Louiesenhof-moord: ‘Dit was vooraf beplan’

Stefan Smit. Foto: ANA

Die moord op die wynboer Stefan Smit op sy wynlandgoed, Louiesenhof, in 2019 was vooraf beplan.

Staatsaanklaer Lecardo Davids voer aan die beskuldigdes het die polisie in die ondersoek na die moord mislei.

Smit se weduwee, Zurenah Smit, en twee medebeskuldigdes, Karel Derek Sait (50) en Steven James Damon (56), het Donderdag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn om aansoek om borgtog te doen. Hulle staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, huisroof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Sait het Donderdag onder kruisondervraging getuig Stefan Smit het hom gehuur om aanvalle en diefstal op sy plaas te ondersoek. Hy is glo ʼn geregistreerde privaat speurder. Sait se broer, Bradley van Eynsland, is ook die hoof van veiligheid op Louiesenhof.

Volgens Sait het Smit dreigemente ontvang wat verband gehou het met een van sy vorige plase, Watergang, wat deur onwettige besetters beset is. Die grondbesetting is glo deur EFF-lede aangehits. Dié grond is intussen deur die munisipaliteit aangekoop en deur die plaaslike gemeenskap tot Azania herdoop.

Zola Ndalasi. Foto: Eunice Stoltz

Volgens Sait se getuienis het twee EFF-lede, by name Zola Ndalasi en Midas Wanana, vir Smit met die dood gedreig en gesê hulle sal die plaas (Watergang) met mening afneem.

Zola Ndalasi het die hofverrigtinge bygewoon en buite die hof teenoor Maroela Media sy verligting uitgespreek dat die saak aangehoor word.

“Ná die dood van mnr. Smit het gerugte versprei dat ek en [Midas] Wanana hom doodgemaak het. Daar was geen bewyse dat ons dit gedoen het nie. Die polisie het ons gereeld ondervra. Ons het geen kommunikasie met Smit gehad nie. Net wanneer hy in die koerant verskyn, het ons hom gesien.”

Ndalasi sê hy gaan ook ʼn saak teen Sait aanhangig maak omdat hy hulle valslik beskuldig het.

Sait voer aan weens die dreigemente het hy juis daarom die polisie versoek om dag en nag sigbare patrollering te doen.

Hy het ook getuig van skynbare polisienalatigheid ná die moord op Smit. Volgens hom het die polisie nie ná afloop van die moord enigiemand getoets vir die hantering van ʼn vuurwapen om buskruit-oorblyfsel te vind nie. Die polisie het ook glo nie die aand van die moord enige getuienisse van die huurders op die plaas afgeneem nie.

Zurenah Smit. Foto: Henk Kruger/African News Agency(ANA)

Die staat meen egter Sait “lieg in die hof”. Davids het tydens die kruisondervraging aan Sait gesê die moord is vooraf beplan en dat hulle die polisie probeer mislei het om hulle te laat fokus op die onwettige grondbesetters.

Davids het Sait uitgevra waarom hy die polisiediens verlaat het. Sait is ná 18 jaar lange indiensneming by die Suid-Afrikaanse Polisiediens oneervol ontslaan. Dit volg nadat daar dagga in sy besit gevind is. Hy is ook voorheen van gewapende roof aangekla.

Die borgtogaansoeke duur vandag voort. Intussen blyk dit dat Zurenah glo nie in goeie gesondheid is nie. “Sy is sedert Maandag drie keer na ʼn mediese fasiliteit geneem vir behandeling,” het Ebrahim Omar, ʼn lid van Zurenah se regspan, gesê.

Daar is voorheen berig Zurenah is Maandagoggend in hegtenis geneem vir die moord op haar man. Sy het verlede week die polisie ontwyk nadat lasbriewe vir die drie beskuldigdes bekom is. Sait en Damon is egter verlede Donderdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem.

Die Louiesenhof-wynlandgoed. (Foto: Eunice Stoltz)

Sait, Damon en Zurenah was ten tyde van die moord op die wynplaas. Stefan Smit en Zurenah het in die vroeë 2000’s ontmoet toe sy op die wynplaas begin werk het. Hulle is in 2005 getroud.

Volgens ʼn inwoner wat ʼn kothuis op die plaas huur, en ook steeds op die plaas werk, woon die hoof van sekuriteit, Bradley van Eynsland, wat ook ten tyde van Smit se moord die hoof van sekuriteit was en Sait se broer is, tans in die herehuis, terwyl familielede van Zurenah in die voorste huis, wat die gastehuis was, woonagtig is.

Smit is verlede jaar op 2 Junie skuins voor 19:00 op die wynplaas doodgeskiet toe vier gewapende mans deur ʼn oop deur toegang tot die plaashuis verkry het.

Zurenah het die aanval oorleef.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Thea ·

Die vorige fotos van Mnr Smith en hierdie foto op hierdie berug lyk vir my gladnie dieselfde nie. Hierdie is defnitief lankal beplan. So hartseer om te sien dat hy met al die stres van die grondbesetters gesit het terwyl sy vrou agteraf planne gemaak het om hom te vermoor. Wat ‘n skande!

Snowball ·

Absoluut diabolies om so saam te sweer om moord te pleeg.

Hannelie ·

Klink of die man met die verkeerde mense deurmekaar geraak het….en ja, in hierdie foto lyk hy soos n heel ander persoon as in die vorige fotos???

Chris ·

Wat kan mens nog meer se? In die meeste gevalle van iemand wat vermoor word, ken die slagoffer die moordenaar. Die geval is nie anders nie. Die “eggenote” kon nie wag dat die man nie meer daar is nie en het hom maar voortydig uit die lewe gehelp. Sy kan dalk gestraf word maar die gewete gaan haar kom looi, indien sy een het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.