Louca in hospitaal vir TB

George Louca. Foto: Werner Beukes/SAPA

George Louca. Foto: Werner Beukes/SAPA

George Louca van Ciprus, wat verdink word aan die moord op Teazers-baas Lolly Jackson, is in ʼn hospitaal opgeneem vir tuberkulose (TB).

“Hy is Vrydag in die hospitaal opgeneem,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, Maandag bevestig. “Daar was probleme met sy gesondheid. Die dokters vermoed dat hy TB onder lede het.”

Mulaudzi wou nie bekendmaak in watter hospitaal Louca behandel word nie, maar het gesê hy is onder swaar polisiebewaking.

Louca, wat verhoor word onder die naam George Smith, word beskuldig van die moord op Jackson. Hy het in Februarie 2014 na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy sy finale appèl teen sy uitlewering van Ciprus verloor het. Hy het glo uit Suid-Afrika gevlug nadat Jackson op 3 Mei 2010 in ʼn huis aan die Oos-Rand doodgeskiet is.

Louca het glo kort ná die moord vir Joey Mabasa, voormalige hoof van die misdaadintelligensie-eenheid in Gauteng, geskakel en erken dat hy Jackson vermoor het.

Owen Blumberg, Louca se prokureur, het tydens sy vorige hofverskyning gesê hulle gaan aanvoer dat Louca nie vir Jackson vermoor het nie.

City Press en EWN het in Januarie berig dat hulle in besit is van ʼn beëdigde verklaring waarvolgens die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir, die sneller getrek het. Volgens die berigte het die forensiese konsultant, Paul O’Sullivan, gesê het dat Jackson, volgens Louca, geskiet is ná ʼn “verbale en fisiese geskil oor geldwassery”.

Lees alle vorige berigte oor George Louca op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.