Louiesenhof-moord: Nog aanklagte teen weduwee, beskuldige

Zurenah Smit. Foto: Henk Kruger/African News Agency(ANA)

Nog aanklagte is Vrydag in die Stellenbosch-landdroshof teen die weduwee van die vermoorde wynboer Stefan Smit en ’n medebeskuldigde gebring.

Zurenah Smit en Karel Derek Sait word nou ook van diefstal asook die onwettige besit van ammunisie en vuurwapens aangekla.

Zurenah, Sait en Steven James Damon se borgtogverhoor het vandag hervat. Hulle staan tereg op onder meer aanklagte van sameswering om moord te pleeg ná die moord op Smit in 2019.

Sait het Donderdag onder kruisondervraging onder meer getuig Smit het hom gehuur om aanvalle en diefstal op sy plaas te ondersoek en om eindelik ʼn risiko-assessering op te stel.

In vandag se kruisondervraging het die staatsaanklaer Lecardo Davids ʼn lys van Sait se vorige oortredings bekend gemaak. Van die oortredings gaan sover terug as 1997 en sluit onder meer gewapende roof in asook motorkapings in die omgewing van Melkbosstrand, Kraaifontein en Bellville-Suid. Sait meen dié sake is toe reeds teruggetrek.

Davids het ook aangevoer dat Damon ʼn bekentenis ten opsigte van die moord gemaak het. Hy voer aan Damon het hom en Sait direk by die moord betrek met die woorde dat hy sy vuurwapen twee keer afgevuur het terwyl Sait ook geskiet het. “I shot twice, he shot also,” het Davids vir Damon aangehaal. Sait het kortliks hierop geantwoord dat dit beskuldigde twee se weergawe is, en nie syne nie.

Stefan Smit. Foto: ANA

Die motief vir die moord op Smit was finansieel gedrewe, het Davis aangevoer. Volgens die staat sou elke betrokkene R2 miljoen ontvang asook ʼn gedeelte van die grond op Louiesenhof. Davids het die getuie herinner aan die beweerde vervalste testament wat tans in die hooggeregshof in Kaapstad betwis word. Dit hou verband met Smit se laaste testament wat sy twee dogters beweer vervals is.

Sait het egter aangevoer dat hy nie enige kennis hiervan dra nie. Verdere getuienis in die borgtogverhoor is tot Woensdag uitgestel.

Jan van Heerden, ’n lid van Zurenah Smit se regspan, het voor die hof gesê sy kliënt ly aan ’n ernstige mediese toestand en het mediese versorging nodig. Van Heerden het die hof versoek om dit te oorweeg om ʼn aanbeveling te maak dat sy vir mediese assessering en behandeling kan gaan.

Die staat het nie die versoek teengestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.