Louca het glo longkanker

George Louca tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

George Louca tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

George Louca van Ciprus, wat verdink word van die moord op Teazers-baas Lolly Jackson, het glo longkanker, het The Star Donderdag berig.

“Dit lyk asof die kanker redelik uitgebreid is,” het sy prokureur, Owen Blumberg, aan die koerant gesê.

“As dit ʼn aggressiewe kanker is en hy het nie veel tyd oor nie, kan ek nie voorsien watter rigting die hof sal neem in sy verhoor nie.”

Louca gaan na verwagting ʼn reeks toetse ondergaan om die fase van die kanker te bepaal.

Blumberg het gesê Louca het beëdigde verklarings aan die staat voorsien, maar hy was bekommerd dat sy kliënt nie gaan oorleef om te getuig en sodoende sy onskuld kan bewys nie.

Velekhaya Mgobhozi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die NVG wag nog vir ʼn verslag van die verdedigingspan. “Die NVG sal die verslag nagaan en dan ʼn besluit neem,” het Mgobhozi gesê.

Louca, wat verhoor word onder die naam George Smith, word beskuldig van die moord op Jackson. Hy het in Februarie 2014 na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy sy finale appèl teen sy uitlewering van Ciprus verloor het. Hy het glo uit Suid-Afrika gevlug nadat Jackson op 3 Mei 2010 in ʼn huis aan die Oos-Rand doodgeskiet is.

Louca het glo kort ná die moord vir Joey Mabasa, voormalige hoof van die misdaadintelligensie-eenheid in Gauteng, gebel en erken dat hy Jackson vermoor het.

Owen Blumberg, Louca se prokureur, het tydens sy vorige hofverskyning gesê hulle gaan aanvoer dat Louca nie vir Jackson vermoor het nie.

City Press en EWN het in Januarie berig dat hulle in besit is van ʼn beëdigde verklaring waarvolgens die Tsjeggiese sakeman, Radovan Krejcir, die sneller getrek het. Volgens die berigte het die forensiese konsultant, Paul O’Sullivan, gesê dat Jackson, volgens Louca, geskiet is ná ʼn “verbale en fisiese geskil oor geldwassery”.

Lees alle vorige berigte oor George Louca op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.