwe rykdom

Argieffoto: Pixabay

ʼn 35-jarige enkellopende man van Kaapstad wat R38 miljoen ryker geword het nadat hy twee weke gelede die PowerBall Plus-boerpot losgeslaan het, sê sy daaglikse bestaan gaan nie veel verander nie, ondanks sy nuutgevonde rykdom.

“Ek verkeer steeds heeltemal in ongeloof aangesien ek nog nooit enigiets in die lotery gewen het nie en my eerste wengeld ooit is sommer die gesogte boerpot!” sê die wenner.

Hy vertel hy bestee gemiddeld R150 per week aan die Lotto en het eers onlangs begin om PowerBall te speel. “Elke keer dat ek ʼn kaartjie gekoop het, het ek myself vertel ek gaan geld wen, maar ek het nooit gedink ek sal die boerpot wen nie,” sê hy.

“Ek het twee dae ná die trekking [op 21 September] na dieselfde handelaar gegaan waar ek die kaartjie gekoop het om te kyk of ek gewen het en tot my verbasing is ek aangesê om na Ithuba se kantoor te gaan. Ek het toe dadelik geweet ek het geld gewen, maar was nie seker hoeveel nie.”

Die man het ook nie sy goeie nuus wyd en syd verkondig nie en het net sy pa in sy vertroue geneem oor sy nuwe miljoenêrstatus. Niemand anders weet dat sy bankbalans nou aansienlik groter is nie. Hy beplan om van die geld te gebruik om na sy afgetrede pa om te sien en sy uitstaande skuld te betaal.

Daar lê egter nie ʼn splinternuwe lewe vir dié wenner voor nie. Hy sê hy sal steeds sy gewone 9-tot-5-werk behou en steeds Lotto en PowerBall speel. Hy beplan wel om van sy wengeld te gebruik om te reis en te doen waarvoor hy die liefste is – om tyd in die buitelug deur te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

dee ·

hy vertel homself hy gaan geld wen, ek speel van die begin af en sê altyd dis my maandelikse bydrae om armoede te verlig.

Stuiwer ·

Ek is seker mense speel die lotto in die hoop om iets te wen. As jy armoede wil verlig, skenk aan ‘n goeie saak en as jy wen, skenk sommer meer.

Stephen Namibia ·

As ek daai klas geld wen sal ek van my skuld betaal. Die ander ouens moet maar bietjie wag!

marous ·

Haha …Lukas se ‘Ek sal kan doen met ‘n miljoen” gaan verander na “n biljoen ” met die land se geld waarde…

Johnnie ·

Wag tot hy begin spandeer dan sien jy hoe gou raak daai miljoene minder en klaar, hoop hy gebruik sy verstand en bele sy geld.

Oujongvrou ·

Al wen ek 100 miljoen skenk ek nie n sent aan goeie sake nie. Al ooit gesien wie dit is wat al die goeie sake ondersteun.?? En wonder niemand waar gaan al die skenkings heen nie?? Nee my geld gee ek eerder vir afriforum, hulle sorg vir baie arm gesinne. En dis wat ek nou ook doen. Spaar sente gaan na hulle toe.

anke ·

en wie daardeur bevoordeel word! as dit eers engels bemark word, kan jy maar weet wie die bevoordeeldes gaan wees

Theresa ·

Baie mooi manier om jou nuutgevonde rykdom te hanteer!! BAIE geluk!! Niemand kan jou voorskryf hoe jy daardie geld moet spandeer nie – want dis joune en regtig, jy is selfs verstandig genoeg om jou lewe eenvoudig te hou en te bly werk.
Hoe wonderlik is dit dat jy van die geld gaan gebruik om jou afgetrede ouer te onderhou!! En geniet jou reise wat jy gaan aanpak – dis iets wat mens nooit vergeet nie en wow – jy het dit gewen!!

Landie ·

Hy gebruik mos van sy geld om na sy afgetrede pa om te sien. Ek sou dink dit is meer as ‘n goeie saak. Hy hoef nie vir ander luies te sorg nie. Geniet jou geld, dit is joune, om daarmee te maak wat jy wil. :)

Gina ·

As ek die lotto wen sal ek vir diere sorg. Al die weggooi en verwaarloosde diere help.
Kos, komberse, veeartsbehandeling en massas sterilisasies reël. Maar ai, dan sal ek seker moet begin speel een of ander tyd :-)

Andre C ·

Met so baie geld kom so baie versoekings.Hy moet net versigtig wees dat die meisies nie sy geld agterkom nie !

Tamaties ·

As ek n helse klomp geld wen…..koop ek Sun City, sloop hom en plant tamaties! Want ek is gewoond aan sukkel.

SjN ·

As ek soveel geld wen gaan ek eerstens n kas brandewyn, coke en ys koop en as dit klaar is gaan ek die WP span koop, n mens koop enige bollie as jy gesuip is.

Enkel ·

As hy my maar net met 1m kon help sou al my probleme opgelos wees….?

Enkel ·

As hy my maar net hierdie enkelma met 1m kon help sou al my probleme opgelos wees….?

TWAK MAN ·

Sy 9-5 werk behou??? Twak man.
Gaan hy nou regtig bly werk tot hy 65 is. Agge nee man …wie glo dit nou?
Lyk my hy besef nie hoeveel geld dit is nie. Hy kan die plek waar hy werk koop en in die bestuurder se stoel gaan sit.
Laat my dink aan toe my vriend vir sy Mosambiekse werker gevra het wat hy sal doen as hy die Lotto wen. Die mosambieker antwoord toe dat hy DRIE fietse TIEN waterkanne sal koop en huistoe sal stuur…en die res? vra my vriend. “Sir , you can keep the rest” antwoord die werker toe baie eerlik.

JK ·

@Twakman, dis waar, in SA werk ons 7:30 – 4:30 Hahaha daar is verskriklik baie miljoeners wat nogsteeds werk, inteendeel harder werk na die 1ste miljoen.

Lenie ·

Dit was die regte ding om te doen vir jouself en mense rondom jou se veiligheid;.. Gaan aan met normale lewe asof niks gebeur het nie, maar geniet dit om nie te bekommer oor geld nie. Mens kan ook maklik oorweldig word deur mense wat jou wys op al die armoede en ellende rondom jou. Dan is daar ook baie wat net agter jou geld aan sal wees. Hoop jy kry die regte lewensmaat wat jou sal bystaan deur swaarkry en plesier. As jy wil help, vind self uit wie en waar jy wil help. Doen wat jou gelukkig sal laat voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.