Louis (23) steeds kritiek ná gru-botsing; nog operasies wag

Louis Esterhuizen (Foto: Facebook)

Die 23-jarige Louis Esterhuizen is steeds in die waakeenheid van ʼn Gautengse hospitaal nadat ʼn grusame botsing op 4 Maart die lewe van sy 20-jarige meisie geëis het en hom in ʼn kritieke toestand gelaat het.

Maroela Media het vroeër berig Esterhuizen en sy meisie, Michelle Brits, was op pad terug na Brits se ouerhuis toe die botsing sowat 10 km buite Bronkhorstspruit op die Bapsfonteinpad plaasgevind het. Karen Shrives Demeyere, ʼn nabye vriendin van die twee jong mense se gesinne, het vertel die twee was glo net verby die weegbrug op dié pad toe hulle reg van voor met ʼn bakkie gebots het. Brits is op slag dood. Twee insittendes in die bakkie, glo ʼn man en ʼn vierjarige dogtertjie, is ook dood.

ʼn Soektog is ná die ongeluk na Michelle se hond, Sammy, van stapel gestuur. Sammy was saam met die twee in die motor ten tyde van die botsing en was vir twee dae daarna vermis. Sy is later by ʼn diereskuiling gevind en is tans by Brits se ouers.

Betty Klynsmith, Esterhuizen se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit “gaan baie beter” met hom.

Louis Esterhuizen en Michelle Brits (Foto: Facebook)

Volgens Klynsmith het Esterhuizen Woensdag ʼn suksesvolle operasie aan sy been ondergaan. Dit was volgens haar die vierde groot operasie wat hy sedert die ongeluk ondergaan het. Sy sê hy sal Vrydag weer ʼn operasie aan sy arm ondergaan en is ook geskeduleer om Maandag ʼn operasie aan sy gebreekte tone te ondergaan.

In ʼn inskrywing op die Help for Louis Esterhuizen Facebook-blad, wat vroeër geskep is om weldoeners in kontak met die familie te sit en vordering oor Esterhuizen se toestand te gee, het die familie geskryf: “Louis is met tye wakker en luister as sy ouers met hom gesels. As gevolg van die pype in sy keel kan hy nie terug gesels nie. Dit gaan goed onder omstandighede. Dankbaar vir die Here se genade.”

Klynsmith het weldoeners ook bedank wat intussen hul harte én beursies oopgemaak het om die gesin by te staan. Esterhuizen se familie het voorheen om finansiële hulp gevra omdat hy nié ʼn mediese fonds het nie. Altesaam R100 000 is benodig sodat hy aanvanklik net gehospitaliseer kon word en dan behandel kan word. Intussen het donasies van dwarsoor die land ingestroom.

“Dankie vir elke donasie en gebed,” het die familie op hul Facebook-blad geskryf. “Hou asseblief U beskermde hand oor Louis en bewaar hom. Raak asseblief vir Louis aan en gee sy ouers krag om saam met hom die pad van herstel te stap.”

Die familie wou nie in dié stadium verder oor die voorval en Esterhuizen se vordering uitbrei nie. Weldoeners wat hulle wil ondersteun, kan die Facebook-blad Help for Louis Esterhuizen besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.